Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die fliek Doubt (2008) vertel die verhaal van ’n Katolieke skool in New York in 1964, waar ’n gewilde priester daarvan verdink word dat hy ’n onbehoorlike verhouding met ’n jong seun in die skool het. Die verhaal wentel rondom ’n sentrale waarheidsvraag: Is die priester skuldig of onskuldig? Die skoolhoof, wat ’n non is binne dieselfde gemeente as die priester, huldig die mening dat hy wel skuldig is, hoewel sy geen konkrete bewyse vir haar aanvoeling het nie. Ander karakters is weer minder seker, of minder besorgd oor die priester se (on)skuld.
Uiteindelik word dit aan die kykers oorgelaat om self hieroor te besluit, want die fliek doen tot aan die einde van die verhaal sy naam gestand. Daar word geen klinkklare antwoord gebied op die vraag na die waarheid nie. Eerder vind waarheidsoeke, in hierdie fliek, plaas binne die eg menslike en uiters komplekse werklikhede waarbinne die verskillende karakters hulleself bevind. Sommige tree vanuit hulle persepsie van wat die waarheid is, en vanuit die blote moed van oortuiging, op. Ander tree gewoon uit die gesprek.
LEES OOK: Die geskenk van swakheid
Tog sou hierdie fliek ons nie net kon laat nadink oor waarheid en die aard van waarheidsoeke nie, maar ook dieper kon laat besin oor die gevaar van onsin. Wat word versin in die magstryd tussen die priester en die skoolhoof, en wat is waar en reg en goed? Anders gestel, wie wend ’n doelbewuste poging aan om die ander te diskrediteer, en wie se integriteit is bo verdenking? Wie kan ons vertrou, wie moet ons glo, en wie probeer ons ’n rat voor die oë draai? Terwyl waarheidsoeke onderweg is, hoe gedra die verskillende karakters hulle?
In sy gewilde opstel On bullshit (2005), wat sy latere werk On truth (2006) sou voorafgaan, skryf die Princeton-filosoof Harry Frankfurt oor die aard van onsin, nonsens, bog, of snert. Hy begin sy opstel deur op te merk dat die tyd waarin ons leef gekenmerk word – opvallend so – deur ’n oorweldigende hoeveelheid nonsens. Elkeen van ons dra hiertoe by, argumenteer hy, sodat geeneen kan aanvoer dat hulle hoegenaamd geen aandeel hieraan het nie; maar ook leef die meeste mense met die selfversekering dat ons nonsens kan uitken en nie daardeur gebluf of onkant gevang sal word nie.
As sulks het ons geen duidelike verstaan van wat onsin is, of waarom daar soveel daarvan is, of watter doel dit verrig nie, want ons dink dat ons dit ken en verstaan en kan hanteer.
Wat is onsin? Onsin is nie so eenvoudig soos leuens of onwaarhede nie, meen Frankfurt. Leuens word immers georiënteer deur waarheid; die waarheid veranker die gesprek oor wat nié waarheid is nie. Trouens, leuenaars is diep bewus van waarheidswaardes, en moet ’n leuen posisioneer ten opsigte van waarheid. Hierin lê ’n belangrike verskil tussen leuens en onsin, tussen leuenaars en diegene wat pendel in nonsens.
Onsin hoef op geen wyse veranker te word in waarheid of leuens nie. Dit is bloot ’n strategie.
Volgens Frankfurt is dit onmoontlik om te lieg behalwe as ’n persoon dink dat hy weet wat die waarheid is. Die skepping en verspreiding van onsin – dink aan die verskynsel van fopnuus, byvoorbeeld – het niks te make met die feite of met die waarheid nie. Feite, waarheid, selfs leuens, maak geen verskil aan onsinsmouse nie; want “all these bets are off: he is neither on the side of the true nor on the side of the false. His eye is not on the facts at all, as the eyes of the honest man and of the liar are, except insofar as they may be pertinent to his interest in getting away with what he says describe reality correctly. He just picks them out, or makes them up, to suit his purpose.”
LEES OOK: Noem dit genade
Juis omdat onsinsmouse – anders as leuenaars – nie die gesag van die waarheid ontken of teëstaan nie, maar hulleself gewoon geensins daaraan steur nie, is onsin ’n groter vyand van die waarheid as wat leuens is, meen Frankfurt. Dit is juis die roekeloosheid, sorgeloosheid, argeloosheid waarmee daar omgegaan word met sowel waarheid as onwaarheid wat onsin uiters gevaarlik maak – ook binne die kerk as waarheidsoekende gemeenskap.
In die bekende gesprek tussen Jesus en die Fariseërs oor belasting (Lukas 20:20-26), en aan wie dit toekom, word daar opgemerk dat Jesus deur hulle uitgeslapenheid – die Griekse woord is panourgia (vers 20), hulle ‘slimstreek’ (Nuwe Vertaling) of ‘listigheid’ (Ou Vertaling) – gesien het. Die Fariseërs probeer Jesus vastrek of uitoorlê met ’n strikvraag. Die vraag het niks te make met waarheid nie, en Jesus hanteer dit vir die onsinnigheid wat dit is.
Die ongetraaktheid van persone wat gewilliglik, en in blatante weerwil van feite en waarheidsoeke, onsin skep, versprei, en verdedig, is allesbehalwe onskadelik. Daarom behoort die gevaar van onsin – ook binne die kerk – nie onderskat te word nie.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is lid van die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.