Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Noem dit genade

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In die boek The Horse Whisperer (1995), wat later ook verfilm is, word die verhaal vertel van ’n jong meisie, Grace, se tragiese ongeluk met haar perd, Pilgrim. Sowel Grace as Pilgrim is na die ongeluk getraumatiseerd, beide fisiek en emosioneel. Veeartse raai die familie aan om Pilgrim uit te sit; benewens sy fisieke wonde is hy aggres­sief en gevaarlik teenoor mense. Die 13-jarige Grace verloor haar been in die ongeluk, sy weier om skool toe te gaan, en spreek uiteindelik die wens uit dat sy – saam met haar perd – uitgesit kan word. Deur die loop van die verhaal, en met die hulp van ’n perdekenner, word die stadige reis van genesing aangepak: nie net deur Grace, en haar perd Pilgrim, nie; maar ook talle ander karakters in die verhaal.

LEES OOK: Genade-teologie troef altyd ’n ‘ja, maar’-teologie

Ek dink baie keer terug aan hierdie aangrypende verhaal uit die pen van Nicholas Evans, wat nie net tragies begin nie maar (in die boek) ook tragies eindig, en dit val my elke keer op dat die hoofkarakter se naam juis ‘Grace’ – genade – is. Die tragedie(s) is niemand se skuld nie; dit is ’n fratsongeluk, gewoon ’n sameloop van (ongelukkige) omstandighede. ’n Kwessie van op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd wees. En tog … Grace?

In haar boek, met die titel Call it grace (2019), skryf die Amerikaanse teo­loog Serene Jones oor ons pogings om betekenis te vind in ’n gebroke wêreld. “Mense vra my, as ’n teoloog, dikwels of ek glo in God,” skryf Jones. Tog weet sy nie of juis hierdie vraag die belangrikste vraag is wat ons onsself – en mekaar – kan afvra nie; veral nie wanneer daar die verskriklike moontlikheid bestaan dat ons voorbeeldig-vroom dog genadeloos-gelowig kan leef nie. Kan ons oor God praat sonder om oor genade te praat? Al kán ons ook, behóórt ons dit te doen? Genade is immers daardie onverstaanbare en on­weer­staanbare geskenk van God, ver­duidelik Jones, wat onverdiend – gratis, ongevraagd selfs! – na ons kant toe kom. En omdat genade van God alleen is, skryf sy, wen genade altyd uit. Maar wat beteken dit tog?

In ’n preek oor Romeine 5:20, argumenteer die Duitse teoloog Paul Tillich dat genade beteken: Jy is genoeg. Dikwels meet ons genade aan ons morele self-beheer, skryf hy, of ons morele status binne die kerk. Tog waarsku hy dat hoewel morele vooruitgang ’n vrug van genade sou kon wees, dit nog nie die genade self is nie. Trouens, ons morele self-ingenomenheid en morele eie-waan sou selfs die uitwerking van ge­na­de kon hinder, maan Tillich. Genade kom immers op vreemde, onverwagse, onvanpaste, ontydige, onwaarskynlike wyses na ons toe: dikwels wanneer ons ook nie juis ingenome of tevrede met onsself is nie (al is ander dit ook – of nie); dikwels wanneer ons in pyn, rus­teloosheid, betekenisloosheid, alleenheid, skuld, vervreemding, walging selfs!, met onsself saamleef.

Tillich skryf: “Grace strikes us when we are in great pain and restlessness. It strikes us when we walk through the dark valley of a meaningless and empty life. It strikes us when we feel that our separation is deeper than usual, because we have violated another life, a life which we loved, or from which we were estranged. It strikes us when our disgust for our own being, our indifference, our weakness, our hostility, and our lack of direction and composure have become intolerable to us.”

LEES OOK: ‘Ons het altyd ’n klomp genade nodig’

In ’n wêreld, en in ’n tyd, waarin ons waarde getel en gemeet word aan dit wat ons kan bybring: dit wat ons vir ons werkomgewings kan produseer, dit wat ons vir ons gesinne en families kan voorsien, dit wat ons vir ons vriende kan beteken – dalk selfs dit wat ons vir die kerk kan doen en wees en gee en gee – is die logika van genade vreemd. En tog … Grace?

Genade tref ons wanneer ons in hierdie maalkolke en dwarswinde vasgevang word. Die evangeliewoord van Godsgenade is dat ons aanvaar word, dat ons genoeg is, sonder dat ons enig­iets in ruil daarvoor vermag, sonder dat ons dit verstaan, sonder dat ons dit verdien, sonder dat ons dit verklaar. Ge­nade vra geen morele of intellektuele magstoertjies van ons nie. Ons kan onsself nie forseer om onsself te aanvaar nie, skryf Tillich, net soos wat ons nie ander kan forseer om ons te aanvaar nie. Ons kan net aanvaar dat ons Godsaanvaardes is. Genade lyf ons binne ’n gro­ter verhaal in, waarin dit wat verwerplik is aanvaar word. Genade is die terugkeer – en terugkoms – van lewe tot lewe. Dit is lewe wat met ditself herenig word.

Dalk sou hierdie terugkeer – van le­we tot lewe – saamgevat kon word met die aangrypende lirieke van die lied “Lugballon” (deur “Musiek Soos Grond”):
Jy is genoeg,
jy is genoeg.
Jy is genoeg
sonder dat jy te hard probeer.

In Christus word ons onvermoë, onverdraagsaamheid, en onvergenoegdheid deur­breek.

Noem dit genade.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.