“Ons het almal ’n klomp genade nodig”

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Op 14 is hy toegesluit vir moord, maar dit is net ’n klein deeltjie van sy verhaal.

Ivor Swartz is ’n man met ’n groot storie, die tipe storie wat vandag oral in Suid-Afrika mense se lewe verander.

Hy is vroeër die jaar by NG Oosterlig bevestig as deel van die leraarspan. Ivor sê dat hy baie waardering het vir die “gracious manier” waarop hulle hom en sy vrou deelgemaak het van die span.

“Oosterlig het gevoel hulle weet nie presies waarheen die Here hulle wil vat as ’n gemeente nie, maar van een ding was hulle seker: Hulle wil deel wees van wat in Suid-Afrika aan die gang is. Hulle het besef hulle kan nie net weer mense wat soos hulle lyk, mense uit hulle eie geledere, mense wat uit hulle eie kweekskole kom … deel maak van die span nie, hulle kort diversity.

“Die beste manier om jou blind-spots te kan raaksien is om iemand in te bring wat nie soos jy kyk en lyk en lees en hoor nie, en ek dink dis ’n groot rede waarom hulle my deel van die span gemaak het.”

Ek hou Ivor al vir ’n paar jaar dop. Dit is asof hy dinge raaksien wat die res van ons maklik mis. Ons het sy oog nodig en hy is goed met woorde.

Jaco Strydom skryf ’n gereelde rubriek vir Kerkbode.

Ivor is nie bang om die status quo te konfronteer en uit te daag nie, nie in sy artikels vir ekerk en ander publikasies nie, nie op sosiale media nie en nie in sy aangrypende gedigte nie.

Sy outobiografie, Die verlore seun vannie Gaatjie, word later vanjaar deur Lux Verbi uitgegee en hy is besig om ’n klomp van sy gedigte, wat hy noem, “skollie-psalms”, met die oog op ’n bundel bymekaar te sit.

“Wat is die Gaatjie?” vra ek.

“Die ghetto. Ons almal is een enkele besluit weg van ’n varkhok-experience af, een misstap, en dis net die genade wat vir my en jou nog op die pad hou, die Gaatjie is daai varkhok-experience, die verkeerde besluit op die verkeerde oomblik.”

Dit was in die tyd toe Ivor in Kaapstad was, besig om teologie te studeer, dat hy Nadine ontmoet het, wat sy vrou sou word. “Sy kom uit ’n tipiese Afrikaanse huis, as jy kan dink aan jou klassieke wit, konserwatiewe, NG Kerk-boksie is dit sy,” sê hy en voeg dan by: “En sy mind nie as ek dit sê nie.”

Ivor word gereeld genooi om by skole te praat, nie net met die kinders nie, maar veral ook met die onderwysers.

“Juis omdat ’n juffrou so ’n groot impak op my storie gehad het, het ek ’n passie om onderwysers te herinner dat hulle werk ’n roeping is,” sê Ivor.

Met sy vyftiende verjaarsdag was hy reeds ’n paar maande in die tronk na hy en ’n ander seun in ’n bende waarvan hy deel was, sy ouer broer geskiet het.

Die ouer broer, reeds in sy twintigs, het ’n skrikbewind op Grabouw gevoer, almal was bang vir hom. Hy is ’n paar dae later in die hospitaal oorlede.

Ivor vertel hoe hy deel geword het van die 26’s (bende) in die tronk. Op ’n dag rand hy ’n ou aan en word vir sy straf in ’n isolasiesel toegesluit.

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê Ivor. “Een van die juffrouens het my in my alleen-sel besoek en die woorde van ’n Robbie Williams-liedjie aangehaal: ‘I got so much life running through my veins going to waste’. En daai Juffrou gebruik daai song op daai oomblik om te sê, daai is jy! Jy het soveel lewe en talen­te wat God in jou geplaas het, en jy mors dit met die nommers, imagine wat kan gebeur as ons daai goed omskep in ’n force for the good. En sy skryf my toe in vir matriek, en dit het my hele lewe ver­ander.”

Ivor vertel hoe hy na meer as vyf jaar se tronkstraf uiteindelik vrygelaat is. Dit was skrikwekkend. Hy sê hy het in die eerste paar maande na sy vrylating dikwels meer eensaam gevoel as in die isolasiesel in die tronk.

PODSENDING: Kliek HIER om te luister na Jaco se gesprek met Ivor

Die mense in die gevangenis wat hom voorberei het vir die vrylating het gesê as hy nie weet wat om te doen nie, is dit altyd ’n goeie idee om ’n kerk op te soek. Ivor het onthou van sy oorlede ma se kerk in Grabouw se plakkers­kamp.

“Gerhard en Ammie Coetzee, ’n wit Afrikaanse couple het die kerk begin. Hulle het in 1993 geglo die Here wil hê hulle moet in dié plakkerskamp in Grabouw gaan bly, om die kinders te help grootmaak. Hulle het kids-clubs gehad wat kos en Bybellesse gegee het vir meer as 700 kinders, en toe ek klein was, was ek ook deel daarvan.” Die Coetzees woon vandag steeds daar.

Gerhard en Ammie het Ivor met ope arms ontvang en hy het begin inskakel by die kerk.

“Die dag toe ek daar by hulle tot be­kering kom, bring iemand vir my ’n gebedsbak vol sticky notes. My naam was op een van hulle gewees! Ek kon dit nie glo nie. Hulle het vir my gesê: Jou ma het ons laat belowe ons moet elke liewe dag vir jou bid, en ons het.”

Ivor is vandag diep in sy dertigs, hy en Nadine is hierdie jaar vyf jaar getroud, sy oë blink as hy praat oor die mense wat God oor sy pad gestuur het.

“Die grootste leuen is dat ons ‘self-made’ is,” sê hy. “Ons het almal mense om ons en ’n klomp genade nodig.”

One thought on ““Ons het almal ’n klomp genade nodig”

  1. Annette Naude says:

    Ivor, God is Groot!
    Daar is baie werk vir jou op die koringland. Watter voorreg dat jy soveel mense kan bereik wat die hoofstroom net uitskop.
    Shalom

Comments are closed.