Genade-teologie troef altyd ’n ‘Ja, maar’-teologie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die hart van die Christendom lê nie by uitsluiting of afgrensing nie, skryf Christo Lombaard.

Daar is ’n paar argumente binne die Christendom wat ’n mens darem nie maklik kan bou nie. Al is dit ’n hele paar keer al probeer.

Soos byvoorbeeld dat die Bybel nie sentraal moet staan nie. Daar is wel gelowiges wat sonder die Bybel glo, maar dit is ’n rare verskynsel. Vir die meeste gelowiges is die Bybel, hoewel self nie God nie, ’n onontbeerlike deel van die Godsverhouding. (Hierby skaar ek myself.)

Of byvoorbeeld dat God nie bestaan nie. Daar is inderdaad ’n piepklein groepie Christene wat sonder ’n Godsbelydenis hulleself onlosmaaklik as Jesus-volgelinge verbind, maar dit verg kopspronge wat vir die meeste gelowiges onhoudbaar lyk. Die dáár-wees van God as nie net ’n groot idee nie maar as ook ’n werklikheid, is vir verreweg die meeste Christene gewoon ’n gegewe. (Hierby skaar ek ook myself.)

Of byvoorbeeld dat die evangelie nie vir almal ewe is nie.

Laasgenoemde argument eggo minstens onderlangs deur onder andere die gesprekke tussen verskillende godsdienste heen, en binne die kerk-en-staat-verhoudingsalternatiewe. Maar om bínne die kerk – dit wil sê, binne die geloofsgemeenskap van mense wat hulleself geheel aangeneem en opgeneem vind binne die Bybel-Drie-eenheid-Gods- en naasteliefde heelal – te wil sê wie is meer aanvaarbaar voor God as wie, loop sigself altyd tromp-op vas teen presies daardie heelal. Binne die Bybel-Drie-eenheid-Gods- en naasteliefde heelal is almal welkom. (Hierby skaar ek myself eweneens.)

Die stryd oor wie voor God en dus binne die geloofsgemeenskap aanvaarbaar is, loop die ganse Joods-Christelike geskiedenis deur. Binne die Ou Testament sien ons byvoorbeeld die debat tussen die Moses-aanhangers (wat glo, ons vind God ten beste deur die Skrif) en die profete-aanhangers (wat glo, ons vind God ten beste deur direkte openbaring). In die Nuwe Testament, sien ons byvoorbeeld die verwikkelde stryd: Is Christus se betekenis primêr vir Jode, of eweneens vir nie-Jode? Primêr vir mans, of eweneens vir vroue? Primêr vir vryes, of eweneens vir slawe? Primêr vir volwassenes, of eweneens vir kinders?

Dikwels bly die antwoorde op hierdie vrae implisiet, sonder ’n gebod wat gebulder word, maar die praktyk wys: By God, by Jesus is almal volledig welkom.

Dade trek …

Teologies lê hieragter die genade-teologie, waarsonder die Christendom op geen manier kan bestaan nie; wat altyd almal weer nooi. Hoe swaar die ander kompeterende teologieë ookal weeg, hulle “Ja, maar”-teologie is altyd te lig bevind teenoor die genade-teologie. En so sal dit bly. Binne die Gods- en naasteliefde heelal lê die gelykenis van die barmhartige Samaritaan aan die hart. Elke “Ja, maar”-alternatief daarop is ’n tree weg van die hart van die Christendom.

Tog sukkel mense binne die kerk dikwels om aan hierdie hartsgelykenis getrou te bly. Hoe lank het die kerk aan slawerny as Godswil bly vashou? Aan die uitsluiting van rasgroepe? Aan die verkleinliking van vroue?

Daar is nou maar eenmaal argumente binne die Christendom wat ’n mens darem nie kán bou nie. Al is dit probeer. En elke keer was dit inherent on-Christelik.

Dieselfde nou weer, wêreldwyd die afgelope dekades, en fél die afgelope dae binne die NG Kerk, rondom gay-wees.

Dieselfde belewenisargument is in hierdie geval net so geldig as met die ander sake hierbo genoem: ’n Mens hoef nie self ’n slaaf te wees om aan te voel hoedat slawerny alles verraai wat Christelik is nie. Dit is nie net swart mense wat raaksien hoedat rasse-uitsluiting in ’n kerk on-Christelik is nie. Nie net vroue weet hoedat geslagseenkantigheid indruis teen Jesus-volgeling wees nie. En ’n mens hoef nie gay te wees om, presies net so, te besef hoedat om téén gay-wees te werk in die kerk, net nie pas by gelowige-wees nie.

In al hierdie gevalle was daar eeue-lange kerkgebruik wat die verkeerde ding gedoen het. (Sondaars, almal. Wat sonder die genade net nie kan nie. Soos ons.)

Net so, is telkens Bybelverse bygehaal, naamlik om te sê, “Ja, maar …”.

Want in elkeen van hierdie gevalle, lê die gesprek reeds daar in die Skrif, in die kerk der eeue en in die samelewing. Die debatte oor wie in die kerk voor God meer waardig sou wees as ander, kom gereeld weer draai.

En telkens is die uitkoms implisiet, sonder ’n bevel wat gebulder word, maar met die praktyk wat uiteindelik wys: By God, by Jesus is almal volledig welkom.

Dade trek …

************************************

Om dié genade-teologie uit ’n ander hoek te beskryf:

In Europa tans, moet groot dele van daardie vasteland ’n breëre diversiteit hanteer as waarop die mense intellektueel, emosioneel of kultureel voorbereid is. Binne die nasionalisties-georiënteerde groepe daar vind ’n mens redelik gereeld ’n grype na ’n Christelike identiteit. Die argument is dikwels iets soos, “Maar ons is ’n tradisioneel Christelike land”, en daarom moet ons – noem maar op – immigrante van ander lande, van ander vastelande en met ander gelowe en gebruike hier uitweer. Ons grens onsself af.

Die ironie is dat die hart van die Christendom nie lê by uitsluiting of afgrensing nie. Die Jesus-gebeure nooi juis almal in. Logieserwys sou die argument dus iets moes wees soos, “Ons is ’n tradisioneel Christelike land”, en daarom moet ons immigrante van ander lande, van ander vastelande en met ander gelowe en gebruike hier welkom heet.

Dat dit ’n gesukkel is, ontken niemand nie. So is die mensdom.

Maar as jy sentraal aan jou wese vind die heelal van Gods- en naasteliefde, met as kern-gelykenis die barmhartige Samaritaan, dan wys jy nie weg nie. Jy nooi in. Met ’n verwelkomingsbeker koffie. En brood en wyn.

************************************

Om die genade-teologie nogeens anders te beredeneer:

Wat my bly verbaas, is hoedat mense wat só sleg hanteer is deur maghebbers en/of magsoekers en/of soms ketterjagters binne die Christelike geloofsgemeenskap, nie die geloof verloor het nie. Dit sluit in kerkmense met slawe-erfenis of ’n rasverdrukkingsgeskiedenis, vroue en gay mense, wat hulleself steeds fundamenteel, onlosmaaklik bly verbind aan die Bybel-Drie-eenheid-Gods- en naasteliefde heelal. Op ’n manier red sulke gelowiges die kerk, vir dié van ons wat ook net uit die genade leef en glo.

Hierin lê vir my ’n persoonlike ironie: dat dit meestal mense is wat soos ek lyk wat die geloof van buite aanval – wit heteroseksuele mans met genoeg van als wat ’n mens mag gee. En meestal is dit ook binne die kerk mense met dieselfde profiel wat ongenadige teologie probeer worsstop die kerk ín. Ek kry min van geloofswaarde by sulke mense. Ek glo makliker, meer en beter weens “kerkmense met slawe-erfenis of ’n rasverdrukkingsgeskiedenis, vroue en gay mense, wat hulleself steeds fundamenteel, onlosmaaklik bly verbind aan die Bybel-Drie-eenheid-Gods- en naasteliefde heelal”.

Om hét ewe is dit.

  • Christo Lombaard is Navorsingsprofessor: Christelike Spiritualiteit aan Unisa. Sy doktorsgrade is in die Kommunikasiekunde (NWU) en Ou-Testamentiese Teologie (UP).
Word 'n vriend van Kerkbode

6 thoughts on “Genade-teologie troef altyd ’n ‘Ja, maar’-teologie

  1. Philip Coetzee says:

    Christo, baie wat jy skryf maak sin. Ek wil graag oor een begrip met jou verskil: genade teologie. Genade is vir almal wie dit ontvang en ook daarna soek, Christus het aan die kruis gesterf vir almal, genade. Nou bring ek ñ MAAR in: om genade te verstaan en dit eie te maak in jou eenheid met God, moet daar ñ bekerings orentasie of gedrags verandering in jou lewe plaasvind Efesërs 4:23, 24. Daarom moet die kerk se deure oop wees vir almal sodat daar ñ lewe kans gegun kan word vir sondebesef en belydenis. Dit is baie belangrik dat daar geen veroordeling vanaf kerkverband of enige ander platform mag geskied nie. Dus is dit so belangrik dat kerkleiers nie genade en bekering in afsondering van mekaar plaas nie, maar as onafskeidbare van mekaar wat hulle is ñ “identiese tweeling”.

  2. Pine Pienaar says:

    Christo, ek vind dit vreemd dat pro-gay mense altyd probeer “anti-gay” mense veroordeel vir hul saak teen die “mens”. Ons het niks teen die sondaar nie. Die persoon benodig dieselfde genade wat ons nodig het. Hier kom dit….maar, soos ek mý sonde moet bely EN laat staan, moet daardie persoon dieselfde doen. Jy kannie sê jy is jammer maar dan net voortploeter met die sonde wat jy sopas bely het nie….miskien verstaan die twee groepe die woorde van Jesus verskillend… “gaan heen en sondig nie meer nie”. Kom julle nie agter dat julle altyd ‘n foutiewe beskuldiging maak nie?Sonde vs Sondaar. Of is dit ‘n geval dat julle nie kán onderskei nie?

  3. WILLEM BAKKES says:

    Genade. Dis al wat ek vra. Ek wil ook asem haal en lewe. God is vir lewe en dit in oorvloed. Chriso is reg, enige maar stap weg van die hart van die goeie boodskap. God het my uitverkies toe ek geweef is in my moeder se skoot. Ek is gedoop. Ek het belydenis van geloof afgelê. Alles is net genade. Uit dankbaarheid lewe ek in liefde. Gay diskwalifiseer my nie, ek is net meer kwesbaar. En ek het Christus se heil meer nodig.

  4. Stefaan de Jager says:

    Jesus in gesprek met die owerspelige vrou (Joh 8}.

    Genadelose-teologie:
    Die kerk met `n fundamentalistiese, wettiese teologie lyk só: Jy kan by ons aansluit maar jy moet eers jou sonde laat staan. Hier word die klippe opgetel om die sondaars mee te gooi.

    Goedkoop genade-teologie:
    Die kerk met `n liberale, wettelose teologie lyk só: Jy kan by ons aansluit sonder dat jy jou sonde hoef te laat staan. Hier word Jesus se woorde gewoonlik subtiel misbruik deur net vas te steek by Sy eerste woorde aan die vrou, “Laat die wat sonder sonde is die eerste klip optel.”

    Duur genade-teologie:
    Die kerk met `n genade-teologie lyk só: Jy kan by ons aansluit net soos jy is. Christus sal jou verander en jy sal nooit weer weggaan soos wat jy gekom het nie. Hier word Jesus se genadeboodskap aan die vrou afgerond met, “Gaan en sondig nie meer nie.” Hierdie is `n duur genade- teologie omdat dit Christus se bloed gekos het.

    Christus se offer sluit nie sonde in nie, maar sluit dit uit.

  5. Die grondliggende mistasting van Christo Lombard is ‘n onhoudbare skeiding of wig wig wat hy plaas tussen ‘n genade-teologie en’ n “ja, maar…” -vorm van teologie. Beide is dieselfde saak met twee kante. Die een kant aanvaar jy die verbondsverpligtinge en die seën wat daaruit voorkom en die ander kant straf en uitsetting as die voorwaardes van die genadeverbond nie nagekom word nie. In hierdie verband verstaan ons dat liefde voorwaardelik is. Dit is dan ook in prinsiepe waarom die dolerende kerke reageer teen die wêrelse eenogig blik op naaste liefde, dat (enige) liefde maar eenvoudig (enige) liefde is.
    DIe liefde van die barmhartige Samaritaan vir ‘n gehate Jood is tot vandag nog die toetssteen van ware liefde. Wie enigsins anders liefhet, het nie waarlik ‘n naaste nie. Gelet moet word is dat die verhouding tussen die twee mans nooit in enige vorm ‘n soort gay-naaste verhouding kan wees nie. Ongelukkig is die soort verhouding vir Lombaard én die Algemene Sinode van soveel belang dat hier noodwendig ‘n vreemde metafoor ingevoeg moet word om die absurditeit daarvan aan te toon. Dit gaan ten diepste om ‘n weersin van ‘n heilige kerk vir so ‘n onrein verhouding. Die doel van Jesus tog met die vertel van die gelykenisse was om die Goddelike status van naasteliefde na vore te bring.

  6. Chael TerBlanche says:

    Willem ek sukkel met die opdrag “Wees heilig, want Ek is heilig.” Dit is veral die verharding in sonde wat dit so bemoeilik. Ondervind jy dit ook, of maak dit nie saak nie?

Comments are closed.