Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die geskenk van swakheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In Charlie Mackesy se lieflike geïllustreerde boek The boy, the mole, the fox, and the horse (2019) is daar ver­al een tekening en gepaardgaande lewenswysheid wat my dieper laat dink: Die seuntjie vra vir die perd: “When have you been at your strongest?” waarop die perd antwoord: “When I have dared to show my weakness.”

Dit het my laat dink aan die Amerikaanse filosoof, John Caputo, se onbe­plande teologiese trilogie oor ’n ‘swak teo­logie’, met die onderskeie titels The weakness of God (2006), The insistence of God (2013), en The folly of God (2015). ’n Kernteks vir Caputo is 1 Korintiërs 1:22-25, waarin sowel die dwaasheid van God as die swakheid van God figureer (die eerste en derde titels van Caputo se boeke). Hierdie gedagtes – oor God se dwaasheid en God se swakheid – is, soos hy uitdruklik uitwys, ontleen aan Paulus se brief aan die Korintiërs. Elkeen van sy drie boeke verteenwoordig ’n poging om Paulus se logika van die kruis te ontgin.

LEES OOK: Geseënd is die taalkunstenaars

In sy boeke is Caputo veral nié geïnteresseerd in wat hy noem ‘sterk teologie’ of ‘hoë teologie’ – daardie ‘bombas­tiese teologie’ wat alleenlik in God se (al)mag en glorie geïnteresseerd is – nie. Veel eerder stel hy belang in ’n teologie van die kruis en ’n logika van weerloosheid en swakheid: die sagter, minder verhewe, minder indrukwekkende, meer gedempte toonaard van wat hy noem ‘teopoësie’. Hierdie ‘diep teologie’ of ‘radikale teologie’ is meer nederig, meer skugter; minder blink, minder selfversekerd, en heel definitief minder gewild. Dit open ruimtes vir vrae, insluitend vrae oor lyding en mag, en weerstaan die versoeking om hierdie ruimtes (af) te sluit – selfs ter wille van ’n gelukkige, goeie einde; dit waarna ons heimlik smag, en wat ons van sowel die stories wat ons kyk of lees as die stories van ons eie lewe verwag.

Caputo voer trouens aan dat dit oneerlik sou wees om die logika van die kruis as ’n slim strategie in diens van ’n teologie van glorie in te span, waarin God en die teologie uiteindelik as wenners bekroon word. Christus aan die kruis sterf immers nie ’n glorieryke skyndood (soos by die dosetisme, byvoorbeeld) nie. Veel eerder verloor Christus die stryd teen dood, pyn, lyding, en Goddelike verwerping aan die kruis. In die Gekruisigde Christus word ons gekonfronteer met die volle omvang van die God wat verloor, die Verloordergod.

Veel eerder kom ons aan die kruis die disabled God teë (volgens die disability teoloog Nancy Eiesland – oorlede in 2009), die lynched God (volgens die swart teoloog James Cone – oorlede in 2018), die dood van Godskind in Godsbaarmoeder (volgens die feministiese teoloog Serene Jones). Elkeen van hierdie beskrywings verteenwoordig teoloë se pogings, vanuit hulle eie ervarings en kontekste, om erns te maak met die betekenis van Christus se marteldood aan die kruis vir ons vandag.

Die dieptepunt van die kruisgebeure vorm deel van die kerk se belydenis oor al die eeue. Ons bely immers saam met Christene die wêreld oor dat ons glo in Christus wat gekruisig is, gesterf het en begrawe is. Die vroeë geloofsbelyde­nisse beklemtoon hiermee dat Christus waarlik, volledig sterf. Vir teologieë wat slegs geïnteresseerd is in wenners, in voor­spoed, in selfverbetering en in ons eie vermoë om onsself te transformeer, in ons potensiaal om onsself te verwesenlik en derhalwe dus in ons inhe­rente goedheid, is so ’n verstaan van die Gekruisigde God weersinwekkend – dalk selfs afstootlik.
(En is juis dit nie die skandaal van die kruis – waarvan Paulus praat – nie? vra Caputo dan.)

LEES OOK: Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk klein gemeenskap

Dalk sou dit noodwendig ook ’n heroorweging van ons beskouing van Godsmag vra. Indien ons meer besorgd is om God op Godstroon te hou, of Godskroon op Godskop te hou, wonder ek of ons in sulke heldhaftige pogings nog, in die woorde van Denise Ackermann, die man op die geleende donkie sal herken. Alreeds by die hervormer Martin Luther sou ’n teologie van glorie, ’n blink en bekwame teologie met antwoorde op alles, vir ’n kerk sonder onsekerhede en mense sonder broos­hede, tot benoudheid en mistroostigheid lei. Vir talle teoloë (voor en na Luther) sou dit veel eerder kruisteologie (dink aan Jürgen Moltmann met sy The crucified God) – die verkondiging van Christus die Gekruisigde (1 Korintiërs 1:23) – wees waarin die goeie nuus van die evangelie veranker is.

Christus se wonde word immers die (bewys)tekens waaraan die dissipels Christus na die opstanding herken. Die opgestane liggaam van Christus dra die merke van die kruisgebeure – onuitgewisse herinnerings aan Gods­lyding, Godsalleenheid, Gods­wakheid, Godsdood – selfs ná die opstanding. Die opgestane Christus is die gekruisigde Christus.

Dalk behoort ons swakheid, broosheid, weerloosheid veel eerder vir die geskenk te ontvang wat dit is – juis omdat die kerk vergader rondom Christus die Gekruisigde. Dalk is die kerk veel eerder die gemeenskap van verloorders as die gemeenskap van wenners. En ons, in die woorde van Koos du Plessis se lied ‘Skimme’, veel eerder
weerlose, weerlose mense,
op reis van perron na perron …

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is lid van die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.