Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Toe vra Jesus vir die teoloë: “Wie, sê julle, is Ek?”
En die predikant antwoord Hom: “U is die eskatologiese manifestasie van ons syn, die aktualisering van die potensiële God-mens-verhouding wat die ultimate waarheid vir elke mens inhou; die kerugma wat op die snykant van die vermenslikingsproses in konflik gemanifesteer word, die paradigma van menslike perfeksie.”
Verstom vra Jesus: “Wát??”
LEES OOK: En wie versorg die versorgers?
In hierdie dae, waarin ons opnuut weer nadink oor die rol van gender in hoe ons dink en praat oor God, moet ons dalk terselfdertyd weer dieper, meer versigtig, met groter erns nadink oor ons taalgebruik: oor watter rol(le) taal vertolk binne die teologie, en binne ons kerklike gesprekke en debatte; en oor hoe (maklik) misverstande ontstaan, en watter mag daar in ons woorde, ons retoriek, ons metafore en beelde – ook ons metafore vir God – opgesluit lê.
Hoe ons praat maak saak. Dit het nog altyd saak gemaak. In elkeen van die Evangelies stel Jesus immers hierdie twee vrae aan die dissipels: Wie sê die mense is Ek? Wie sê julle is Ek?
Ook maak dit saak hoe die kerk oor die eeue, te midde van verskillende debatte en omstandighede, sou antwoord op hierdie vrae. Hoeveel kerklike konsilies het immers nie vir jare lank oor ’n enkele woord – ’n enkele letter, selfs! – gedebatteer nie, juis omdat daar ingesien is dat taal saak maak; dat fyn teologiese onderskeide en nuanses dikwels opgesluit sou lê in die keuse vir die insluiting of uitsluiting van ’n enkele woord (of selfs letter).
As ons mooi daaroor dink, sou ons kon sê dat sommige van die grootste teologiese debatte in die kerk se geskiedenis, ten diepste, konflikte oor taalgebruik was – omdat die kerk altyd ingesien het dat ons nie argeloos, sorgeloos, kan praat oor wat en wie God is en nie is nie.
Dink, byvoorbeeld, aan hoe daar in die vierde eeu oor Jesus Christus se wese gedebatteer is (homoousios of homoiousios), of hoe daar in die elfde eeu gedebatteer is oor die vraag of die Gees slegs vanaf die Vader uitgaan, of vanuit die Vader én die Seun (filioque). Dink aan van die mees invloedryke en gesaghebbende teoloë, soos die kerkvader Augustinus (of, binne die gereformeerde tradisie, teoloë soos Karl Barth en Johannes Calvyn), wat meesterlike retorici was. Ook hulle was diep oortuig daarvan dat taal saak maak binne ons kerklike gesprekke.
In sy boek What is rhetorical theology? (1999) beskryf die teoloog Don Compier retoriek as die (antieke) kuns van oortuiging, en argumenteer hy dat alle teologiese besinning ’n beoefening van retoriek is. Talle teoloë – insluitend figure soos David Tracy, David Kelsey, Hans Frei, George Lindbeck, Serene Jones – sou dan ook geïnteresseerd wees in wat hulle sou noem geloofsgrammatika, die taalreëls of spelreëls vir die geloof soos verwoord in ons geloofsbelydenisse en Christelike leerstellings; en die taalfilosoof Ludwig Wittgenstein se beeld van taal as ’n spel wat gespeel word volgens bepaalde reëls en ’n eie interne logika.
Dit behoort ons te herinner daaraan dat alle teologiese gesprekke nog altyd óók ’n taalspel is met bepaalde spelreëls, grammatika, en ’n eie retoriese dinamika. Daarom die punt dat geeneen van die beelde wat ons vir God gebruik – hetsy persoonlike beelde, soos vader of moeder; of onpersoonlike beelde, soos rots of leeu of beer of arend – is wie God is nie. Die metaforiese afstand maak saak: God is soos ’n vader of soos ’n moeder of soos ’n leeu of soos ’n rots vir ons.
God is altyd meer, altyd groter, as ons taalgebruik vir en oor God.
LEES OOK: Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak
Dit behoort ons tot nederigheid te stem, en ’n groter openheid – en kreatiwiteit en verbeeldingrykheid – by ons te kultiveer in die oomblikke waarin ons dink oor hoe ons praat oor God. Trouens, Augustinus het gemeen dat, in die oomblik wat jy dink dat jy God begryp, dit wat jy begryp allesbehalwe God is!
Want soos wat elke taal verander, en asemhaal, omdat taal lewend is en nie dood en oud en afgeleef nie; so haal geloofstaal ook asem, en kan dit ook verander, en groei, en ons veilige verwagtings en grense uitdaag en druk en ja, selfs verskuif. Die lewende geloofstradisie waarbinne ons geloofstaal veranker is, is immers deel van ’n veel langer, veel dieper, veel groter storie van God met mense.
Dit beteken dat ons geloofstaal baie meer is, en nog altyd was, as bloot ’n ensiklopedie van metafore vir God, of ’n stel wiskundige berekeninge of logiese beginsels vir hoe genade werk.
Dalk is dit veel eerder die digters, die kunstenaars, die skrywers – wat die vermoë het om nie net taal te verstaan nie, maar wat só vermoënd is dat hulle ook daarmee kan spéél – by wie ons in hierdie dae iets kan leer van die God wat altyd groter, altyd meer is, as ons geloofstaal.
Geseënd is die taalkunstenaars.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.