Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk klein gemeenskap

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Deur die groot venster in die gholfklub op Amersfoort se klub­huis kan ’n mens die vaal rookwolke van ’n veldbrand in die verte sien.

“Dis weer sulke tyd,” sê Jan Swart, ’n plaaslike veebemarker. “Hulle begin weer brande stig. Dit gebeur elke winter. Ek dink dis om ons bang te maak.”

Dit kan veediewe wees wat die gras aan die brand steek, onwettige jagters of mense wat die plaasboere van hulle grond af wil hê. Niemand is mooi seker nie, maar hoe meer ek na Jan luister, hoe meer voel dit of ek in ’n soort oorlogsone is eerder as op ’n dorp in die Mpumalangase Hoëveld.

LEES OOK: As ’n preek jou bang en leeg maak

Deon van Zyl, ’n jong boer van die omgewing, het ook pas ingestap en by ons kom sit, met ’n pistool op die heup. Meer as een boer hier rond is in die laaste paar jaar aangeval.

“Daar is oom CP Fourie en Neels Greyling,” begin Jan hulle opnoem. “En oom Kerneels van Rooyen. En Koot van Niekerk …”

“En oom Isak Lambrecht,” voeg Deon by. “En oom Kerneels Beukes …”

“En Natie van der Merwe,” vat Jan weer oor. “En nou oom Hennie.”

Oom Hennie. Hennie Molderhauer wat die week tevore, op ’n Sondag­oggend, op sy plaas deur ’n onwettige jagter vermoor is.

Nóg dorpsmense stap by die deur in en kom sit by ons: Jan se vrou, Lizel, Tinus en Marita de Jager, en ook Deon se pa, Donnie van Zyl, die dorpsdokter. Hulle wil kom vertel.

Hier is ’n moord soos Hennie Moldenhauer s’n iets intiem, iets persoonlik. Almal van hulle het vir Hennie geken. Stil Hennie met die bruin Land Cruiser wat graag gehengel en ’n vleisie gebraai het.

Dr Donnie, ’n ouderling in die plaaslike NG gemeente, was Sondagoggend in die konsistorie voor die diens toe Mokkie, Hennie se vrou, bel en sê: Kom, Hennie is dood.

“Hennie was ’n pasiënt van my,” vertel dr Donnie. “Ek het eers gedink dis ’n hartaanval. Ek sê toe vir een van die ander kerkraadslede: ‘Ry gou saam’.

“Op die plaas ry Mokkie voor ons uit en op so ’n rantjie toe stop sy. Toe staan Hennie se Land Cruiser daar met die deur oop, en die enjin loop nog. Toe ek verby die Cruiser stap, sien ek hier lê Hennie, en ’n ent van hom af lê ’n swart hond dood.”

Hennie het klaarblyklik twee jagters met ’n stuk of ses honde op sy grond betrap en het een van die honde geskiet. Toe is daar ’n bakleiery en skiet een van die mans vir Hennie met sy eie pistool. In die kop.

Almal by die tafel is opeens stil. Buite talm die rookwolke steeds oor die oopte.

Die dorp is nou anders as wat dit eens was: Slaggate in die strate, smouse op die sypaadjies, en die ou Amersfoort Hotel is nou meer shebeen as hotel.

“Ons het darem nog dié plek,” sê Jan. Die gholfklub.

“En die kerk,” voeg dr Donnie by.

Hulle het juis onlangs weer ’n voltydse predikant gekry ná ’n herderlose jaar. Ds Gerhard Green.
Deon glimlag skewerig. “Ek dink dominee Gerhard oorweeg dit om ’n pistool te koop.” Almal hier het vuurwapens. Dis hoe dit is.

Deon bied aan om my in die omge­wing rond te wys. Ons ry die skemer in terwyl hy vertel van die reaksiemag wat hulle gevorm het. Ook hoe hulle onlangs, wit en swart, tonne rommel in die dorp se strate opgetel en op die regte plek gaan weggooi het.

Die onwettige jagtery met honde en veediefstal is ’n groot probleem hier.

Net buite die dorp, op die Standerton-pad, hou Deon stil. “Sien jy daai sojaland?” Hy beduie doer ver. “Dáár het hulle oom Hennie geskiet.” In die oopte. Nie ’n boom in sig nie.

“In die Hoëveld waar dit oop is,” kom Toon van den Heever se bekende gedig by my op. “Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo.”

Die aand bel ek ds Gerhard Green, die dorp se nuwe predikant. Ontmoet my môre-oggend by die Hartland-koffiewinkel, sê hy.

LEES OOK: Nie mense of rommel is weggooigoed

Hartland is die gemeente se koffie­winkel op die kerkterrein by die kerksaal – die enigste koffiewinkel op die dorp. ’n Vrolike plek wat koffie, cappuccino, soetgoed en etes bedien, nes enige ander koffiewinkel.

Ds Gerhard, 36 jaar oud, lyk of hy self ’n jong boer kan wees. Baard. Kortbroek. Hy was voorheen ’n proponent, hierdie is sy eerste leraarspos.

Sondag, toe die nuus van Hennie se dood voor die diens kom, het hy dit liewer nie van die kansel afgekondig nie. Hy wou eers weet hoe Hennie dood is. Netnou spring van die mans in die diens op om te gaan help soek na die moordenaar.

Hennie en Mokkie is in die AGS Kerk, maar hier staan almal saam. Gerhard was ook by Hennie se begrafnis.

“Die mense is paraat.” Gerhard praat sag. “Nie dat hulle roekeloos is nie.”

Hy knik. Ja, hy oorweeg dit om ’n pistool te koop. ’n Paar Sondae gelede het ’n skelm by die pastorie ingekom terwyl hy besig was om aan te trek en sy vrou orrel in die kerk geoefen het. Gelukkig het die man gevlug toe hy Gerhard gewaar. Dit kon anders gewees het.

“Hierdie is ’n ander wêreld.” Gerhard se stem raak nog sagter. “In Pretoria het ek nie die nut van ’n vuurwapen gesien nie.”

Maar hier gebeur baie hoopvolle dinge: Die kerk en koffiewinkel is hier waarlik die middelpunt van die Afrikaanse gemeenskap. Gerhard gaan juis vanmiddag weer help waar die boere ’n mielieland stroop waarvan die opbrengs na die kerk toe kom.

Sondag het hy uit Esegiël gepreek. Esegiël 37 vers 14: “En Ek sal my Gees in julle gee …”

Later ry ek deur die dorp, verby dr Donnie se spreekkamer en Jan Swart se huis. Mense wat hoopvol bly leef, ondanks wat als hier gebeur.

Langs die Volksrust-pad brand die veld en in die bakkie se truspieëltjie sien jy die kerk se toring duidelik deur die rook bokant die huise en geboue uitsteek.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk klein gemeenskap

  1. Marie moll says:

    My man en ek is in Amersfoort se hospitaal, Elsie Ballot, gebore. Hy het in Amersfoort-omgewing grootgeword en ek in Perdekop-omgewing. Na ons huwelik het ons op die plaas Mooifontein gebly. Ons is 21 jaar gelede daar weg weens swak oeste as gevolg van voortdurende droogte. Amersfoort en sy inwoners sal ons altyd na aan die hart lê. Elke mens wat sterf weens ‘n plaasmoord is een te veel. En sedert 2020 het nog n stille moordenaar, naamlik Covid, ook al n hele paar geliefdes kom eis. Weekliks hoor jy van iemand wie jy ken wat die knie moes buig voor die sigbare en onsigbare moordenaars. Mag God ons behoed. Wees veilig en pas julself mooi op. Groete Paul en Marie Moll

  2. Machel Ludik says:

    My pa, Johan Zwiegelaar, het ook op Amersfoort groot geword en later jare na Pretoria verhuis. Wanneer ons ‘n bietjie wou wegbreek, was daar net een plek, hetsy vir ‘n naweek of ‘n week: na Oom Kosie en Tannie Baby du Preez op die plaas. En Oom Bietjie en Tannie Renè het net langsaan geboer. Ek wonder of Paul en Marie Moll familie is van Oom Loutjie Moll – het hom nooit self ontmoet nie, maar my pa het baie van hom gepraat. En van Frans Kuiken. En nog ander wat ek nie eers kan onthou nie, want dis baie jare gelede. Soos my ouma sou sê: vanmelewe se mense.

    Nee, ek ken nie die mense waarvan Dana Snyman in sy skrywe “Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk gemeenskap” skryf nie, maar elke naam wat genoem word klink asof dit familie moes wees en dit laat my hart telkens skeur wanneer ek hoor van die onnodige, gewelddadige manier waarop hulle lewens beëindig is.

    Maar een ding is seker: God sluimer of slaap nie. Hy sien al hierdie ongeregtighede en Hy sal self die oordeel fel. Hy is wakker oor Sy beloftes en Hy belowe in sy Woord dat Hy ons nooit sal verlaat en ons nooit in die steek sal laat nie. As ons deur riviere gaan, gaan Hy saam met ons. Vertrou op Hom. Hy bly in beheer!

    Groete uit Pretoria. Al ons boere bly in ons gebede.

    Machel Ludik

Comments are closed.