Die geskenk van alleenheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die fliek Seeking a friend for the end of the world (2012) speel daar ’n toneel af waarin die hoofkarakter, Dodge, se vriende daaroor stry of hy alleen is, en of hy alleen gaan sterf wanneer die wêreld tot ’n einde kom. Hy word gevra of dit hom pla dat hy alleen gaan sterf, waarop sy beste vriend dan antwoord dat Dodge wel alleen is, net soos almal anders; en dat hy inderdaad alleen gaan sterf, net soos almal anders (hoewel saam met almal anders, in hierdie storie). “There’s just no need to cling to who’s closest,” voeg sy vriend by.

Hierdie toneel laat my altyd baie diep nadink oor wat ‘alleen’ werklik beteken. Oor die laaste jaar en ’n half is ons as ’n samelewing, moontlik meer as vantevore, gekonfronteer met die realiteit van alleenheid. Verpligte isolasie is ons opgelê, en wêreldwyd – ook in Suid-Afrika – is daar aanduidings dat depressie en angs toegeneem het onder mense in hierdie tyd. Die impak op ons individuele en kollektiewe geestesgesondheid is, heel duidelik, enorm; en juis in hierdie tyd het ons weer die waarde van betekenisvolle verhoudings met mekaar besef.

LEES OOK: Die geskenk van swakheid

Tog wonder ek of ons nie ’n belangrike geleentheid by ons sou kon laat verbyglip indien ons nie juis in hierdie tyd diep nadink oor alleenheid nie. Die woord ‘alleen’ is immers allesbehalwe ’n eenvoudige woord.

Binne die Gereformeerde tradisie sou die woord ‘alleen’, byvoorbeeld, ingespan word om ’n teologiese strydpunt of standpuntinname aan te dui. Dink aan die vyf bekende sola’s – sola Scriptura, sola fides, sola gratia, solus Christus, soli Deo gloria – waarin die een konsekwente begrip juis die woord sola, ‘alleen’ is. Binne die konteks van die Reformasie sou die aanspraakmaking op ‘alleen’ ’n belangrike retoriese funksie vervul, naamlik om duidelik standpunt in te neem teenoor wat gesien is as kerklike vergrype en korrupsie.

LEES OOK: Die geskenk van verraad

Maar dit is nie net binne die konteks van kerklike polemiek en debatvoering waar hierdie woord opduik nie – ook in gesprekke oor menslike uniekheid is ‘alleen’ ’n gelade term.

In Wentzel van Huyssteen se boek, met die aangrypende titel Alone in the world? (2006), fokus hy op die vraag na menslike uniekheid binne wetenskap en teologie, en kom ons weer hierdie woord ‘alleen’ teë. Van Huyssteen verduidelik dat, binne die skeppingsverhale in Genesis, die skepping van mense die hoogtepunt van God se kreatiewe werk is, want onder al die skepsels word slégs die mens beskryf as imago Dei.

Die mens alléén – onder al die diere, onder al die plante – is die beeld van God. In ’n teologiese sin is ons dus inderdaad ‘alleen in die wêreld’, verduidelik Van Huyssteen. Maar ook binne ’n paleoantropo­logiese perspektief sou ons ‘alleen in die wêreld’ wees, argumenteer Van Huyssteen, aangesien mense die laaste van die hominiede spesies op aarde is.

LEES OOK: Die geskenk van sorg

‘Alleen’ is dus ’n ryk beskrywing, wat verskillende goed kan beteken. Dit kan dui op uniekheid, om spesiaal te wees. Dit kan dui op eensaamheid, om geïsoleerd te leef. Dit kan wys op ’n gebrek aan gemeenskap en ’n kapasiteitstekort vir verhoudings; maar dalk kan dit ook as ’n geskenk beskou word wat ons uitnooi om dieper selfondersoek te doen.

In sy Bread for the journey (2006), skryf Henri Nouwen dat alle mense alleen is, omdat geen ander mens volledig sal voel hoe ons voel, dink soos ons dink, of optree soos ons optree nie. Juis omdat ons uniek is, is ons alleen – die vraag is dus eerder wat ons maak met die geskenk van ons alleenheid, meen Nouwen, as hoe om alleenheid geheel en al te vermy. Laat ons ons alleenheid ’n pynlike eensaamheid word, wat ons in desperaatheid aan ander laat vasklem en vasklou; of word ons alleenheid omvorm tot ’n ryk en vrugbare vrede met onsself, van waaruit ons ander in hulle uniekheid kan respekteer en gemeenskap kan skep?

LEES OOK: Die geskenk van pyn

Dit is nie moeilik om talle voorbeelde te vind van Jesus wat Homself geïsoleer het van mense nie. Tog is dit aan die kruis, in die woorde van Psalm 22 – “My God, my God, waarom het U My verlaat?” – wat Christus se pynlike, Goddelike alleenheid die kweekgrond word waaruit ons troos spruit. Godsalleenheid aan die kruis verander die realiteit van elkeen van ons se dood. In Christus se alleendood word ons dood ’n ontvangs in God; en word ons alleenheid onderskep, verdiep, en verryk deur die troos dat ons ín Christus, áán Christus, behoort.

Gemeenskap is immers nie die plek waar ons nie meer alleen is nie, skryf Nouwen, maar eerder waar ons mekaar se alleenheid begroet, respekteer, en beskerm. Die kerk behoort daarom dié gemeenskap te wees waar ons die geskenk van alleenheid kan koester en kweek,
“tot ek my eensaamheid besit,
volmaak, as kosbare gewin”
(NP van Wyk Louw, “My venster is ’n blanke vlak”).
*Opgedra aan Lou & Marie Buchner

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is lid van die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode