Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die geskenk van sorg

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In Jodi Picoult se boek My sister’s keeper (2004), wat later ook verfilm is, word die aangrypende verhaal vertel van Kate, ’n tienermeisie met kanker, wie se jonger sussie Anna oor jare heen aan haar bloed en organe skenk sodat sy kan bly oorleef. Anna doen in ’n hofgeding aansoek om vrygestel te word van hierdie rol en verpligtinge teenoor haar sussie, en in die moeilike dinamika wat binne hulle hegte familie volg, kom die vraag tel­kens na vore: “Am I my sister’s keeper?”

Dit is natuurlik ook die bekende vraag wat in die verhaal van Kaïn en Abel, in Genesis 4, na vore kom. Wanneer die Here vir Kaïn vra waar sy broer Abel is, antwoord Kaïn met hierdie selfde woorde: “Am I my brother’s keeper?” Is ek my broer se oppasser en wag­ter? Moet ek die heeltyd na my broer kyk? Moet ek konstant waghou, en bekommerd wees, en besorgd; en moet ek sonder ophou vir my broer bly sorg? Is my broer se florering my probleem?

Waarop die Here se antwoord in geen onsekere terme gegee word: Jy is. Dit is.

You are your brother’s keeper. You are your sister’s keeper.

Dit sou, in hierdie moeilike tyd – van vrees vir die Koronavirus, en die toekoms, en die ekonomiese impak van die grendeltyd – baie maklik wees om te vergeet dat ons aan mekaar toevertrou is. Ons sou met baie billike en heel verstaanbare redes en verskonings voren­dag kon kom om weg te kom daarvan dat ons mekaar se ‘keepers’ is.

Selde getuig ons reaksies van ons begrip vir die diepte en hoogte en breedte van die angs en pyn en vrees wat agter ander mense se trauma sit. Dit is dikwels – té dikwels – waar dat ons gewoon net nie (wil?) hóór nie, en daarmee geheel en al afgestomp is vir ander se pyn, wanneer ons gekonfronteer word met byvoorbeeld #blacklivesmatter of #metoo. So dikwels wil ons eers stry of ba­klei oor die legitimiteit van die pyn van swart persone of vroue of mense wat identifiseer as LGBTQI+, en daarmee verder bydra tot die frustrasie van nie gehoor wees nie.

Ons wil eers redeneer oor of hulle trauma ons tyd en aandag werd is, of hulle ervarings waar en korrek is, of hulle krete om lewe volgens ons geregverdig is – en dan is ons so ontsettend verras wanneer dit tot verdere woede en frustrasie lei.

Ons moet as ’t ware eers óns pouslike toestemming gee, oor en oor en oor, voordat ánder mense aanspraak kan maak op ons begrip en sorg en genade en vriendskap. Dit is bejammerens­waardig dat ons eerste reaksie op ander se pyn, veral ander mense wat anders as ons is, so baie keer behels om onsself te regverdig en hulle pyn te bevraagteken.

Is dit nie genoeg dat die stem van die bloed van vroue en kinders, van ons swart broers en susters, van ons LGBTQI+ vriende en familie, uitroep vanuit die aarde nie?

Net so min as wat Abel enige verduideliking hoef te bied – sy bloed spreek tog vanself in hierdie verhaal; sy pyn en sy trauma en sy dood is genoeg, dit benodig nie Kaïn se goedkeuring om ’n legitieme onreg of lewenskreet voor God te wees nie – net so veel mis ons so dikwels die punt wanneer ons van ge­traumatiseerde mense verwag om eers hulle pyn aan ons verdraaglik en verteerbaar te verpak alvorens ons dit met die nodige erns opneem.

You are your brother’s keeper. You are your sister’s keeper.

Die Amerikaanse Gereformeerde teo­loog David Kelsey verwoord dit by wyse van die taal van florering. Ons kan nie floreer indien ander mense, ons medemense, the brothers and sisters that we keep, nie óók floreer nie. Ons eie florering is verweefd met die florering van ander, omdat ons gegee is aan mekaar, om mekaar op te pas en te versorg en vertroos en te ‘keep’. Ons lot is ’n gemeenskaplike lot.

Dit is tog immers ook die troos vir mense van die verbond: God is ons ‘keeper’. God onderhou Godsbeloftes, God hoor ons krete om lewe, God steur God aan ons angs en pyn en trauma – nie op ’n ver-af, halfpad simpatieke wyse nie; maar voluit betrokke, as een wat nie die pyn en marteling en dood van Gods eie Kind ontsien nie. Dit is die God wat Gods lewe aflê vir Gods vriende; wie se ‘keeping’ nooit ophou nie, selfs ook nie wanneer ons sterf nie; wat die lewenskrete en doodskrete hoor van verontregtes en getraumatiseerdes soos Hagar en Tamar en Abel en Job en ja, selfs Jesus aan die kruis.

Dit is die geskenk van Godsorg dat ons nie aan ons eie lot oorgelaat is nie, maar deel is van ’n gemeenskap waarbinne ons versorg word en mekaar ook versorg.

I am my brother’s keeper. I am my sister’s keeper.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.