Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die geskenk van verraad

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In sy boek Fools, martyrs, traitors (1997) skryf die Amerikaanse historikus Lacey Baldwin Smith oor die aard van verraad. Hy tref onderskeide tussen dwase, martelare, verraaiers, en slagoffers – en vra ’n reeks belang­rike vrae: Wie kwalifiseer as ’n martelaar? Is alle martelare helde, en alle ge­storwe helde martelare? Wat is die ver­skil tussen slagoffers en martelare? En waar lê die grense tussen martelaarskap en verraad? Wanneer is volksverraad, hoogverraad, landsverraad nood­saaklik? Wanneer is verraad ge­reg­ver­dig? Is alle verraad sleg en verkeerd?

Wanneer ons verraad en verraaiers weeg en oorweeg behoort ons nie alleenlik growwe, groot dade van verraad – soos teenkanting teen onderdrukkende regerings of sisteme – in ag te neem nie, maar ook alledaagse, klein, moontlik onopvallende gebare van verraad. Verraaiers is spesiale soort skurke: Hulle verraai die diepste ideale wat ons binne ons samelewings nastreef, soos lojaliteit, geregtigheid, liefde, plig. Verraaiers laat ons nie wegkom met geykte antwoorde of clichés nie, maar ontbloot die breuklyne in ons waardestelsels. Verraad beskik ook oor die potensiaal om wat giftig, of korrup, of lewebenemend geraak het te ontbloot vir wat dit is.

In die kerk sou ons ook kon dink aan die verskillende skakerings van verraad en soorte verraaiers in ons eie midde. ’n Verhaal van verraad staan immers aan die hart van die evangelie. Daar is geen karakter wat nouer met verraad geassosieer word as Judas, die vriend van Jesus, nie. Judas, wat Jesus met ’n soen verraai. Al vier Evangelies getuig daar­van dat Judas se verraad ten nouste verweef is met die kruisigingsgebeure. Sonder verraad is daar geen kruisiging.

In ’n preek oor Matteus 26:45-50, met die titel ‘Die verraaier’ (gedateer 14 Maart 1937), skryf die Duitse teo­loog Dietrich Bonhoeffer oor juis hierdie oomblik. Hierdie ‘aaklige ding’ kom nie van buite nie, maar van binne die kerk: die vriendekring van Jesus. Jesus word weggegooi – deur een van sy eie. Maar dit is nie nét Judas wat Jesus verraai nie. Elke laaste dissipel verraai Jesus, skryf Bonhoeffer, want nie een enkele dissipel bly by Hom staan nie. Geeneen tree vir Hom in wanneer die mob vir Hom kom nie.

“Gather up the killers,” sing Leonard Cohen, “get everyone in town.”

Tog is dit vir Bonhoeffer opvallend dat Jesus self nie op die skare ag slaan nie. Die eintlike drama speel ditself uit tussen Jesus en Judas. Wie is Judas? Hier­die vraag bly by die Christendom spook, skryf Bonhoeffer, nie omdat Judas so ánders is as ons nie, maar omdat sy verraad so ontsettend bekend is – só naby aan ons lyf, só moontlik, só menslik. Judas is ons. ’n Dissipel, ’n broer, ’n vriend, ’n vertroueling.

Die ergste van die hele verhaal, skryf Bonhoeffer, is egter nie Judas se verraad nie – maar dat Jesus sy verraaier intiem liefhet. Wanneer Jesus met Judas aan tafel die brood breek, is dit ’n teken van die intiemste gemeenskap. Jesus praat privaat en intiem met Judas aan tafel, in ’n gesprek wat geeneen van die ander dissipels volg of verstaan nie. Hy is in­tiem lief vir die persoon wat, vir hoe oombliklik ook al, sy toekoms en die ganse verlossingsgeskiedenis in sy han­de hou. ‘Vriend’, noem Jesus Judas ín die oomblik van verraad.

Enkele jare na hierdie preek is Diet­rich Bonhoeffer self aan hoogverraad skuldig bevind en as ’n landsverraaier tereggestel vir sy aandeel aan ’n poging teen Adolf Hitler se lewe.

Wanneer ons die verhaal van Judas lees, of dié van Dietrich Bonhoeffer, of van Beyers Naudé, of talle ander wat al as ‘(volks)verraaier’ gebrandmerk is, moet ons dieper dink en kyk en lees. Sonder Judas se verraad is daar immers geen kruisiging, geen opstanding, geen goeie nuus nie. Die verhaal van verlos­sing, die verhaal van die evangelie, en die verhaal van die kerk berus op Judas se verraad. Judas is uitverkies deur Jesus sélf. Ingesluit by die kerk, is Judas; maar ook ander verraaiers wat Jesus sy vrien­de noem, en vir wie Hy bereid is om sy lewe af te lê.

Dit is slégs Godsgenade wat van Gods­verraaiers Godsvriende maak.

Godsvriendskap dring ons daarom tot méér liefde, méér genade, as wat ons dalk altyd vir (óns) verraaiers sou gun. Maar dalk roep en dring die evangelie ons om self verraaiers te word: om dit te verraai wat verraai behoort te word. Om te verraai wat korrup, en giftig, en dodelik, en gewelddadig, en onderdrukkend is in ons eie samelewings en kerke en harte. Om doelbewuste, fyn, wel­deurdagte, berekende verraad te pleeg – nie per ongeluk nie, nie omdat ons opgesweep is of weens groepsdruk nie – wat die florering van ander, en ge­regtigheid vir almal, en liefde dien. Hartsverraad. Verraad wat ons bevry van daardie versmorende bande wat ons bind aan ons donker liefdes en don­ker magte van bloed en groep en grond en geloftes.

En dalk is verraad dán ’n geskenk.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.