Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die geskenk van pyn

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die aangrypende fliek Mary Shelley (2017) vertel die ontstaansverhaal van die boek Frankenstein. Die film spits dit veral toe op die lewe van die jong vroueskrywer Mary Shelley, vir wie die dood van haar ma, die dood van haar dogter, en haar storm­agtige verhouding met die digter Percy Shelley deurslaggewend is. Sy publiseer as 20-jarige jong vrou, onder groot druk en binne uiters uitdagende omstandighede, hierdie klassieke werk in 1818. Haar pyn is die inspirasie vir haar karakter Frankenstein se belewenis van verwerping en verlies. Uit haar pyn word hierdie storie, wat deur sommiges beskou word as die eerste gepubliseerde verhaal in die genre van wetenskapsfiksie (science fiction), gebore.

Die geskenk wat die tienermeisie (Mary) Shelley met hierdie verhaal gee, is ’n verhaal gebore uit haar pyn. Ten diepste bied die verhaal aan ons ’n kartering van die landskap van haar eie pyn. Dit is ’n verhaal van pyn wat herinner aan die verhaal van ’n ander tienermeisie met die naam Maria; wie se seun – bely ons in die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis – gekruisig is, gesterf het, en begrawe is. Dit is hierdie Maria wat, saam met ander vrouedissipels, by die voet van die kruis aangetref word. Talle treurliedere word dan ook aan Maria by die kruis toegeskryf, soos in die Poolse komponis Henryk Górecki se roerende Symphony of sorrowful songs (1976), wat verskeie weergawes van Maria se pyn vertolk.

In Lydenstyd dink die kerk oor die wêreld en eeue heen na oor pyn – en ­spesifiek Christus se pyn. Die kruisi­gingsgebeure is immers (ook) ’n verhaal van pyn: Christus se angs en bloedsweet, Christus wat pleit dat hierdie be­ker by Hom verby sal gaan, Christus wat verraai en verwerp en verloën word deur sy vriende, Christus wat gemartel word (cruciare), Christus wat as ’n oproerder buite die stadspoorte tereggestel word. En deur dit alles heen Christus se bloed wat vergiet word: in die tuin van Getsemane, na sy regsverhoor, aan die kruis. In die Katolieke tradisie word die via dolorosa (verwant aan die begrip doleo; om te betreur, bedroefd, gepynig, huilend wees), die hartseer of pynlike weg van Christus na die kruis, in Lydenstyd herdenk.

Dit is ook hierin wat Martin Luther sy diepste troos sou vind: nie ’n teologie van glorie nie, maar in ’n teologie van die kruis (theologia crucis). Christus se pyn staan aan die hart van die verlos­singsgebeure. In die Gekruisigde kom ons nie ’n God teë wat onaangeraak en ongetraak is deur pyn nie, maar ’n God wie se bloed vloei. God se pyn en God se dood herinner ons in die kerk aan wie ons is. Ons onthou, wanneer ons die nagmaal gebruik, dat ons die wyn drink ter herinnering aan Christus se bloed wat ter wille van ons heil vergiet is. Ons onthou, wanneer ons die doop bedien, dat die water ons herinner aan Christus se bloed wat ons skoon was van ons sondeskuld. Aan die hart van die kerk se boodskap, die goeie nuus van die evangelie, lê Godspyn. Sonder Godspyn is daar geen verlossing nie.

Verskeie (onlangse) teologiese pu­blikasies bied ’n ryke verskeidenheid van beelde en interpretasies vir Gods­pyn aan die kruis. So betrek die swart teoloog James Cone die beeld van ’n lynstingboom, in sy boek The cross and the lynching tree (2013), om Christus hangende aan vervloekte hout uit te beeld. So identifiseer die gestremdheidsteoloog Nancy Eiesland Christus aan die kruis as die gestremde God in haar boek The disabled God (1994), wie se liggaam na die opstanding steeds die merke van sy pyn en wonde van die kruisiging dra. So beskryf die femini­s­tiese teoloog Serene Jones Christus aan die kruis as die dood van die Godskind in Godsbaarmoeder, in haar boek Trauma and grace (2009). Godspyn aan die kruis ontsluit verskeie ervarings van pyn en trauma. Die gepynigde God ver­gesel ons in ons pyn.

Dalk behoort ons blik op Godspyn in hierdie tyd ons juis te noop om pyn veel ernstiger op te neem. Elkeen van óns is immers ook op reis deur ons eie pynlandskappe. Binne ons eie hart en verhoudings, en kerk en samelewing en land, lê ons pyn op bepaalde lyne en kontoere van ons menswees en geskie­denis. Dikwels reageer ons op mekaar vanuit ons pyn. Dikwels wens ons ons pyn weg, of oorleef ons net die pyn. Maar pyn dien ook ’n belangrike doel: Dit is ’n rigtingaanwyser na ons wonde, siekte en trauma. Pyn stroop ons van oppervlakkigheid. Pyn maak ons weerloos. In ons pyn staan ons ontbloot, die volle glorie van ons fisiese en emosionele traumas ten toon gestel. Ons pyn dwing ons tot die dieptes van onsself, gekonfronteer met ons talle gebreke en grense aan ons kragte en vermoëns.

In ons pyn is ons gestroop. Dalk sou juis pyn die kweekgrond kon word vir goeie, egte vrugdra.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.