Op 18 Februarie 2022 sterf prof Wentzel van Huyssteen in Durbanville. So groet ’n wêreldwye geloofsgemeenskap een van die knapste teoloë wat die NG Kerk ooit opgelewer het. Prof Wentzel se integriteit en nalatenskap as gerekende teoloog en navorser is oorbekend, ’n seun uit ’n eenvoudige sendingpastorie, wat net soos sy oupa en vader geroepe gevoel het om in koninkryksdiens te staan.
Prof Wentzel het as dosent in die teologie op wye akkers gesaai, nie net in Suid-Afrika, Amerika en Kanada nie, maar oor die aardbol heen. Hy het baie gereis en lewer van tyd tot tyd akademiese lesings in Frankryk, Pole, Denemarke, Swede, Nederland, Engeland, Skotland, Switserland, Duitsland, Italië, Rusland, Japan, Hong Kong, China en Korea. Na my mening kon geen alumnus van die Kweekskool op Stellenbosch sedert 1859, so ’n wêreldwye akademiese impak in teologiese opleiding maak soos prof Wentzel van Huyssteen nie. Na twee dekades te Princeton in Amerika, keer hy terug na sy geboorteland en tree af in Suid-Afrika. Hier sit hy steeds as navorser en teoloog skouer aan die wiel, waar hy steeds gewerk en gewen het in die Here se koninkryk.
Lees ook: Jaap Durand (1934-2022) | Teoloog wat grense oorsteek en beperkings uitdaag
Jacobus Wentzel Vrede van Huyssteen is op 29 April 1942 gebore in die sendingpastorie op Burgersdorp in die Noordoos-Kaap. Wentzel se oupa was ds Jacobus Petrus Johannes (Azie) van Huyssteen, wat in 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog op Stellenbosch gelegitimeer word en as proponent begin werk in die konsentrasiekamp op Springfontein. Hierna bedien hy die NG gemeentes Jagersfontein, Oos-Londen, Riebeeck-Wes en weer Oos-Londen waar hy emeriteer. Hy sterf op 92-jarige leeftyd en beleef dat sy kleinseun Wentzel van Huyssteen in sy voetspore volg. Wentzel se vader is eerw Hendrik Vrede van Huyssteen, wat in 1931 aan die Sendinginstituut op Wellington afstudeer en sendeling word te Kenhardt, Brandvlei, Griekwastad, Burgersdorp, Durbanville, Hartbeesfontein, Vrede, Delareyville, Victoria-Wes en Hofmeyr. Wentzel is in baie skole en na eerw Vrede van Huyssteen se aftrede in 1958, is hy leerling aan die Hoërskool Bellville waar hy in 1960 matrikuleer. Wentzel was ’n ywerige lid van die CSV en aan die einde van die jaar is hy geestelike leier by die stranddiensspan op Jeffreysbaai, waar hy kinders met die evangelie aanraak tydens CSV-byeenkomste oor die Kersvakansie. Toe reeds was Wentzel ’n nederige en beskeie mens, wat hy tot met sy dood gebly het ten spyte van sy fenomenale prestasies en bekendheid oral in die wêreld.
Lees ook: Mos maar saam: Jurie Hendrik le Roux (14 Nov 1944 – 12 Okt 2021)
Die jong Wentzel voel geroepe om predikant te word en is in 1961 student aan Maties waar hy die BA-, Honneurs- en Meestersgrade in Filosofie behaal. Daar is toe reeds groot waardering vir sy intellektuele vermoëns en op Stellenbosch behaal hy al sy grade cum laude. In 1964 word hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch, waar hy in die eeufeesjaar van die Universiteit Stellenbosch in 1966 die BTh-graad verwerf. Hy is deel van 60 proponente wat op Donderdag 30 November 1967 in die NG Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer word. Wentzel was baie musikaal en kon goed klavier speel en was baie trots toe hy later sy oom Terstegen van Huyssteen, ’n bekende in onderwys- en musiekkringe, se klavier erf.
Wentzel trou op 1 Oktober 1966 met mej Hester Theron van Williston in die Groot-Karoo. Hasie, soos sy onder vriende en die familie bekend staan, is ’n gekwalifiseerde onderwyseres wat Wentzel diep gelukkig maak tot sy sterfdag toe. In Suid-Afrika en gedurende die 23 jaar wat hulle in Amerika gewoon het, was Hasie altyd daar en het hulle saam ’n vriendelike rustigheid uitgestraal.
Lees ook: Liezel de Jager: Landwyd word saam gehuil oor jong leraar met groot hart
Ds Fanie Schoonees, wat die kweekskoolklas se reünie na vyftig jaar in 2017 op Stellenbosch gereël het, vertel dat Wentzel dit ook bygewoon het en dat sy hartlike meelewing, beskeidenheid en opregtheid sy klasmaats van 1967 diep geraak het. Na sy legitimasie vertrek Wentzel en Hasie van Huyssteen na die Vrije Universiteit van Amsterdam waar hy op 6 November 1970 die DTh-graad verwerf in die Teologie. In 1969 studeer hy ook aan die Ludwig Maximillian Universiteit te München in Duitsland, waarna hy terugkeer na Suid-Afrika om ’n aanstelling op te neem om Dogmatiek en Etiek te doseer aan die Hugenote Kollege te Wellington. Hy word beroep na die NG Gemeente Noorder-Paarl, waar hy die naweek van 11-13 Junie 1971 met handoplegging ontvang en bevestig word in die geskiedkundige Toringkerk. Prof Dawid de Villiers van Stellenbosch lewer die bevestigingsrede. Na slegs 16 maande in die gemeente en as medeleraar van ds JD van Wyk, lewer hy op 22 Oktober 1972 sy afskeidspreek omdat hy ’n aanstelling aanvaar het as professor in Bybelkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth.
Op hierdie kampus langs die strand by Algoabaai, lewer prof Wentzel van Huyssteen twee dekades lank doseerwerk van hoogstaande gehalte en laat sy invloed in stilte geld. Hieroor skryf dr Ben du Toit: “Ons wat predikante was in die tagtiger- en negentigerjare in die Oos-Kaap, kan getuig van die bepalende rol wat hy gespeel het in ons teologiese en intellektuele ontwikkeling. Die ‘Studiegroep Teologie’ aan die Universiteit van Port Elizabeth, het deur sy inisiatief tot stand gekom. Daar kon ons gereeld in die Senaat-ouditorium luister na en gesprek voer met gerekende name in die teologie, filosofie en ander wetenskaplike dissiplines. Plaaslik, sowel as internasionaal. Waarskynlik was die belangrikste invloed van prof Wentzel om ons te motiveer tot interdissiplinêre diskoers, anderkant die grense van inperkende kerkisme. Hy het in ons die hoop gevestig dat ons met integriteit deel van die groter gesprek kon wees.”
Lees ook: Mary-Anne: ‘Voorwaar ’n pionier’
In 1992 verlaat prof Wentzel van Huyssteen Suid-Afrika toe hy ’n aanstelling kry as professor aan die Princeton Teologiese Seminarium te New Jersey in die Verenigde State van Amerika. Hier beklee hy twee dekades lank die gesogte James McCord-leerstoel in Teologie in Princeton, waar hy hom besig hou met die vraag of en hoe dialoog tussen teologie en wetenskap gevoer kan word.
In ’n gesprek met dr Frits Gaum in 2003 getuig prof Wentzel: “Ek glo in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ek het ’n diepe betrokkenheid by die tradisie waarin ek staan. En omdat ek in God glo, beteken dit dat God bepalend is vir my hele bestaan, vir al my denke.” Die curriculum vitae van prof Wentzel van Huyssteen is enorm, wat getuig van artikels, lesings, navorsingsprojekte en boeke wat ’n mens na jou asem laat snak. Daarom word hy met dankbaarheid vereer vir die baanbrekerswerk wat hy verrig het in sy leeftyd. Plaaslik ontvang hy in 1987 die Andrew Murray-prys, asook in 2007 die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys. In 2009 ontvang hy ’n eredoktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch, sy alma mater. In 2014 ontvang prof Wentzel die toekenning as A-geëvalueerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting. Dié toekenning word gemaak aan top geëvalueerde navorsers wat beskou word as leiers in hulle onderskeie navorsingsvelde.
Lees ook: Vraaggesprek met Wentzel van Huyssteen (2003)
Prof Wentzel is ’n kenner wanneer dit kom by die verhouding tussen teologie en wetenskap, daarom word hy met die hand uitgesoek om op uitnodiging in 2004 die prestigeryke Gifford-lesings aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland aan te bied. Hierdie eer het ook teoloë soos Albert Schweitzer, Karl Barth, Rudolf Bultmann, Paul Ricoeur en David Tracey te beurt geval. Dit is ’n rare voorreg en erkenning aan prof Wentzel van Huyssteen, ’n seun met diep wortels in die sonnige Suid-Afrika.
Na prof Wentzel se aftrede in 2014 as professor aan die Universiteit van Princeton in die VSA, keer hy en sy vrou Hester (Hasie) terug na Suid-Afrika en word hy buitengewone professor aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch. In 2013 beleef prof Wentzel en sy vrou Hester ’n groot hartseer toe hulle een seun Daniël op 42-jarige leeftyd in Amerika sterf. Minder as ’n dekade later sterf prof Wentzel en hy word oorleef deur sy vrou Hasie, ’n seun Henk, dogters Ilze en Nina, skoon- en kleinkinders.
Op 18 Februarie 2022 sterf prof Wentzel van Huyssteen na ’n lang en dapper stryd met komplekse mediese uitdagings. Tot die einde toe het prof Wentzel sy waardigheid behou en die laaste lewensknoop in ’n oorgangstydperk suksesvol hanteer, die laaste groet van ’n nederige teologiese reus.
- Dr Gerdrie van der Merwe is ’n kerkhistorikus.
- Hierdie berig is ná publikasie aangepas. – Red.