Liezel de Jager: Landwyd word saam gehuil oor jong leraar met groot hart

Met net plek vir 100 mense was die kerkgebou van die NG Suidkus-gemeente op Amanzimtoti Dinsdagoggend 19 Oktober nie groot genoeg vir almal wat gekom het om die gedenkdiens van ds Liezel de Jager by te woon nie.

’n Aftreeoord en twee kerke op die dorp het hul lokale ook beskikbaar gestel sodat mense daar ’n regstreekse uitsending van die gedenkdiens kon volg. Mense het van sover as Kanoneiland, haar Noord-Kaapse eerste gemeente, gekom om saam afskeid te neem van die jong vrou wat in 12 jaar in die bediening soveel lewens met haar vreugdevolle en opregte manier van leef en dien aangeraak het.

Die video van die gedenkdiens van 1 uur en 20 minute was 24 uur later reeds 10 065 gekyk.

Die 38-jarige De Jager se liggaam is vroeër die maand vroegoggend deur haar man Werner in die erf van hulle huis in Amanzimtoti gekry na sy glo gaan draf het.

“Ek het nooit in my wildste nagmerries gedink dat ek vandag hier gaan staan nie … dat ons hier saam moet wees om afskeid te neem van iemand vir wie ons so lief is. Wat van ons weggevat is op ’n onregverdige en wrede manier,” het haar kollega by Suidkus-gemeente, ds Marius Schoombie, die gedenkdiens vir familie, nabye vriende en kollegas begin.

Lees ook: Dominee (38) ‘weggeruk in fleur van haar lewe’

‘Jesus het gehuil’ uit Joh. 11:35 was sy teksvers, want “vandag het ek nie woorde nie, behalwe om te sê ons is saam met julle hier om met julle te huil. Ons het nie woorde nie” het Schoombie tot De Jager se man Werner, hul twee dogterjies Ila en Lané en die familie gerig.

Die diens is ook bygewoon deur ds Francois Maritz wat namens die sinode van KZN meegevoel uitgespreek het. Hy het gesê De Jager het nie net in Amanzimtoti ’n groot impak gehad nie, maar was ook van “onskatbare waarde” tot die streeksinode. “Jy laat ’n groot leemte nie net in ons kerklike kringe nie maar veral ook in ons harte,” het Maritz gesê oor De Jager wat in haar drie jaar in KwaZulu-Natal in vele kerkleierskapsposisies van werksaam was, onder meer as lid van die dagbestuur van die sinode en as ondervoorsitter van die ring van Durban-Suid.

Schoombie het ook huldeblyke vanaf Kanoneiland- en Suidkus-gemeente voorgelees. Kanoneiland-gemeente hou ook Sondag 24 Oktober ’n gedenkdiens.

Intussen, in ’n skrywe van medelye oor die dood van De Jager, het NG Kerkleiers hul weereens sterk uitgespreek teen enige vorm van geweld teen vroue, kinders en enige kwesbare persone en hul ondersteuning aan veldtogte daarteen bevestig. 

“Die moderatuur van die sinode van Wes-Kaapland het met leedwese en diep hartseer kennis geneem van die moord op ds Liezel de Jager van die NG Gemeente Suidkus in Natal,” sê Nelis Janse van Rensburg in die verklaring wat hierdie week namens die sinode van Wes-Kaapland uitgereik is. 

Die kerkleiers het hul steun aan veldtogte teen gendergebaseerde geweld, soos die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders wat jaarliks van 25 November tot 10 Desember plaasvind, herhaal, asook die internasionale ‘Thursdays in Black’-veldtog waarin vroue reeds vir dekades op Donderdae swart dra met optogte gehou uit protes teen geweld en verkragting. 

LESERS LAAT HOOR VAN  HULLE

Emeritus prof. JS (Kobus) Kellerman per e-pos aan Kerkbode geskryf hy onthou die goeie indruk wat De Jager in haar onderhoud op hom as brugleraar en die kerkraad gemaak het toe sy in 2009 as proponent aansoek gedoen het om as leraar na Kanoneiland-gemeente in die Noord-Kaap beroep te word.

Lees Kellerman se volledige brief hieronder: 

Vanaf Oktober 2009 was ek as brugpredikant betrokke by die NG Kerk Kanoneiland. Die gemeente was op daardie stadium sonder leraar en erg verdeeld oor sekere sake. My opdrag was om die gemeente te lei tot eenheid en die pad oop te maak vir die beroeping van ’n leraar. 

Na vele besoeke en gesprekke was die gemeente gereed om ’n leraar te beroep. ’n Gemeentevergadering, wat baie goed bygewoon was, is gehou waar gepraat was oor hulle behoeftes en verwagtings van ’n leraar. ’n Moontlike profiel van so ’n leraar is opgestel en ’n beroep uitgebring. Die aansoek van proponent Liezel de Jager was een van dié wat voor die kerkraad gedien het. Die keuse het op haar geval en ’n onderhoud is per Skype met haar gevoer waar sy inderdaad ’n goeie indruk gemaak het. By die kerkraadsvergadering is sy eenparig tot leraar van die gemeente beroep. 

Ek moet ook beklemtoon dat die hele proses deur ernstige gebed en entoesiasme gedra was.

Liezel het die beroep aanvaar en daar is reggemaak vir haar ontvangs en bevestiging. Soos dit gaan by so ’n geleentheid was die pastorie vir die nuwe predikantsegpaar gereed gemaak. Dit was kort voor Pinkster waar ek nog eers die reeks bidure gehou het. 

Op 5 Junie 2010 het ek haar as leraar bevestig. Ek het die apostel Paulus se woorde aan die jong Timotheus gebruik as koersaanduiding vir hierdie jong leraar (1 Tim. 4:6-16) en aan die gemeente die woorde van Paulus in Kol.4:2-4. Vir haar as jong leraar het ’n groot uitdaging gewag – sy moes die gemeente, te midde van die omstandighede hier bo genoem, help om as ’n ware eenheid as liggaam van Christus te leef en om getuies in die wêreld te wees. 

Latere terugvoer het getoon dat sy haar voete goed gevind het en geliefd in die gemeente was.

Word 'n vriend van Kerkbode