Dominee (38) ‘weggeruk in fleur van haar lewe’

Die skoknuus van ds Liezel de Jager se dood het Woensdag 13 Oktober soos ’n golf van hartseer gespoel vanaf die Natalse suidkus tot aan die walle van die Oranjerivier in die Noord-Kaap.

“Sy is ’n fenomenale jong vrou wat in die fleur van haar lewe weggeruk is,” sê dr Francois Neethling wat as voorsitter saam met De Jager as ondervoorsitter op die Ring van Durban-Suid gedien het.

LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap

Die 38-jarige De Jager is Woensdag­oggend deur haar man Werner in die erf van hulle huis in Amanzimtoti gekry na sy vroeër soos gewoonlik saam met vrien­dinne gaan draf het. Sy was aan­gerand en reeds dood, het ’n diep ont­roerde Neethling aan Kerkbode vertel. Die plaaslike polisie het bevestig ’n moorddossier is geopen, maar verdere besonderhede oor die gebeure was nog skraps.

“Vandag is ons hartseer om hierdie huldeblyk te skryf, want woorde kan nie reg laat geskied nie en kan onmoontlik jou karakter verwoord …” Só begin ’n huldeblyk wat namens die NG kerkleierskap van KwaZulu-Natal op Whats­App uitgestuur is later dieselfde dag.

Die leierskap van die NG Kerk in KZN het hierdie roerende huldeblyk aan ds Liezel de Jager uitgestuur.

Genoeg woorde is daar nie. Van haar eerste gemeente Kanoneiland, naby Uping­ton in die Noord-Kaap tot by die Suidkus-gemeente op Amanzimtoti loop almal wat haar geken het oor van liefde en mooi herinneringe aan dié jong vrou wat met soveel “vreugde en energie” geleef het.

“Die hele gemeenskap is verslae. Hier­die is ’n gemeenskap van boere en sy as jong vrou het die gemeenskap baie mooi bymekaar gehou,” vertel Kanoneiland se skriba Anneléne Goussard.

LEES OOK: ‘Ons mag nie wrok dra,’ sê seun van vermoorde oud-dominee

“Sy was ’n jong dame van 27 toe sy hier gekom het. Tog kon sy probleme op ’n dinamiese manier ontlont. Sy het konflik vermy of, as dit nie vermy kon word nie, hanteer, sonder om kant te kies. Die bul by die horings gepak … Sy was mooi van buite en binne,” stuur Koos de Wet via WhatsApp. Hy en sy vrou Sonia was De Jager se gemeente-ouers by Kanoneiland waar sy nege jaar as leraar alles gedoen het van weeklikse Bybelstudies tot ‘fun stuff’ vir die jeug soos Amazing Race Sondae en buitelugkerk.

“Sy was ’n baie sterk vrou. Goeie teo­loog met ongelooflike Skrifuitleg … sy het eers ’n bietjie gesukkel maar toe gou haarself gevind as vrou in die bedie­ning,” sê die afgetrede ds Louwtjie Louw, haar mentor vir vyf jaar en tans brugpredikant by Kanoneiland sedert De Jager saam met haar man en hulle twee klein dogtertjies, Ila en Lané, in 2019 na Suidkus-gemeente is.

Op Facebook het huldeblyke heeldag ingestroom vir dié boorling van Graaff-Reinet, haar gesin en familie.

“My hart is so seer vir haar en haar gesin en familie. Sy was so ’n pragtige mens. Gaan jou lag mis en jou vriendelikheid. Sy was nog nie lank in ons gemeente nie, maar sy het diep in ons hart geklim. Gaan jou mis, liewe Liezel,” skryf Alta Visagie op Suidkus-gemeente se blad.

Gemeentelede van Suidkus-gemeen­te het Woensdagaand kerse en blomme by die kerktoring neergesit om meegevoel te betoon. Foto: Verskaf

Word 'n vriend van Kerkbode