Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oom John was lekker vies op dié foto, lag Hanlie Venter van die koffiewinkel in Gouritsmond. “Toe ek die sop voor hom neersit het hy bietjie gekla. Ek sê toe daar is báie vleis, hy moenie worry nie. Sy antwoord was toe: ‘Dan sal ek dit seker maar moet eet’. Foto: Hanlie Venter

‘Ons mag nie wrok dra,’ sê seun van vermoorde oud-dominee

“Ons sit nou juis en praat van hom. Hy sou nou na die lekker reën hier in Gourits staan en bossies uitrek het,” vertel Hanlie Venter oor die 87-jarige ds John Barnard wat laasjaar in sy huis op die dorp vermoor is.

Venter, die eienaar van Koffiestories in Gouritsmond, sê die afgetrede leraar het die afgelope vier jaar elke dag by haar koffiewinkel kom middagete eet. Dit was ook sy gebruik om na ’n reënbui bossies uit te trek terwyl die grond nog sag was, lag sy.

Maar op Saterdag 15 September 2019 het Barnard nie vir sy gebruiklike middagete kom aansit nie. Volgens Venter het sy die 800 meter vanaf haar koffiewinkel gery en hom by sy huis, waar hy alleen gewoon het sedert sy vrou se dood, gaan soek. Hier het Venter op sy liggaam in die kombuis afgekom.

Barnard is op Saterdag 14 September deur ’n 33-jarige man vermoor, het Suid-Kaap Forum berig. Barnard is na berig word dood weens ’n harde hou teen die kop. 

Ds Marius le Roux, leraar by NG gemeente Albertinia, het Saterdag 21 September 2019 in die NG gemeente Gouritsmond ’n dankdiens vir Barnard gehou. “Oom John was ’n liewe dierbare mens. Hy het sedert sy aftrede in Gouritsmond gereeld vir ons gepreek. Hy was ’n regte staatmaker. So twee weke voor sy dood sou hy vir my ingestaan het, maar toe het ek op die ou einde nie weggegaan nie. Die oggend het ek hom op sy gebruiklike plek in die kerkbanke raakgeloop en hy het gesê: ‘Onthou, jy skuld my ’n preek.”

Kobus Barnard, ds John se jongste seun, het aan dr Gerdrie van der Merwe na die moord van sy pa gesê: “Dis eenvoudig. Wat sou my pa gesê het? Hy sou gesê het dit is onregverdig en absurd, maar dat ons nie ’n wrok mag dra nie, want ons leef volgens die Bybel.” 

Venter sê Barnard was vir haar “soos ’n pa”.

Maar, voeg sy tong-in-die-kies by: “Hy kon my ook gedaan maak.” 

“Hy het baie vies geraak as ek vir hom te veel kos ingeskep het. En moenie waag om vir hom groente in te skep nie. Hy het maar van rys, vleis en aartappels gehou,” onthou sy.

Sy voeg ook by dat sy middagetes aanvanklik deur sy kinders gereël en betaal is. “Maar hy wou graag self betaal en het my oorreed dat hy ‘op die boek’ eet. Dit beteken ek het alles opgeskryf en dan het hy aan die einde van die maand kom betaal,” het Venter gesê.

“Hy was so ’n nederige man. ’n Geliefde mens all-over. Ek en Hermien en Poppie (werknemers by Koffiestories) mis hom baie en praat byna elke dag van hom,” het Venter verder gesê.

  • Dr Gerdrie van der Merwe is alombekend vir sy deernisvolle huldeblyke aan NG dominees. Lees hier ds John Barnard se huldeblyk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top