Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

JOHN BARNARD

19 Oktober 1931 – 14 September 2019


Ds John Peter Barnard is op 19 Oktober 1931 gebore op die sendingstasie Morgenster in die destydse Suid-Rhodesië. Sy vader was Thomas Henry Spence Bar­nard, ’n sendingonderwyser en sy moeder Magdalena Petronella Marais Pienaar, wat ook onderwys gegee het op die sendingstasie. In 1939 begin John sy skoolopleiding aan die Laerskool Morgenster en van 1943 tot 1945 aan die Laerskool Andrew Louw. Hy vertrek in 1946 na die Unie van Suid-Afrika toe hy leerling word aan Paarl Gimnasium waar hy in 1949 matrikuleer. Hy het goed rugby gespeel en in matriek die wendrie teen “Boishaai” gedruk gedu­rende die jaarlikse rugbykompetisie.

John volg in die voetspore van sy ouers en studeer onderwys in die Ja­ka­randastad waar hy die BA-graad en die onderwysdiploma in 1953 aan die Universiteit van Pretoria verwerf. In 1954 word hy onderwyser in die destydse Suid-Rhodesië, waar hy mettertyd aan die roeping gehoorsaam om predikant te word en hy roep in 1958 die onderwysberoep vaarwel. John trou op 3 Januarie 1959 met mej Quinta de Jonge en uit die huwelik word vier kinders gebore: twee seuns, Tommie en Kobus, en twee dogters, Rykie en Ronel.

In 1959 is hy terug by Tukkies om aan die einde van 1960 Grieks en Hebreeus onder die knie te kry om die toelatings­eksamen te slaag om toegelaat te word tot die kweekskool. In 1961 word John Barnard student aan die Teologiese Seminarium in Stellenbosch, wat in 1959 sy eeufees vier in die Eikestad. Hy geniet die teologiese opleiding en word aan die einde van 1964 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Hy aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Melmoth/Babanango, ’n tweekoppige gemeente waar hy op 13 Februarie 1965 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy dien op die Sendingkommissie van die ring en sinode.

Op 15 Januarie 1972 word hy leraar van die NG Gemeente Stutterheim in die Oos-Kaapse platteland. Hier is hulle baie gelukkig en is van 1972 tot 1976 betrokke by die bou van ’n nuwe kerkgebou. Op 8 Desember 1978 word hy leraar van die NG Gemeente Noupoort, ’n groot spoorwegdorp tussen Colesberg en Middelburg in die Oos-Kaapse Middelande. Hier dien hy op die sinode se kommissie vir administrasie.

Na ’n besondere dienstyd kom die roep­stem na die NG Gemeente Masvingo, ’n gemeente in Zimbabwe. Dit was ’n krisistyd vir die kerk in Zimbabwe en hierdie leraar keer terug na sy geboorteland om ’n verskil te maak in die Here se koninkryk. Dit was ’n moeilike tyd en die NG Kerk se Algemene Sinode gee ruim finansiële hulp aan die beproefde gemeentes in Zimbabwe. Hier is ds John intens betrokke by die kerkkantoor van die Sinode van Midde-Afrika en dien op die regskommissie. Hier werk hy tot hy op 19 April 1992 sy emeritaat aan­vaar en die gesin vestig hulle in “Net reg”, hulle huis in Seesigstraat te Gouritsmond, ’n strandoord tussen Mos­selbaai en Albertinia.

Hier is hulle baie gelukkig en na sy vrou se afsterwe in 2014 het ds John alleen in sy huis gebly en sy kinders het gereël dat hy elke dag ’n bord kos by Koffiestories, ’n gewilde eetplek in Gourits gekry het. Hy het gereeld in die wykskerkie te Gourits gepreek, wat deel vorm van die NG Gemeente te Albertinia. Hy het graag jukskei gespeel en was tot met sy dood op 87-jarige leeftyd blakend gesond. Met sy verjaarsdag op 19 Oktober 2019 sou die hele gemeen­skap van die kusdorpie sy verjaarsdag in die gemeenskapsaal gevier het.

Op Saterdag 14 September 2019 is hy nog die middag in sy tuin gesien, waarna hy vermoor is in die kombuis van sy huis. Die volgende dag is sy lyk met ernstige kopbeserings gevind, ’n groot slag vir die mense te Gourits wat hom as ’n vaderfiguur gesien het. Mense het hom na sy dood beskryf as ’n stil en rustige mens, iemand met ’n sin vir geregtigheid. Hy was altyd vriendelik en liefdevol met ’n unieke sin vir humor.

Op ’n vraag aan die kinders oor hoe hulle na die moord voel, het die jongste seun Kobus gesê: “Dis eenvoudig. Wat sou my pa gesê het? Hy sou gesê het dit is onregverdig en absurd, maar dat ons nie ’n wrok mag dra nie, want ons leef volgens die Bybel.” ’n Dankdiens word op Saterdag 21 September 2019 in die NG Kerk Gouritsmond gehou. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top