Jaap Durand (1934-2022) | Teoloog wat grense oorsteek en beperkings uitdaag

Met die afsterwe van prof Jaap Durand (87) in die vroeë oggendure van 24 Januarie 2022 in die La Clémence-aftreeoord te Stellenbosch, groet ons ’n gerespekteerde teoloog, akademikus en Struggle-ikoon.

Hy was iemand met ’n ingebore kompas vir regverdigheid en geregtigheid, wat soos Jesus met sagte oë na verontregte mense kon kyk, hulle nood kon raaksien en daadwerklik na hulle kon uitreik. Nie net die Durand-gelaatstrekke nie, maar sy persoonlikheid het my altyd herinner aan die kerklike patriag Ben Durand van die plaas Hartebeesfontein in die distrik Trompsburg.

Lees ook: Lei alle gelowe regtig na God?

Prof Jaap se voorouers was pioniers wat die Suid-Vrystaat help tem het en ek was altyd verstom om te beleef hoe die Durand-gene neerslag gevind het in prof Jaap se doen en late op verskeie terreine. Die skrywer woon steeds op die buurplaas Donkerpoort en loop dekades lank ’n pad met die uitgebreide Durand-gesin.

Johannes Jacobus Fourie Durand is op 5 Junie 1934 gebore op Oranjeville. Sy vader Jan Jonathan Durand, was ’n visehoof en wiskunde-onderwyser in die skool. By hom het Jaap van kindsbeen af ’n sin vir reg en geregtigheid geleer. Sy moeder Anna was ’n verfynde mens wat haar huisgesin met liefde aangeraak het. Jaap begin sy skoolopleiding op Dealesville waar hy ook in 1951 matrikuleer, met Jaap Furstenberg van Soutpan (uiteindelik rektor van die Hugenote-Kollege op Wellington), as een van sy medeskoliere en vriende. In dié tyd is Jonathan Durand twee jaar lank katkisasiemeester van die klas, wat sy seun bywoon.

Lees ook: DINKSTOF | Wanneer ‘onthou’ ons help vorentoe kyk

Sy pa was ’n Calvinis in murg en been, iemand vir wie Jaap die grootste eerbied en bewondering gekoester het. Intussen is hulle as jongmense besig met sendingwerk in Dealesville se swart woonbuurt, wat meewerk dat tydens sy matriekeksamen Jaap se roeping van die Here om sendeling te word, bevestig word. Na matriek beleef hy wonderlike tye aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy so goed presteer in Wysbegeerte, dat ’n lektorspos hom aangebied word indien hy sou verder studeer in Wysbegeerte. Intussen is hy ’n inwoner van Reitz-Kamerwonings, waar sy paaie kruis met onder meer Phil Robinson en Jaap Furstenberg. In sy finalejaar is hy saam met mej Sonja Bell op die studenteraad, met Christoff Hanekom as voorsitter. Hy is ’n boorling van Boshof, ’n buurdorp van Dealesville. Dertig jaar later, na die dood van Christoff met wie Sonja later getroud is en die dood van prof Jaap se vrou Randu, trou prof Jaap met Sonja en beleef hulle ’n kwaliteit huwelik van dertig jaar.

Nadat Jaap in 1954 die BA (Admissie)-graad aan die UOVS in Bloemfontein verwerf het, word hy student aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch. Hier ontmoet Jaap sy lewensmaat en trou met mej Randu du Rand, ’n ondersteunende lewensmaat wat tot met haar vroeë dood aan kanker, ’n anker en ligpunt in sy lewe bly.

Lees ook: Jaap Durand sterf op 87: ‘Hy was vir almal lief’

Na sy studie op Stellenbosch vertrek hy en Randu na Nederland en studeer aan die Vrije Universiteit in Amsterdam waar hy in 1961 doktoreer in sendingwetenskap onder leiding van prof Herman Bavinck. Hier word hegte vriendskapsbande gesmee met Hennie Rossouw en sy vrou Hester, ook met Bethel Müller en sy vrou Helen. Toe Jaap Durand sy proefskrif op 27 Januarie 1961 verdedig, was sy paranimfe (helpers by plegtighede) Jaap Furstenberg en Bethel Müller. Meer as ’n dekade later behaal hy die DTh-graad in Dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Toe reeds het die akademiese wêreld sy verstommende intellektuele vermoëns beleef.

Terug in Suid-Afrika word hy gelegitimeer en aanvaar in 1961 ’n beroep na die NG Kerk in Afrika se Cala-sendingstasie in die Transkei. Hier beleef hy en Randu die sendingveld aan eie lyf, ’n leerervaring wat in die toekoms groot dividende sou lewer. Op 28 Januarie 1965 word hy sendeling in die swart stad Kwazakhele, ’n gemeente sonder grense in die hart van Port Elizabeth. Hier het hy alles gegee in Koninkryksbelang, ook toe hy in sy dienstyd moderator word van die NG Kerk in Afrika (Streeksinode Kaapland) en as aktuarius van die Algemene Sinode van die NG Kerk in Afrika diens doen.

Op 10 Februarie 1973 word hy bevestig as professor in Sistematiese Teologie aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Wes-Kaapland. Die skrywer en sy ouers het spesiaal van Trompsburg gekom vir die bevestiging, ’n besondere geleentheid om te onthou. Hier laat prof Jaap hom ken as iemand wat grense oorsteek en beperkings uitdaag. In die laat sewentigerjare word hy en sy gesin lidmate van die Rynse Gemeente van die destydse NG Sendingkerk op Stellenbosch, omdat hy hom nie langer met die apartheidsteologie van die NG Kerk kon vereenselwig nie.

Lees ook: Jaap Durand se laaste bydrae aan Kerkbode 

Hy is van 1978 tot 1980 dekaan van die Fakulteit van Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland en vanaf 1981 tot 1994 adjunk-visekanselier van UWK. Prof Jaap se rol in die totstandkoming van die Belydenis van Belhar, is meer as bekend. Dit speel steeds ’n groot religieuse en emosionele rol in die lewe van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), ’n wekroep oor die eenheid van die kerk, die versoening en geregtigheid tussen mense onderling. Prof Jaap het ook ’n groot rol gespeel om die UWK vir swart studente oop te stel, waarna groot getalle swart studente na die inrigting gestroom het. Prof Jaap tree ook na vore as ’n Stuggle-figuur in die Apartheidsjare, wat tydens die onluste in 1976 momentum kry toe teologiese studente in die spervuur staan. In die stormagtige 1980’s, het hy saam met senior UWK-personeel soos prof Jakes Gerwel en prof Richard van der Ross, ondersteun deur ongeveer 4 000 studente, na die Bellville-polisiestasie opgeruk om die vrylating van studente wat aangehou is, te eis.

Sy verskuilde talent en belangstelling in argitektuur kom na vore toe hy aan UWK betrokke raak met die bou van ’n nuwe biblioteek op die kampus. Op voetspoor van die Voortrekkermonument in Pretoria, waar die son elke jaar op 16 Desember om 12:00 deur die koepeldak op die senotaaf skyn om die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” te belig, word op sy voorstel ’n soortgelyke ligstraal ingebou. ’n Glassteen in die vloer van die atrium op die grondvlak, word elke jaar op 16 Junie verlig, om die Soweto-opstand van 16 Junie 1976 te herdenk en om die UWK-studente te onthou wat teen apartheid geveg het.

In ’n samelewing gelaai met spanning en konflik, was sy insette nie primêr polities gemotiveerd nie, maar teologies van aard. Hy leef lank genoeg om die wiel op verskeie terreine te sien draai, ook op kerklike gebied toe die NG Kerk wat in 1982 hom van sy predikantestatus stroop, dit weer aan hom teruggee.

In 2021 gee die Munisipaliteit van Stellenbosch aan hom ’n ere-toekenning, vir sy rol om Stellenbosch en die breë gemeenskap te bedien. In sy leeftyd word prof Jaap Durand deur vier universiteite vereer met eredoktorsgrade. In 1995 tree hy uit as visekanselier van UWK en begin ’n nuwe hoofstuk, waar hy verskeie boeke skryf en mense met sy sin vir regverdigheid en liefde aanraak tot met sy dood in 2022.

Prof Jaap Durand word oorleef deur sy vrou Sonja. Uit sy eerste huwelik met Randu is Jannie, Jaco en Aninka gebore. Na sy troue met Sonja het hy drie kinders “persent gekry”, naamlik Braam (Hanekom, tans direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis van die NG Kerk), Chris en Lillibet.

Met Durand se oorstap na die Hemelstad in die nag van 24 Januarie 2022, beleef hy die werklikheid waaroor hy in een van sy laaste boeke skryf: “Aan die einde van my lewe is God daar. Sy groot toekoms, die koms van sy koninkryk, die vervulling van al sy beloftes, wag op my wanneer ek my oë finaal sluit”.

  • Dr Gerdrie van der Merwe is ’n kerkhistorikus.
Word 'n vriend van Kerkbode