Uittreksel: Jaap Durand oor Godsontkenning en geloofsbeslissing

Kerkbode publiseer vandeesweek ’n baie verkorte weergawe van ’n uitgebreide dokument waarin prof Jaap Durand sy argumente in groter besonderhede uitbou. Indien jy sou belangstel om sy boek, wat in ontwikkeling is, te koop, kan jy Hester Fourie per e-pos kontak by hester@bmedia.co.za. – Red.


Dis nie ’n nuwe debat nie, maar ’n relatiewe nuutjie in die Suid-Afrikaanse teologiegeskiedenis, skryf Jaap Durand oor Godsontkenning.

As daar enige moontlikheid is om Ben du Toit se boek God – Is daar ’n ander antwoord? in twee paragrawe saam te vat, is dit hier­die twee, wat die leser op bladsy 148 aantref:

  • Vandag word die gesag (en die mag) asook die noodsaak van God of van die kerk (godsdiens), veral in die Weste, toenemend deur die ontwikkelende moderne wetenskap uitgedaag – en die gevolgtrekking word gemaak dat die mens ouer as God is. In hierdie sin is daar niks “in die hemel” wat nie op aarde gemaak is nie.
  • Dat die greep van godsdiens op miljoene mense sal voortduur (vrees vir die dood/straf/lyding; soeke na sin – psigies gekondi­sioneerde toestande), is wetenskap­lik verklaarbaar.

Meer blatant kon dit nie gestel word nie, in ’n taal wat menige Godsontkenner Du Toit sal beny! Die kruheid van Du Toit se Godsontkenning is inderdaad verstommend.

Die sewe punte wat tot hierdie slot­uitspraak van Du Toit gelei het, kan gelees word in die hoofstuk met die titel “Tog verdwyn godsdiens nie” (2021:121-148). Dit kan soos volg opgesom word:

  1. Een van die sterkste argumente wat tot die opbloei van godsdienste gelei het, is histories, naamlik die enorme leemte wat in die Weste gevul is sedert Friedrich Nietzsche se verklaring dat God dood is. Hierdie kerninsig is: “… there is nothing beyond reality, beyond life itself, nothing ‘above’; there is no transcendence, nothing metaphysical.”
    In hierdie gedeelte gaan dit om die tolle Mensch (die dorpsgek) wat op soek gaan na God. As gevolg van die gespot en gelag van die mense antwoord hy dat hulle almal vir God dood­gemaak het. Die uiteindelike gevolgtrekking is dat kerke niks anders is nie as graftombes van en mo­nu­mente vir God.
    Na aanleiding van hierdie Nietzs­che-verhaal wys Du Toit daarop dat hy reeds in ’n vorige boek, Geloof in ’n postmoderne tyd, geskryf het oor die volslae ontnugtering met die idee van die God van liefde en oor die neiging om God vir die eie kant op te eis teen­oor die ander.
    Du Toit se gevolgtrekking is dat daar nie alleen filosofies-intellektuele redes vir die verwerping van geloof in God is nie, maar inderdaad ook ’n histories-psigologiese rede vir die opbloei van godsdienste sedert die 1950’s.
    Dan haal Du Toit, blykbaar instemmend, die historikus Yuval Noah Harari aan wat onder meer beweer: “… God seems to be making a comeback. But this is a mirage. God is dead – it just takes time to get rid of the body” (Du Toit, 2021:128).
  2. Daar is sosiologiese sowel as ekonomiese redes vir die groei van gods­dienste. Hiervan is ’n ene Peter Watson blykbaar Du Toit se vernaamste getuie. Die ontleding van inligting toon aan dat die mate waarin mense godsdiens en godsdienstige gedrag belangrik ag met groot akkuraatheid bepaal kan word deur te kyk na die graad van ekonomiese ontwikkeling van ’n bepaalde gemeenskap.
    Hieruit kan die logiese gevolgtrekking gemaak word dat bestaansekerheid die belangrikheid van godsdiens­tige waardes verminder. ’n Verband tussen armoede en godsdiens is ook statisties aantoonbaar.
    3. Du Toit beweeg onder hierdie punt na ’n welvaartsteologie as ’n kru uitbuiting van mense en hulle psigologiese behoeftes. Die psigologiese faktore wat lei na ’n soort welvaartsgevoel word binne bepaalde geloofsgemeenskappe verstaan as die ingryping van ’n goddelike wese en die wonderwer­king van transendente magte.
    Die rede hoekom godsdiens nie verdwyn nie, is dus logies en voorspelbaar. Dit het te doen met die ma­nier waarop die brein vanaf geboorte funksioneer.
    4. Daar is ’n psigologiese rede vir die voortbestaan van godsdiens. Hier het ons te doen met die geweldige krag van die onderbewuste van die mens, die plek waar elkeen sy of haar “innerlike God” ontdek. Dit is in “jong kinderbreine” dat konsepte oor God en die godsdiens reeds aanwesig is en maak dat mense individuele spirituali­teite ontwikkel.
    5. Daar is ’n sug na eenvoud. Hierdie soeke na eenvoudige antwoorde is te­vergeefs as daar werklik ’n begeerte na waarheid is. Die kompleksiteit van die lewe maak godsdiens ’n toevlugsoord. Dit is daarom ’n illusie dat godsdiens gaan verdwyn.
    6. Die bestaan van ’n transendente, metafisiese wese is gegrond op die irrasionele aannames wat uit psigies gekondisioneerde denke voortkom. Daar is nie werklik ’n oortuigende rede vir die geloofwaardige begron­ding van ’n geloof in God of van die bestaan van ’n metafisiese mag nie. Vir gelowiges is ’n rasionele aanslag vanuit die wetenskap ’n lastigheid en ’n irritasie.
    7. Mense vind dit moeilik om van die godsdiens afskeid te neem uit vrees om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die lewe en vir die maak van keuses oor die lewe en die toekoms. Hierdie vrees om self verantwoordelikheid te aanvaar skep ’n sug na onderdanigheid aan ’n groter mag of entiteit.

Ek moet beken dat alles in my in opstand gekom het teen die gedagte en die moontlikheid dat iemand wat eens die bestaan van God bely het later God se bestaan ontken.

Ek het daarom op soek gegaan na ligpunte in Ben du Toit se boek en na ’n aanduiding dat hy iewers dalk sal omdraai.

Is daar enige betekenis in die vraag en die vraagteken in die subtitel van sy boek: Is daar ’n ander antwoord?

In my soeke na ligpunte het daar in my gemoed ’n baie ou gereformeerde stelling opgekom wat ek van kindsbeen af geleer het: Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God!

Oudtydse gereformeerde teologie, of bloot ’n dwaling aan my kant? Durf ek in hierdie verband Shakespeare aanhaal: “He doth protest too much?”

Slegs Ben du Toit kan my hierop ’n antwoord gee.

Met hierdie vraag van my en die verwysing na Ben du Toit se sewe stellings en die polemiek wat onlangs rondom sy boek ontstaan het, wil ek aantoon dat die psalmis se verwysing na die dwaas wat die bestaan van God ontken, nie bloot ’n stelling is wat in die vergetelheid van die eeue gemaak is nie, maar vandag steeds gemaak word. Dit sal nooit sy belangrikheid verloor nie.

Wat het die dwase gemotiveer om hulleself wys te maak daar is geen God nie?

Hierdie woorde van Psalm 14:1, wat as psalm in sy geheel byna woordeliks met Psalm 53 ooreenstem, verklank iets van die psalmis se ver­ontwaardiging oor die, inderdaad, dwaasheid van so ’n bewering: Daar is geen God nie!

Die Verklarende Bybel van 1983 wys daarop dat daar ’n opvallende verskil is tussen hierdie twee psalms ten opsigte van die twee Name wat na God verwys.

In Psalm 14 word die Verbondsnaam “Here” gebruik naas die algemene benaming “God”. In Psalm 53 word die Verbondsnaam “Here” vervang met die algemene benaming wat in Hebreeus ook “afgod” kan beteken. Die verklaarder van hierdie psalms, prof AH van Zyl, is van me­ning dat die verskil tussen die twee Hebreeuse tekste die gevolg is van die feit dat die oorspronklike versameling van die Psalms uit twee dele bestaan het. In die tweede deel, waaronder Psalm 53 val, kom die benaming “God” meer dikwels voor as in die eer­ste deel. Daarom word die Verbondsnaam “Here” vervang met die meer algemene Naam “God”, wat ook op ’n afgod kan dui.

Hierdie tekskritiese ontleding maak egter geen verskil aan wat hierdie psalms wil sê oor dié wat ontken daar is ’n God nie. Die ontkenning van die bestaan van God is inderdaad dwaasheid.

Dwaasheid! Hierdie term word dik­wels in die Ou Testament gebruik. Enige konkordansie sal ’n lang lys teks­te aanbied waarin hierdie woord gebruik word in sy algemene betekenis van “domheid”, “sonder verstand” of “gekheid”, volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Selfs “belaglikheid” kan as ’n sinoniem gebruik word.

Dit kom dus as ’n groot verrassing wanneer die apostel Paulus die evangelie van die kruisdood van Christus as “dwaasheid” beskryf. Ons vind hier­die verwysing na die dwaasheid van die evangelie by uitstek in die eer­ste twee hoofstukke van sy eerste brief aan die gemeente in Korinte:

  • “Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God” (1 Kor 1:18).
  • “Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur wysheid leer ken nie. God het ver­kies om hulle wat glo te verlos deur die dwaasheid van die verkondi­ging” (1 Kor 1:21).
  • “Ons egter, verkondig ’n gekruisigde Christus. Vir die Jode ’n struikelblok en vir die nie-Jode ’n dwaasheid” (1 Kor 1:23).
  • “Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense en die swakheid van God is sterker as dié van mense” (1 Kor 1:25).
  • “Maar ’n niegeestelike mens aanvaar nie wat van die Gees van God kom nie; vir hom is dit immers dwaasheid en hy kan dit nie begryp nie, omdat dit slegs geestelik beoordeel kan word” (1 Kor 2:14).

Paulus verkondig hier, teen die ergernis van die Jood en die skeptisisme van die Griek, dat die kruis en die graf, teen alle verwagting in, in die evangelie tuis­hoort (Noordmans, Verzamelde Wer­ken, Kam­pen, 1980:302).

Ten spyte van die verband waarin Paulus oor die dwaasheid van God praat en die verband waarin hy hierdie uitspraak lewer, bly dit verstommend dat die apostel dit waag om te praat oor die dwaasheid van God in sulke uiters menslike terme.

Dat die apostel dit waag, het niks te doen met ’n minagtende manier van praat oor God nie. Afgesien van die probleem om hoegenaamd oor God te praat en uitsprake oor Hom te maak sonder om van ’n vorm van godslaste­ring beskuldig te word, selfs met die beste bedoelinge, is dit inderdaad so dat God in Christus mens geword en daarmee die probleem om hoegenaamd oor God te praat ondervang het. Dat ons oor God mag praat, al is dit in menslike terme, is deel van die evangeliese wonder van ’n God van eindelose genade en die diep geheim van wie God vir ons wil wees.

Die soort denke wat in alle terme oor God wil swyg en geen uitspraak oor Hom wil maak nie, het van die evangelie geen begrip nie. Ten slotte word almal tot swye oor God gedwing en word die verlossingsboodskap van sy sentrale en radikale inhoud beroof. Dit is ’n versluiering van die evangelie. Die boodskap van die God van genade in en deur Christus Jesus word hierdeur stilgemaak.

’n Afwesige God?

In sy boek verduidelik Du Toit hy is nóg ateïsties, nóg agnosties. Oor eers­ge­noemde skryf hy: “Ek sou … verkies om myself nie te definieer met ’n term wat beskryf wat ek nie is nie …” Oor die laasgenoemde skryf hy: “Ek wonder dikwels of dit nie meestal ’n cop-out is nie.” Hy sê hy is post-teïsties. “Vir my dui die post-teïstiese posisie op ’n radikale breuk met ’n metafisiese wêreld: ’n wonderlike bevryding daarvan.”

Wat ook al die geval mag wees, ons sal moet erken dat die posisie waarin Du Toit hom bevind nie uniek in die geskiedenis van die teologie is nie. Die ou agnostiese, selfs ateïstiese, tradisie, met ’n lang geskiedenis daaragter, meld hom skielik weer en met ’n ligte mate van verrassing aan in ’n debat oor die bestaan van God en sy doelbewuste ingryping, al dan nie, in die geskiedenis van die aardbol, en daarom ook van Suid-Afrika. Du Toit se boek het ons weer voor die lastige gedagte gebring dat die vraag na die bestaan en werking van God in die geskiedenis nie tot ’n vreemde onwerklikheid weggepak kan word nie.

Dat ons hier nie met ’n nuwe debat te doen het nie, het geen uitvoerige argument nodig nie. Van Bybelse tye af tot vandag toe word die vraag na God se handelinge in die geskiedenis bevraag­teken en verdedig.

Al is hierdie vraag deur die eeue heen gevra, moet ons tog erken dat ons hier met ’n relatiewe nuutjie in die Suid-Afrikaanse teologiegeskiedenis te doen het. Miskien was dit sluimerend binne Afrikaanssprekende geledere en tree dit nou eers onomwonde na vore. Die spe­sifieke geskiedenis van die Afrikaanssprekende deel van Suid-Afrika het tradisioneel immers nie baie ruimte vir so ’n debat gelaat nie. Dat dit nou wel plaasvind, sou voorsien kon word, maar maak dit nie ’n noodwendigheid nie. En of dit ooit ’n permanente plek in die teologiegeskie­denis hier in Suid-Afrika sal inneem, moet ook nog gesien word.

Wat ons wel weet, is dat sowel die vraag na God se ingrype in die geskiedenis as die ontkenning daarvan nie maklik stilgemaak sal word nie. Die ontwikkeling in die Westerse lande getuig hiervan. As ons bloot let op die ontwikkeling in die Weste en die teologiege­skiedenis van die afgelope paar eeue, sal ons gou van enige illusie hieroor verlos word.

Godsontkenning en selfvervreemding

Die eerste tekens in die Westerse denke van die ontkenning van enige Goddelike ingrype in die geskiedenis het nie, soos ons sou verwag, in die Marxistiese dele van Europa plaasgevind nie. Dit was wel met verloop van baie dekades in die 19de eeu veral in Rusland oorheersend.

In baie lande van Oos-Europa het die Marxistiese denkwyse die ideologiese botoon begin voer en die materialistiese uitkyk op die lewe was op alle vlakke van die samelewing deurslaggewend.

Die Marxisme, wat ook as ’n proletariese vorm van Godsontkenning ge­sien kan word, kan teruggevoer word na die materialistiese denkskool van die Franse Verligting.

Een van die vernaamste apologete van hierdie denkrigting was Julien Offray de La Mettrie. Hy is in 1709 in St Malo gebore, en sterf in 1751 in Berlyn. In ongeveer dieselfde tyd vind ons die optrede van Denis Diderot. Hy is gebore in Langres in 1713 en sterf in 1784 in Parys.

Diderot het in die regte in Parys studeer, maar geen beroep in hierdie rigting beoefen nie. Hy was een van daardie skaars mense wat uitsluitlik uit sy pen ’n bestaan kon maak. La Mettrie, daarenteen, was ’n medikus en ’n filo­soof, net so ’n ongewone maar nie so uitsonderlike kombinasie van beroepe vir die tyd waarin hy geleef het nie.

Van hierdie twee bekende Franse voorlopers van die Verligting was La Mettrie ongetwyfeld die bekendste en mees begaafde.

Die mens is bloot ’n ma­sjien

Met die fundamenteel materialistiese uitgangspunt dat die mens bloot ’n ma­sjien is, het La Mettrie nie alleen groot bekendheid verwerf nie, maar ook ’n kontroversiële figuur geword. Hy was verplig om uit te wyk na Leiden in Nederland, waar hy sy bekende, en berugte, pu­blikasie L’Homme machine (Die mens is bloot ’n masjien) die lig laat sien het.

In hierdie publikasie ontwikkel hy sy materialistiese en feitlik ateïstiese denkwyse. Die beginsels en etiese implikasies wat reeds hier raakgesien kan word, werk hy later meer volledig uit in sy boek Discours sur le Bonheur. La Mettrie het hierdie publikasie as sy magnum opus beskou. Daarin verwerk hy sy idee van die gevoel van berou as die oorsprong van ’n soort godsdienstige bewussyn, ’n gevoel wat reeds in die beginjare van ’n kind se lewe ontwikkel. Hierdie boek is nie juis goed ontvang binne die kringe van die Franse Verligting nie.

Ten spyte van La Mettrie se ongewild­heid in die kringe van die Verligting, word hy as een van die invloedrykste deterministe van die 18de eeu beskou. Hy het homself gesien as ’n meganiese materialis wat geglo het dat alle denkprosesse deur die liggaam gegenereer word. Die mens is en werk inderdaad soos ’n masjien.

Die invloed van die bekende Franse filosoof René Descartes (1596-1650) is duidelik by hom merkbaar.

Descartes het oorspronklik as ’n soldaat in Nederland enkele veldtogte meegemaak, waarna hy hom afgesonder het om hom as wiskundige en filosoof aan sy studies toe te wy. As wiskundige en wysgeer het hy die grondslag van die Rasionalisme ontwerp met sy uitspraak: cogito ergo sum (ek dink, daarom be­staan ek). Die mens kan alles betwyfel behalwe dat hy bestaan. Die mens as ’n denkende wese het immers ’n selfbewussyn.

Maar die mens kan ook twyfel en is daarom ’n onvolmaakte wese. Die onvolmaakte kan nie die volmaakte skep nie. Die Godsidee kom dus nie uit die mens na vore nie. Dit moet van God Self kom. Daarom bestaan God.

Terwyl Descartes die bestaan van God erken het, het sy rasionalistiese uitgangspunt daartoe gelei dat denkers soos La Mettrie tot die rasionalistiese gevolgtrekking gekom het dat God nie bestaan nie. Hierdie denkontwikkeling het neerslag gevind in die idee dat die mens bloot ’n masjien is, en La Mettrie het nie gehuiwer om tot hierdie slotsom te kom nie.

Hierdie denkontwikkeling het ook ’n voorlopige neerslag gevind in die denke van Ludwig Feuerbach.

Ludwig Andreas von Feuerbach is gebore op 28 Julie 1804 en sterf op 13 September 1872. Hy was een van die bekendste wysgere en ’n beoefenaar van die antropologie. As menskundige het hy ’n besonderse status gehad.

Feuerbach het oorspronklik aan die Universiteit van Heidelberg studeer, maar nie ’n graad daar verwerf nie. La­ter het hy na die Universiteit van Berlyn verskuif en uiteindelik sy akademiese loopbaan aan die Universiteit van Erlangen voltooi, waar hy ’n doktorsgraad in die filosofie verwerf het.

As antropologiese materialis het hy onder die jong Hegeliane as ’n mate­rialis en ’n humanis bekendheid ver­werf. Reeds in 1828, as 24-jarige, skryf hy ’n proefskrif met die titel De infinitate, unitate atque, communitate rationis (Die oneindigheid, eenheid en universaliteit van die rede). In November 1828 verskyn sy boek De ratione, una, universali, infinita (Die een, universele en oneindige rede).

Feuerbach het egter as denker veral bekendheid verwerf deur sy boek oor die wese van die Christendom (Das Wesen des Christentums) met ’n uitbreiding en verduideliking van hierdie boek wat in 1846 sou volg.

Hy het ’n groot rol onder die linkse Hegeliaanse groepe van sy tyd gespeel en was veral verantwoordelik vir die antropologiese materialisme wat in hierdie groep denkers die bestaan van God openlik ontken het.

Dit sou veral sy boek oor die wese van die Christendom wees wat later denkers soos Charles Darwin, Karl Marx, Sigmund Freud, Friedrich Engels en Friedrich Nietzsche sou beïnvloed.

Feuerbach was in staat om deur sy skerpsinnige denke en skryfwyse doel­bewus die massas te bereik. Ook op hom, soos op talle ander denkers van hierdie tyd, het Freud duidelik sy stempel geplaas met die gedagte dat God ’n projeksie van die menslike gees is.

Tydens die opstand van 1848 in Europa het Feuerbach se aanvalle op die ortodoksie in die Christendom groot opslae gemaak, maar Feuerbach self het hom daarvan weerhou om tot enige politieke stryd toe te tree.

Ten spyte van Feuerbach se besluit om nie op die openbare politieke platform te verskyn nie, het sy invloed gro­ter gevolge gehad as wat ’n mens sou vermoed. Dit was veral Karl Marx en Friedrich Engels wat hom gevolg het in die soort denke waarin daar vir God geen plek was nie.

Met Feuerbach se bekende stelling dat die teologie eintlik antropologie is en met sy teorie dat die Christelike Godsgedagte ontmasker moet word as die produk van die mens se selfvervreemding, het die Westerse denke ’n beslissende wending begin neem. Die Christelike Godsidee is al meer beskryf as die produk van menslike selfvervreemding. Godsdiens is niks anders nie as die uiteindelike produk van hierdie menslike selfvervreemding.

Godsdiens is ’n illusie en die Gods­gedagte word gesien as die produk van menslike selfvervreemding, ’n projeksie van die mens se angs en begeertes na ’n fiktiewe hemel. God is die wensprojeksie van die mens. As die mens geen wense of begeertes gehad het nie, beweer Feuerbach, sou daar geen gode gewees het nie.

Godsdiens is inderdaad die produk van menslike selfvervreemding.

Die mens het God uitgevind as ’n wese wat beskik oor al die eienskappe wat die mens self nie het nie. Die mens skep teenoor die mens self ’n wese uitgedos in al die eienskappe wat die mens self nie het nie, maar tog intens begeer: oneindigheid, goedheid, krag, heiligheid en, bowenal, ewigheid.

Omdat mense nie hierdie eienskappe aan hulleself kan toeken nie, projekteer hulle dit op ’n wese wat al hierdie eienskappe het wat by hulle ontbreek. Mense kan slegs negatiewe eienskappe aan hulleself toeken en al die goeie eienskappe projekteer hulle dan op ’n fiktiewe God. God word verryk deur die beste eienskappe van die mens self. Die mens verryk God ten koste van die mens.

Só word die mens vervreem van sy of haar beste eienskappe en dit word geprojekteer op ’n God wat niks anders as ’n illusie is nie. God en die godsdiens, wat met die idee van God saamhang, is bloot ’n menslike projeksie.

Feuerbach se projeksieteorie is deur Karl Marx oorgeneem.

Karl Marx het die denker geword wat in die voetspore van die wysgeer Feuerbach geloop het. Hy het dit egter toegepas en geradikaliseer op sosiaal-maatskaplike gebiede in die Weste en dit uiteindelik op ’n indringende en uiters invloedryke manier na die ooste van Europa laat deursyfer.

’n Omvattende bespreking van Marx se denke is binne die bestek van hierdie artikel feitlik ’n onbegonne taak. ’n Wydlopende bespreking van Godsontkenning sou soos volg ingedeel kon word:

  • Karl Marx en ’n keerpunt in die ge­skiedenis
  • Friedrich Engels en die Kommunistiese Manifes
  • Die Kommunistiese Manifes, Marx en Engels
  • Leninisme as historiese variant van Marxisme
  • Die eksistensialistiese Godsontkenning
  • Die Godsontkenning van die Positivisme

’n Studie van verskillende gestaltes van Godsontkenning lei tot die ontdekking dat dié wat die bestaan van God ontken, dit nie almal eenders doen nie. Die gestaltes waarin Godsontkenning na vore kom, verskil van mekaar, afhangende van die vertrekpunt van waaruit gedink word.

Net soos die geloof in God of ’n godheid verskillende gestaltes aanneem, net so kan die gestaltes van die ongeloof in die bestaan van God meer as een vorm aanneem. Die gemene deler is een­voudig: God bestaan nie. Daar is geen God nie.

Daar was ’n stadium toe sommige denkers alle vorme van godsdiens waar­in daar nie uitdruklik na ’n god of gode verwys word nie sonder meer as ateïsties beskryf het. Daar was die neiging om hier­die term te gebruik vir bepaalde pri­mitiewe vorme van godsdiensbeoefe­ning, soos om die Boeddhisme en sekere primitiewe godsdienste sonder meer in te skakel by die ry denkers en mense wat nie in die bestaan van God glo nie. Hulle beoefen wel godsdiens, maar dit is ’n godsdiens sonder God; godsdiens son­der die geloof in die bestaan van ’n godheid. ’n Godsdiens sonder ’n god klink na ’n teenstrydigheid, maar dit is inder­daad ’n moontlikheid. Na my mening is daar godsdienste wat wel as godsdienste beskou word, maar ’n god of gode is nie daar ter sprake nie. Die ontkenning, ver­al van ’n persoonlike God, hoef nie te beteken godsdiens of die ontkenning van enige objek van godsdienstige ver­ering ontbreek nie.

Net so min kan van ateïsme gepraat word na aanleiding van Psalm 10 en 14 wanneer die goddelose teoreties nie die bestaan van God ontken nie, maar Hom prakties opsy skuif in die manier waarop hulle leef: “Met sy neus in die lug dink ’n goddelose mens altyd ‘God vra nie rekenskap nie; daar is geen God nie’” (Ps 10:4), en: “Dwase maak hulle wys: ‘Daar is geen God nie’” (Ps 14:1).

Streng gesproke is ateïsme die teoretiese of beredeneerde ontkenning van die bestaan van ’n persoonlike God of iets goddelik. As sodanig is dit in die geestesgeskiedenis van die Weste ’n betreklik moderne verskynsel wat met die proses van sekularisering saamhang.

Terwyl hierdie proses steeds in die Weste plaasvind, vind ons dit nie altyd in ’n teoretiese vorm nie, maar wel in ’n faktiese of praktiese vorm van Gods­ontkenning. Die bestaan van God word in teorie op ’n manier erken (selfs as vloekwoord), maar nie God se direkte betrokkenheid by sy skepping en sy werksaamheid daarin nie. God is nie dood nie, maar Hy is dood vir sy skepsele.

Die nuwe gesekulariseerde werklikheid in sy tegnokratiese gestalte kan blykbaar sonder God klaarkom.

Die situasie van die “mondige” mens word deur Dietrich Bonhoeffer verwoord wanneer hy beweer: “En ons kan nie eerlik wees sonder om toe te gee dat ons hier moet leef asof God nie bestaan nie. Dit is juis wat ons wil erken – voor God! God dwing ons tot hierdie erkenning. So voer ons mondigwording ons tot ’n waaragtige erkenning van ons si­tuasie voor God. God laat ons verstaan dat ons moet leef as diesulkes wat met die lewe klaar kan kom sonder God. Die God wat met ons is, is die God wat ons verlaat … Die God wat ons laat leef … sonder die arbeidshipotese-God, is die God voor wie ons altyddeur staan. Voor en met God leef ons sonder God. God laat Hom … verdring, tot aan die kruis. God is onmagtig en swak … maar juis so is Hy by ons en help Hy ons …” (Wider­stand und Ergebung, München, 1959:241-242).

In hierdie uitspraak pleit Bonhoeffer vir ’n godsdienslose Christendom as die begin van ’n egte Christelike geloof waardeur dit sal blyk dat God wel daar is. Bonhoeffer se godsdienslose Christendom is nie ’n Christendom sonder God nie. In die onmag van die kruis bly God vir hom uiteindelik God.

Dieselfde kan egter nie van die “God is dood”-teologie gesê word nie. Hulle radikaliseer die gedagte van die afwesigheid van God in so ’n mate dat God ophou om God te wees in die letterlike sin van die Woord.

Wanneer ons die verskillende vorme van Godsontkenning in ons moderne tyd bestudeer, is dit opvallend dat ons telkens te doen kry met ’n drang om God op ’n manier te vervang. Die be­staan van God word nie ontken en daarmee is dit afgehandel nie. Die een of ander onduidelike of moeilik beskryfbare verpligting word aangevoel teen­oor ’n mag wat nie met die gelade term “God” nie, maar in gewone terme omskryf word.

Dat ons hier te doen het met ’n surrogaat vir God, met ’n nagemaakte absoluutheid, word beklemtoon deur die feit dat die term in die newel van onbeskryfbaarheid bly. So word die mens gesien as gerig op die nuwe (Garaudy), die utopiese droom (Bloch), die self­transenderende liefde (Gardavsky), of bloot op homself as sy vryheid (Sartre).

Die vervanging kan ook meer alledaags wees wanneer die aanspraak van absoluutheid aan die rede, die gesonde verstand en die wetenskap toegedig word.

Ten slotte kan die vervanging ook “teologies” wees, byvoorbeeld wanneer die mens Jesus in sy aansteeklike vryheid in die plek van God gestel word (Van Buren).

In watter mate die moderne mens in ’n gesekulariseerde samelewing God ook al uit die oog verloor het, kan die mens hom nie losmaak van die oortui­ging dat sy lewe ten slotte op ’n transsubjektiewe mag gerig is nie.

Bogaande stelling bied geen Godsbewys nie, maar vir die geloof is dit ’n heenwysing na die feit dat God die mens nie met rus laat nie.

In Romeine 1:18-19 lees ons: “God se toorn word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongereg­tigheid te onderduk, aan­gesien dit wat van God geweet kan word, onder hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak.”

Die ontkenners van die bestaan van God kan nie ontsenu word deur die sogenaamde Godsbewyse nie. In laaste instansie bewys die sogenaamde “Gods­bewyse” nie die bestaan van God nie, slegs die onontbeerlikheid van ’n borg vir ons bestaan (O Weber, Grundlagen der Dogmatik I, Neukirchen, 1959:249).

’n Bewese God is nie die lewende God, die Vader wat Hom in die Here Jesus Christus geopenbaar het nie, maar bloot ’n Aristoteliaanse eerste beweger of eerste oorsaak wat dien as waarborg vir die mens dat sy of haar lewe nie toe­vallig is nie, nie bloot ’n samesmelting van toevallige moontlikhede nie. So ’n waarborg verskil egter nie wesenlik van ’n transsubjektiewe mag wat ons by meer as een rigting vind wat die bestaan van ’n godheid ontken nie.

Tussen byvoorbeeld Comte se onveranderlike natuurwet en ’n God wat die proses van natuurwetmatigheid aan die gang gesit het, bestaan daar geen wesenlike verskil nie. God is nie ’n metafisiese grootheid wat uit die werklikheid bewys moet word nie. Hy is die God wat Hom in sy skepping openbaar. Hy is die God wat ons in die konkrete gestalte en geskiedenis van Jesus Christus ontmoet.

Vir die natuurlike, sondige mens is die verkondiging van hierdie God ’n dwaasheid (1 Kor 1:21). Daarom kom die verkondiging oor God in die moder­ne, gesekulariseerde samele­wing nie in die oorredende woorde van menslike wysheid nie (1 Kor 2:4), maar in die dwaasheid van die predi­king van die kruis.

Hierdie anti-metafisiese karakter van die Christelike verkondiging van God in Jesus Christus wil geen ont­vlugting wees van die vrae wat dié wat die bestaan van God ontken oor die skepping vra nie.

Inteendeel, die God wat Hom in Christus openbaar, word bely as die Skepper van hemel en aarde. Daarom sal die Christelike teologie altyd teen die versoeking waak om toe te gee wanneer die bestaan van God ontken word, maar die idee van God nogtans gebruik word vir ’n soort verklaring van die onverklaarbare in die lewe van die mens.

Tot skade van die Christendom het hierdie soort teologie in die leemtes wat in die natuurwetenskappe voor­kom ’n plek vir God ingeruim. Dit beteken hoe meer die mens self kan verklaar en hoe meer die mens die leemtes in sy of haar kennis kan opvul, hoe verder word God op die agtergrond gedring.

Hier het ons met ’n soort teologie te doen wat sigself kan vernietig as dit nie meer ’n plekkie kan vind om God in te druk nie. God is nie, in die woorde van Bonhoeffer, ’n toestopper van leemtes nie. Hy het met die totale werklikheid te doen. God moet as sodanig verkondig word in ’n eeu van sekularisasie en ongeloof.

Net so selfvernietigend is ’n teologie wat, in plaas daarvan om God in ’n gesekulariseerde omgewing te verkondig, swig voor die mag van die sekula­risme in die hoop dat daar nog iets van die evangelie kan oorbly in die slagspreuk: God is dood, Jesus leef.

’n Jesus-verkondiging wat nie ’n Godsverkondiging is nie, is nie ’n Jesus-verkondiging nie omdat Jesus alleen Jesus is, as die Seun wat Hom onvoorwaardelik toevertrou het aan sy Vader wat in die hemel is.

Trouens, teenoor enige vorm van sekularisme moet daar duidelik gestel word dat daar geen beter tyd is vir die boodskap van God as juis die eeu van Godsontkenning nie. Wie brood het om weg te gee, beweer Ebeling (Wort und Glaube II, Tübingen, 1969:377), gee aan dié wat broodloos is, Die geneesheer begeef hom na die kranke, die bode van God na die godlose.

Ons het reeds gewys op die gepostuleerde karakter van ’n geloof wat ontken dat daar ’n God is. Die Godsverkondiging aan dié wat so glo, moet dit bo alle twyfel duidelik maak dat dit in die erkenning of ontkenning van God ten diepste nie gaan oor die teo­retiserende verstand van die mens nie. Hier gaan dit om deurslaggewende geloofsbeslissings.

Hier gaan dit om ’n keuse, ’n allesbeslissende keuse: vír God of téén God!

Word 'n vriend van Kerkbode