Hoewel hy die akademie en die Struggle van sy kinders weggehou het, was Jaap Durand se motto in die lewe een van regverdigheid en liefde vir almal.
Só het een van die bekende teoloog se seuns, Jaco, Maandag aan Kerkbode gesê nadat Durand omstreeks 4:30 vm op 24 Januarie in sy huis by La Clémence-aftreeoord buite Stellenbosch oorlede is.

“Ons het net sy pa-kant geken,” het Jaco verduidelik oor die teoloog, skrywer en akademikus wat sy vrou Sonja, drie kinders en drie stiefkinders agterlaat. Oor Durand se afsterwe het hy gesê: “Die laaste pad was maar steil.” Die gesin was Maandag besig om begrafnisreëlings by die VGK Rynse Kerk op Stellenbosch te tref.
“In ’n samelewing gelaai met spanning en konflik, was sy insette nie primêr polities gemotiveerd nie, maar teologies van aard,” luidens die e-CKE-inskrywing oor die dogmatiek-prof wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland ook dekaan van die Fakulteit Teologie en adjunk-visekanselier was, asook waarnemende visekanselier tot met sy uittrede in 1995.

Prof Nico Koopman, teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch, het vroeër op Netwerk24 Durand se sleutelbydraes beskryf: “Oom Jaap het die NG Kerk se teologiese ondersteuning van apartheid op gesonde teologiese grondslag teengestaan. Hy het in die kommissie gedien wat in 1982 die Belydenis van Belhar opgestel het. Hy het gevra dat daar nie nuwe formulerings uitgedink moet word nie; die kommissie moet gewoon dít op skrif stel wat die destydse NG Sendingkerk se mense reeds glo.”
Durand was einduit ’n produktiewe skrywer en Bybel-Media, Kerkbode se uitgewer, het verskeie van sy boeke gepubliseer. “Dit was die afgelope paar jaar ’n voorreg vir almal van ons by Bybel-Media om geassosieer te wees met Oom Jaap en sy boeke,” het dr Nico Simpson, hoof- uitvoerende beampte van Bybel-Media, gesê. “In sy boek Dit is amper dag vra Durand die vrae wat mense oor hulle lewe, die dood en die ewige lewe vra. By die boekbekendstelling het Simpson die skrywer bekendgestel met die volgende woorde: “Bybel-Media eer mense wat bome plant al sal hulle nooit in die skadu daarvan sit nie. Oom Jaap is so ’n mens. Ons eer mense wat grense oorsteek en beperkings uitdaag. Oom Jaap is so ’n mens. Ons eer mense wat weet ons leen die aarde by ons kinders. Oom Jaap is so ’n mens. Ons eer mense wat ’n ligspoor laat.”

Nog hulde het Maandag gevolg op nuus van Durand se dood. “Ek was bevoorreg om ’n tyd lank professor Durand se gemeentedominee te wees,” het dr Pieter Fourie, ’n voormalige uitvoerende hoof van Bybel-Media, Maandag per e-pos laat weet. “Dit was toe hy in die laat sewentigerjare by die Rynse Gemeente van die NG Sendingkerk op Stellenbosch aangesluit het omdat hy hom nie langer met die apartheidsteologie van die NG Kerk kon vereenselwig nie.
“Die hele Durand-gesin het Sondae taamlik voor in die statige, historiese Rynse kerkgebou langs die Stellenbosse Braak gesit. As jong dominee was dit nogal ’n bietjie oorweldigend om voor hierdie uitgelese teologieprofessor jou prekies te lewer. Maar dit was ook ’n goeie dissipline wat voorbereiding aanbetref! Die kere wat hy self daar gepreek het, het die gemeente aan sy lippe gehang.
“Later jare by Bybel-Media, toe ons heelwat van sy boeke uitgegee het, was ek bevoorreg om heelwat van dié boeke te redigeer. Redigering is nie altyd maklik nie – soms is dit baie onduidelik wat die skrywer nou eintlik bedoel. Maar nie met Jaap Durand nie.
“In die voorwoord van een van sy boeke Dit is amper dag, het ek geskryf:
‘Teenoor hierdie populêre teologie – van ’n onsterflike siel en ’n tussentoestand – stel Durand met verbysterende helderheid ’n verfrissende alternatief: die ewigheid. Elke moment strand ons tyd aan die oewers van die ewigheid.
‘Maar nou moet ons nie ons idee van tyd op die ewigheid wil toepas, asof die ewigheid bloot ’n lang verloop van tyd sonder ’n einde is nie. As ons dit doen, maak ons asof die ewigheid maar net ’n ander vorm van tyd is. Die ewigheid is nie definieerbaar nie. Júis nie! Al wat ons van dié misterie mag ken en weet, is: Die ewigheid is waar God is.
‘Daarom wat Durand so aangrypend kan afsluit: Aan die einde van my lewe is God daar. Sy groot toekoms, die koms van sy koninkryk, die vervulling van al sy beloftes, wag op my wanneer ek my oë finaal sluit.
“Dit is amper dag (Rom 13:11-12)”.
Durand se laaste bydrae aan Kerkbode was ’n skrywe in reaksie op die verskyning van dr Ben du Toit se boek God – Is daar ’n ander antwoord? ’n Bevrydende reis. Durand het daarin op soek gegaan na “ligpunte” in Du Toit se opspraakwekkende boek. “In my soeke het daar in my gemoed ’n baie ou gereformeerde stelling opgekom wat ek van kindsbeen af geleer het: Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God!” skryf Durand in ’n uittreksel van ’n skrywe wat Kerkbode HIER gepubliseer het.

Iminyatelo yakho ayipheli, iyasikhokela
Mhlekazi, lala ngoxolo (Afrikaans: Jou voetstappe is eindeloos, hulle lei ons
Meneer, slaap in vrede)