Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Prof Johannes Froneman se vraag “Wat beteken Tutu se teologie?” (Kerkbode, 21/01/2022) het betrekking.
Ek stem saam met prof Froneman dat wyle emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ’n besondere mens was wat ’n bepaalde boodskap van liefde op maatskaplike en politieke vlak laat grondvat het toe die land dit die nodigste gehad het.
Met opgetekende uitlatings van die wyle emeritus-aartsbiskop dat dit nie saak maak waar ons aanbid of wat ons God noem nie; dat daar net een, interafhanklike menslike familie is; dat die Heilige Gees deur Mahatma Gandhi skyn en dat God nie ’n Christen is nie, kan ’n mens seker afleidings maak oor sy teologie, naamlik dat alle gelowe volgens hom na God lei.
Universalisme (alle gelowe lei na God) trek ’n dik swart streep deur en vertrap Jesus se menswording, sy lyding, sterwe en opstanding. Sonder ’n opgestane Jesus is alle gelowe sonder inhoud (1 Kor 15:14). Dit ignoreer ook die Bybel se boodskap dat daar NET EEN GOD is: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en NET EEN HERE: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (1 Kor 8:5-6). Net so kanselleer dit alle sendingwerk en die bloed van martelare wat gevloei het ter wille van die een, ware evangelie van Jesus Christus. Universalisme is ook teenstrydig met die NG Kerk se belydenisskrifte (NGB Art 26 en HK Sondag 5 en 6; vraag 11 tot 19).
Kerkleiers verwys ook graag na Tutu as ’n “morele kompas”. ’n Kompas is ’n toestel wat die rigting van magnetiese noord aandui en is een van die belangrikste instrumente vir navigasie. Psalm 119 vers 6 vra: “Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou?” en dan die antwoord: “Deur hom te hou aan u Woord!” Die Bybel is ons kompas, ons bron vir moraliteit, want daarsonder is ons soos skepe wat heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer (Ef 4:14). Die Woord van God, die Bybel, is die enigste rots waarop moraliteit gebou kan word.
Doktore Gustav Claassen en Frits Gaum het albei by geleentheid stellings gemaak dat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu “ook die NG Kerk se Arch” is. Die woord “Arch” kom van “Aartsbiskop”. Met die Hervorming het reformerendes juis van Rooms-Katolisisme weggebreek. Hoe op aarde kan Desmond Tutu dan die Nederduitse Gereformeerde Kerk se aartsbiskop wees?

Dankie Dr Klaasing. U bevestig net weer hoe dwaling in ons kerke ingedra word deur genoemde doktore.
Tutu was n vredemaker en ek onthou hom daarvoor. Ek onthou egter ook dat hy destyds volgens berigte gesê het dat Jesus nie werklik vir ons sondes moes sterf het nie.
“Jesus antwoord hom: Ek is die weg, die waarheid en die lewe; NIEMAND kom na die Vader behalwe deur My nie” Joh. 14:6