Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat beteken Tutu se tipe teologie?

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Waar die “Arch” nou nie meer met ons is nie, bly die vrae oor geloof en die unieke pad na redding steeds relevant vir ons wat agterbly, skryf Johannes Froneman.

Die dood van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu* het ’n ongekende stroom van huldeblyke en mooi herinneringe meegebring. Sy standvastigheid teen onreg, empatie met ander se hartseer, humor en, les bes, gewilligheid om Afrikaans te praat, is van die deurlopende temas.

Lees ook: Desmond Tutu (90): Gelag, gehuil, liefde betoon

In die 1980’s was hy egter ’n klip in die regering van PW Botha se skoen en is hy aan ons voorgehou as ’n demagoog wat geweldenaars ondersteun. Sy standpunt was egter dat hy die doelwitte van die ANC ondersteun het, maar nie die (gewelddadige) metodes nie.

Ná 2 Februarie 1990 het hy ander rolle vervul, soos dié van voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), waar hy biegvader van die nasie was, of dan diegene wat in die apartheidsbestel hulle aan erge oortredings van menseregte skuldig gemaak het. Hy was ook die skouer waarop benadeeldes kon kom huil. Later het hy ’n skerp kritikus van die ANC-regering se korrupsie geword.

Hoewel daar ook kritiek op die WVK was, senior ANC’s gemor het oor sy meer onlangse kritiek, konserwatiewe Christene nie altyd dit eens was met al sy standpunte nie, en jong swart mense ernstige vrae vra oor die nut en meriete van die WVK, het hy ’n wye aanhang geniet en word hy vandag geëer.

Lees ook | Marius Nel skryf: Om jouself deur ander te ken

Dit laat steeds die vraag waarom hy as geestelike so suksesvol was om weinig kritiek te ontlok van mense wat normaalweg skerp krities teenoor die kerk staan. Selfs sy ouwêreldse pers gewaad het nooit ’n skuins opmerking ontlok nie … Sy onbeskaamde openbare geloof en vertroue in gebed het op die oog af nie aanstoot gegee nie. Of hy is maar verduur. Waarom?

’n Antwoord hierop lyk vir my die aartsbiskop se standpunt dat ons almal “God se kinders” is. Daarmee het hy ’n groot teologiese klip uit die pad gerol. Want gewoonlik sal Christelike kerke argumenteer dat hulle die weg na God verkondig. Dit is ’n boodskap wat insluit, maar ook uitsluit.

Tutu se vriendskap met die Dalai Lama (’n Boeddhis) het sy oop benadering teenoor ander godsdienste telkens bevestig. Een herdenkingsdiens in Kaapstad het juis verteenwoordigers van verskeie gelowe ingesluit. Nie-Christene kon dus ook tuis voel by Tutu, want hy het niemand uitgesluit nie. God is almal se God. So lees ek sy teologie.

Het hy dus ’n evangelie van verlossing vir álmal verkondig — ook niegelowiges? Sy grappie oor die Christene wat apart onder ’n boom in die hemel sit, word juis oorvertel. Die punt is dat die Christene (verkeerdelik) gedink het hulle gaan alleen daar wees.

Hierdie inklusiewe teologie het goed afgegaan by vrydenkende Christene, ongelowiges en mense van ander gelowe.

’n Tweede belangrike rede, so lyk dit my, is sy houding jeens verskeie eties verdelende kwessies, soos homoseksualiteit, huwelike tussen mense van dieselfde geslag, genadedood en die posisie van die vrou in die kerk. Hy was altyd akkommoderend, anders as Christene wat op Bybelse gronde soms standpunte huldig wat erg aanstoot gee.

Hulle argument is dat die Woord van God duidelik teen sekere praktyke is en dat ons as gelowiges geen keuse het nie as om dit af te keur.

Progressief-liberale Christene (by gebrek aan ’n beter benaming) én nie-Christene het nie in Tutu iemand gevind wat ’n behoudende standpunt teenoor enige van hierdie sake gekoester of verkondig het nie. Hy was dus ’n “gawe” dominee wat niemand vermaan het oor daardie sake wat die kerk deur die eeue as sonde uitgewys het nie. Tutu se boodskap was eenvoudiger: Wees lief vir mekaar deur almal as gelykes te aanvaar.

In daardie sin was Tutu ’n baie progressiewe teoloog wat gemaklik ingepas het by die heersende tydsgees. Sommige sal argumenteer dat sy boodskap nogal soos Jesus s’n klink.

Vandaar dat so baie Christene vanuit verskillende kerkgenootskappe hom as “hulle aartsbiskop” aanvaar het. Hy het hulle laat goed voel om Christene te wees; hy het ook nie-Christene laat goed voel. Die evangelie van insluiting het op gewillige ore geval – veral en juis omdat hy ’n alternatief vir die politiek én onderliggende teologie van apartheid moes bied.

Praat saam: Stuur ‘n lesersbrief na Kerkbode 

’n Vriendelike lesing van Tutu as openbare figuur is dat hy die implikasies van sy Christelike geloof – ’n geloof waarin sondebesef, skuldbelydenis en versoening sentraal staan – vernuftig ingespan het om ’n gees van versoening in ’n sekulêre post-apartheid-era te bevorder. Maar sy versoeningsboodskap moet tog gelees word in die lig van die ander aspekte van sy belydenis.

Wat my weer laat met die vraag: Wat beteken Tutu se tipe teologie?

Ek deel ander se bewondering vir Tutu as iemand wat ’n besondere mens was. Hy het sekerlik die Bybelse boodskap van liefde op maatskaplike en politieke vlak laat grondvat toe die land dit die nodigste gehad het. Hieroor het ek geen twyfel nie.

Maar dit is seker billik om vrae te vra waarom hy so universeel gewild was. My tentatiewe antwoorde is dus ’n poging om verdere denke en kommentaar te stimuleer – veral ook van teoloë wat meer verstaan as ’n gewone lidmaat soos ek.

Want waar die “Arch” nou nie meer met ons is nie, bly die vrae oor geloof, sonde, die soendood van Jesus Christus, die unieke pad na redding wat die Bybel aandui, ons houding teenoor ander gelowe, hemel en hel, die ewigheid steeds absoluut relevant vir ons wat agterbly.

Wat is die ononderhandelbare kern van ons geloof wat potensieel mense kan afstoot? Watter aspek van die Woord is soos ’n tweesnydende swaard?

Of is ons geloof maar een van talle wat lei na een genadige God van liefde? Kan ongelowiges ook maar by die agterdeur inglip? Solank hulle nie die Christene onder die boom pla nie.

Prof Johannes Froneman is ’n emeritus-professor in joernalistiek en lidmaat van die NG Kerk Kleinmond.


*Desmond Tutu (1931-2021) is op 26 Desember in Kaapstad oorlede. Die emeritus-aartsbiskop is in 1978 as algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) aangewys, en so het die werk wat hy as kerkleier en as stryder teen apartheid verrig het, onder die aandag van die wêreld gekom. In 1984 is die Nobel-vredesprys aan hom toegeken. In 1985 is hy as biskop van Johannesburg verkies. ’n Jaar later (1986) het die mantel van aartsbiskop van Kaapstad op hom geval. Sy aanvaarding by die Rustenburg-kerkeberaad in 1990 van prof Willie Jonker se belydenis oor apartheid het ’n wye rimpeleffek gehad. In 1995 het pres Mandela hom aangestel as voorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie. Bron: ecke.co.za

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Wat beteken Tutu se tipe teologie?”

  1. Prof Johannes Froneman se kernuiteensetting van die Tutu-teologie is rou eerlik en op die punt af. Dankie daarvoor. Hiermee het hy ook vir ons die breuklyn wat tans deur die NGK en ander kerke loop, onteenseglik aangedui. Terwyl Skrifbehoudende lidmate maklik as verdagmakers en kwaadsprekers beskou en selfs gemarginaliseer word, is dit duidelik dat die teenswoordige vasgelopenheid in die NGK nie sonder ‘n wesenlike verskil in teologie en lewensbeskouiing is nie. Die konsep van die universele vaderskap van God en die gevolglike kindskap van alle mense lê diep in die liberale, imperiale en koloniale teologie waarvan Tutu en sy Anglikaanse (sic) Kerk steeds ywerige draers is. Die lofverheffing oor Tutu het ons in die NGK inderdaad gehelp om te weet wie by Wie en wie by wie staan. Die NGK se dryf van inklussiwiteit het dus nie uit die lug geval nie en kom ook teen ‘n prys. Daarvoor moet die Woord soos deur al die eeue verkondig ongelukkig gekompromiteer word.

  2. In die tagtigerjare was daar, tydens n Kaapse sinode, n hele kabaal in die engelse media oor n opmerking van die kapelaangeneraal van die weermag, ds. Colyn, dat Islam n militante godsdiens is. En hierdie aanname het gekom van n Apartheidsondersteuner, so is geglo, wat as geestelike werker toegesien het dat verdruktes, deur die loop van n geweer, militant oor verdruktes regeer het.

    Tydens n samekoms van n groep NGK predikante, het ek die aartsbiskop Tutu, as eregas, gevra hoekom hy nie die hand gevat het van n christen wanneer dit gaan om die insypeling van heidene in ons land nie. Moet hy nie lojaal bly aan die Woord van God en so die waarheid apologeties verdedig nie? Uit sy antwoord kon ek aflei dat dit vir hom meer om verdediging en aankleef van politieke motiewe gaan as die evangelie. Tutu het al opgemerk dat die Boeddhis die Dalai Lama vir hom die grootste heilige is wat hy nog ontmoet het. Asof hy nog nooit christene leer ken het nie! Tutu het die wereld liefgehad en die dinge wat in die wereld is. Sy christelke etiek is kontroversieel en nie bybels gegrond nie. Maar die massa hou daarvan. Sy beskouinge word, so glo ek, vandag deur die ware kerk gesien as n rigting wat dui op n nuwe wereldorde. Ek is van mening dat hy gou vergeet gaan word.

Comments are closed.

Scroll to Top