Mos maar saam: Jurie Hendrik le Roux (14 Nov 1944 – 12 Okt 2021)

Veral in dankbaarheid, vir wie hy was en vir sovele goeie dinge wat hy vir ons beteken het, en ook met hartseer dat hy nou heengegaan het, bedink ons vir ’n wyle, maar vir altyd, die gawe wat Jurie le Roux vir ons was.

Vir sy geliefdes het hy alles gegun; aan die akademiese en kerklike werk (laasgenoemde deeltyds van 1972 tot 2010) het hy sy werkkragte gewy. Hy was ’n intellektuele reus, met die nederige idee dat hy te min weet; hy het ons almal egter oortref. In welstand het hy nie grootgeword nie. Deur toewyding het hy egter die akademiese weë gebaan, met uiteindelik ’n Honneursgraad in die Filosofie, ’n Meestersgraad in die Sosiologie en ’n Doktorsgraad elk in die Antieke Kerkgeskiedenis en die Ou-Testamentiese Wetenskap. Hy was altyd intens dankbaar dat ’n universiteitsloopbaan hom beskore kon wees. Hoogtepunte het ingesluit sy lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en sy voorsitterskap van die Ou-Testamentiese Werksgemeenskap van Suid-Afrika.

Lees ook: ASM: Kerkleiers gesels openlik oor teologiese opleiding en oor verskille binne NG Kerk asook ‘witwerk’ as geloofsgewoonte

Jurie se akademiese aanslag, eers by Unisa (1971-1986) en toe by UP (1987-2009, en na aftrede steeds in ander hoedanighede), was om hom behoorlik ín te leef in die antieke en die moderne. Dít doen ’n mens deur te lees, lees, lees, tot jy ’n gevoel kry vir hoe die werklikheid tóé was en hoe, in die lig daarvan, die lewe nou kan wees. Dan verstaan jy ’n Iets. Om maar weer te gaan luister, te redeneer, te lees en te refereer. Toewyding, altyd.

In Jurie se intellektuele wêreld was daar nie verlede én hede nie; daar was net verlede-en-hede. Eweneens was daar nie by Jurie geloof én lewe nie; daar was geloof-en-lewe. Mense-wat-altyd-saakmaak. God-wat-altyd-daar-en-hier-is. Al hierdie sake is te kompleks om volledig te verstaan. Daarom skryf jy daaroor, in afhanklikheid, en as diens: uitgebreide klasnotas; e-dagstukkies en die “teologiese kleinkuns” van teo.co.za; tallose preke; ’n artikel, ’n hoofstuk of ’n boek.

By nadenke, het Jurie deur sy Pro Pent (sy gespreksgroep oor die Pentateug) inisiatief die mees invloedryke akademikus in die Suid-Afrikaanse Teologie geword. Hoeveel nadraaie was daar nie! Waarin ons op ander gebiede as Jurie se geliefde Pentateug, sy twee-dekade-lange ywer wou navolg oor ook die Psalms, die Profete, die Apokaliptiese literatuur, die Wysheidsboeke, Hooglied, die Qumran-geskrifte. Hierdie diepgaande spesialisprojekte dra almal die stempel van Jurie le Roux se oorspronklike bloudruk.

Saam met sy naby-mense en sy werk, het Jurie ’n lewenslange liefde gehad vir klassieke musiek en vir letterkunde van alle aard; vir die Franse eksistensialiste en die Duitse hermeneutici; vir mense wat swaarkry; vir die Afrikaanse taal (naas die ander drie antieke en drie moderne tale wat hy magtig was); vir studente en kollegas; vir die intellektuele tradisie; vir koffie en eiers, pap en wors, ’n snytjie roosterbrood; ’n Coke en – net soms – ’n bier, alkoholvry. Sy kinderdae in die gesin se kafee waar hy sit en skoolwerk doen het, het ’n onverwagte weerklank gevind in sy ontdekking van onder andere Sartre en Camus se koffiewinkelgesprekke en -werksplekke vanwaar hulle die wêreld verander het. Dit het neerslag gevind in hoe Jurie met sy studente en kollegas omgegaan het, in hoevele intellektuele etensgesprekke.

Van daardie plekke bestaan nie meer nie. Maar ons wat deur sy denke gevorm is, sit onwillekeurig daardie tradisie voort. En Jurie se gedagtes verryk so verre kringe, waar dit uiteindelik neerslag vind, meestal geheel anoniem. Soos alles wat sin gee. Dit is die nietigheid en die vreugdes wat saam-saam die lewe máák; Gode sy dank – aldus die Prediker.

Toe Jean-Paul Sartre die grafrede lewer na sy eertydse vriend Albert Camus se skielike sterwe, het hy op tipies Franse manier – Jurie sou oor hierdie karakterisering lag! – gesê: Om geskeid van mekaar te wees, is net ’n ander manier van om saam met mekaar te wees. En so is ons totsiens aan Jurie ook eintlik maar geen afskeid nie. Ons is mos maar saam.

  • Saamgestel deur prof Christo Lombaard (Hoof: Department Praktiese Teologie en Missiologie) en prof Dirk Human (Hoof: Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte) aan die Universiteit van Pretoria.

Lees gerus hoe kollegas akademies oor Jurie besin het:

·         https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC85836

·         https://verbumetecclesia.org.za/index.php/ve/article/view/2173/4349

·         http://www.scielo.org.za/pdf/vee/v40n1/54.pdf

·         https://verbumetecclesia.org.za/index.php/ve/article/view/827/1734

·         https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC85828

http://www.scielo.org.za/pdf/vee/v40n1/21.pdf

Word 'n vriend van Kerkbode