ASM: Kerkleiers gesels openlik oor teologiese opleiding en oor verskille binne NG Kerk asook ‘witwerk’ as geloofsgewoonte

Daar was opvallend ruim tyd vir gesprek oor veral teologiese opleiding asook riglyne vir debatvoering via sosiale media toe kerkleiers uit al tien die NG Kerk se streeksinodes van 2-4 November 2021 in Benoni saamgetrek het vir ’n vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen. Kerkbode het ’n paar afgevaardigdes voorgekeer met vrae oor hulle eie deelname aan van die gesprekke, voorleggings vanuit taakspanbedrywigheid of hulle algemene indruk van die samekoms.


Ds Hestie Hay

Kerkbode (KB): Wat sou jy uitlig as ’n belangrike gesprek of besluit (of beide) wat jy gehoor het by dié ASM?

Ek hou baie van die nuwe rigting waarin ons dink oor belydenisaflegging, dat dit verander in roetemerkers. Belydenisaflegging “werk” lankal nie meer nie. Roetemerkers help ons om saam met kinders op reis te wees. Om saam met hulle as kerk op hierdie reis heeltyd te sê: “Kyk, God!”

Die nuwe opleidingskanale is ’n wonderlike ding. Ek dink ’n land met ’n konteks soos Namibië kan baie daarby baat.

KB: Wat het jou verras die afgelope paar dae?

Ek weet nie of dit my verras het nie. Wat ek eerder weer ontdek het, wat ek weer besef het en wat vir my so so goed was, is dat ek hierdie kerk en sy mense so so so lief het. Ek is trots om te kan sê dat ek deel mag wees van die NG Kerk.

  • Ds Hestie Hay is leraar by die NG Kerk Windhoek-Oos.

“Ons verantwoordelikheid is om bedienaars vir die kerk voor te berei wat vanuit ’n verdiepte spiritualiteit en geïntegreerde geloofsraamwerk gemeentes kan lei in die kompleksiteit van ons gemeenskap,” sê dr Frederick Marais (links).

Dr Frederick Marais

KB: Jy het namens die kuratorium ’n soort olyftak uitgesteek aan diegene wat bekommerd is oor teologiese opleiding. Jou boodskap (opgesom) is: “praat met ons”. Verstaan ek reg?

Die kuratoria weet dat daar baie vrae en bekommernisse oor teologiese opleiding (TO) is. Ons onderneem om uitnodigings na gemeentes, ringe of sinodes te aanvaar om mense in te lig, maar ook te luister na die vrae. Ons nooi ook mense uit om met ons oor hierdie vrae direk in gesprek te tree. Ons onderneem om waar nodig inligting te verskaf en indien nodig gesprekke te fasiliteer om dosente en mense met vrae by mekaar uit te bring in ’n veilige ruimte. Ons wil graag oningeligtheid en persepsies verbeter deur middel van direkte persoonlike gesprek. Ons vra aan die ander kant dat ons hou by protokolle waar ons nie inligting of persepsies versprei sonder om direk met mekaar te praat nie.

KB: Vertel asseblief meer oor wat jy op ’n stadium beskryf het as die reis van eerste na tweede naïwiteit. Wat is dit, hoe werk dit, is dit ’n noodwendigheid?

Ons weet dat studente dikwels kom studeer met ’n relatief naïewe lewens- en geloofservaring – dit is onafwendbaar, maar in die tydperk van studies gaan ervaringsvelde vergroot. Dit sluit onder andere in dat hulle blootstelling kry aan kennis ten opsigte van die aard en vertolking van die Bybel en die belydenis van die kerke. Hulle word dan blootgestel aan ’n verskeidenheid van standpunte wat hulle raamwerke broodnodig verruim. Ons wil graag ons student bemagtig om in die samelewing met die kompleksiteit van vrae aan geloof en die kerk in gesprek te kan tree. Hierdie prosesse kan ontwrigtend van aard wees en ons is besig om in ons kerkeie programme die begeleiding van studente in hierdie tye van ontwrigting te verbeter. Ons weet daar is studente wat in die verlede geloofsverlies ervaar het in die fase van die verruiming van denkraamwerke. Die kuratoria se kerkeie programme is daar om studente te begelei in hierdie tye van verruiming na ’n sogenaamde tweede naïwiteit van geïntegreerde geloof. Ons verantwoordelikheid is om bedienaars vir die kerk voor te berei wat vanuit ’n verdiepte spiritualiteit en geïntegreerde geloofsraamwerk gemeentes kan lei in die kompleksiteit van ons gemeenskap. Hierdie sluit onder andere in dat studente in Bybelstudiegroepe; in mentoraat; in dienslewering in opleidingsgemeentes en in retreats begelei word in geloofsvorming.

  • Dr Frederick Marais is voorsitter van die Algemene Kuratorium.

Dr Chris van Wyk

KB: Jy het tydens ’n besprekingsessie genoem jy voel nie gehoor wanneer jy beswaar maak oor teologiese opleiding nie. Het iets verander op daardie front die afgelope week?

Die kommer oor die inhoud van teologiese opleiding is wydverspreid. Dit het talle lede van die ASM met baie voorbeelde uitgewys. Ek dink die ASM het goed kennis geneem daarvan. Waar die standaardantwoord in die verlede was dat jy klagtes moet lê anders maak jy jou skuldig aan verdagmakery, was die voorsitter van die kuratorium, dr Frederick Marais, se onderneming by die vergadering dat gespreksruimtes geskep sal word daarvoor. Trouens, dit het al begin. Ek is bly daaroor. Dit is noodsaaklik, want akademiese teologie het te ver verwyderd geraak van konfessionele teologie.

KB: Hoe dink jy oor gesprek op sosiale media – watter maatstawwe, riglyne volg jy wanneer jy op platforms soos Facebook deelneem aan gesprek en wat het jy geleer uit jou eie ervaring?

Sosiale media is nie ’n ideale platform vir openhartige gesprekvoering nie. Dit polariseer mense. Die geringste verskil van standpunt word uit verband geruk. Ek dink die gesprekke op kerklike webtuistes waar die plasing daarvan beheer word, doen veel beter.

  • Dr Chris van Wyk is moderator van die NG Kerk in Oos-Kaapland.

Ds Danie Mouton

KB: Wat was vir jou die belangrikste gesprekke by dié ASM?

Daar was wesenlike gesprekke oor die roeping van die Christusgemeenskap en ons kerk se heilsame betrokkenheid by die samelewing. As volgelinge van Jesus wil ons die volle heil van die volle evangelie wyd deel en sosiale genesing bevorder. Dit gee vorm aan die toekoms van die kerk. Die gesprek oor (ongegronde) verdagmakery van die kerkverband se teologiese posisie en die gesprek oor teologiese opleiding was baie belangrik. Ek het waardering vir die ruim tyd wat hiervoor gegee is, en vir die wyse waarop almal eerlik kon praat.

KB: Hoe sou jy die atmosfeer vergelyk met vorige sittings van dié vergadering – is iets opvallend anders?

Daar is ’n doelbewuste intensie om met mekaar saam te werk. Van die sinodes se afgevaardigdes het sedert die vorige vergadering gewissel, en opvallend is ’n aantal jonger predikante afgevaardig. Van hulle is uitgesproke kritici van die NG Kerk en publieke ondersteuners van die Kairos Netwerk. Dit was goed om hulle te hoor en sekerlik vir hulle om na die ander leiers te luister. Begrip het gegroei. Daar is ’n onderliggende begeerte om saam te werk.

Ds Danie Mouton is skriba van die NG Kerk in Oos-Kaapland.

“As volgelinge van Jesus wil ons die volle heil van die volle evangelie wyd deel en sosiale genesing bevorder. Dit gee vorm aan die toekoms van die kerk. Die gesprek oor (ongegronde) verdagmakery van die kerkverband se teologiese posisie en die gesprek oor teologiese opleiding was baie belangrik,” sê ds Danie Mouton. Dié foto wys hoe daar gewerk is aan riglyne vir gesprek op sosiale media.

Dr Fanie Cronjé

KB: Daar is baie gesels oor teologiese opleiding. Wat het jy gehoor?

Ek het gehoor dat daar by die drie kuratoria sekerheid is dat ons dosente onder veranderende en uitdagende omstandighede by die onderskeie universiteite, goed aanpas en goeie werk doen; dat daar ’n baie groter komponent nie-NG Kerk studente as NG Kerk studente in klasse sit en dat die NG Kerk dus ook deur haar opleiding ’n verskil in die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap maak. Die kuratoria is oortuig van dosente se verbondenheid aan ons gereformeerde tradisie en beleef dat dosente wel oop is vir insette van kerklike en studentekant. Die drie kuratoria gaan seker maak dat studente wat ongemak of onsekerheid ten opsigte van leermateriaal beleef, dit in veiligheid mag verwoord en dat dit na behore, sonder benadeling hanteer sal word.

Ek hoor egter ook dat goeie akademiese opleiding tot op nagraadse vlak verwater word; dat daar nie in die scenariobeplanning met die oog op 2030 deur die betrokke taakspan eksplisiet beplan word hoe om genoeg studente aan te moedig om die volle akademiese pad tot by ten minste ’n tweede nagraadse kwalifikasie te stap nie. Wat ek hoor is dat die grondtale van die Bybel ’n al hoe kleiner ruimte in ons denke ten opsigte van teologiese opleiding kry en ek wonder waar ’n volgende geslag Bybelvertalers vandaan gaan kom. Ongelukkig het ek na dese die indruk dat ons in die NG Kerk besig is om een van ons beste bates, te wete akademies goed opgeleide predikante, aan die verloor is. Leierskapontwikkeling kry voorkeur bo grondige teologiese vorming. Na my beste wete word predikante in die NG Kerk geroep en opgelei as vertolkers/bedienaars van God se Woord (VDM) en nie as gemeenskapsleiers nie. Ek is jammer om te sê, maar ek het gehoor dat daar amptelik besluit is om die proses van gebrekkige akademiese teologiese opleiding van predikante in die NG Kerk nou in alle erns tot uitvoering te bring.

  • Dr Fanie Cronjé is medeleraar by die NG Kerk Lynnwood in Pretoria.

“Wat ek weer ontdek het, wat ek weer besef het en wat vir my so so goed was, is dat ek hierdie kerk en sy mense so so so lief het,” sê ds Hestie Hay oor haar belewenis van die afgelope ASM.

Dr Louis van der Riet

KB: Wat is witwerk?

Hierdie term verwys na ’n voortdurende reis van genesing rondom hoe wit Suid-Afrikaners deur ras gevorm is, ook as gelowiges. Dit is om verantwoordelikheid te neem vir versoening deur bewus te word van die talle maniere waarop ons aandadig is aan geskeidenheid. Witwerk is ook ’n geloofsgewoonte waarin daar omgegaan word met skuldbelydenis, en wat die potensiaal het om ons menswees te genees en herstel te bring aan die liggaam van Christus. Dit is nodige voorbereidingswerk om oor die mensgemaakte grense van ras te beweeg – individueel, kultureel én institusioneel.

KB: Sou jy die verslag wat jy aangebied kortliks kon opsom?

Volgens die ASM se scenariobeplanning is die kerk se droom: “Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes, wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar is in ons gemeenskappe.”

Die verslag het gepoog om te wys hoe die werk van die taakspan uitvoering gee aan die fokusareas, soos vasgestel deur die ASM na aanleiding van hierdie droom:

  1. Ons wil versoenende ruimtes en platforms wees vir luister en gesprekke, verhale van hoop en vernuwing.
  2. Ons wil leiers en lidmate bemagtig, toerus en mobiliseer.
  3. Ons wil netwerk en sinkroniseer, strukture herbedink, ekumeniese integrasie bewerk.
  4. Ons strewe na diversiteit – inklusief, multikultureel / -taal.

In die lig van die ASM se scenario-beplanning, fokus die Taakspan Versoening en Identiteit intensioneel op die identiteit van ras, die uitdagings van rassisme en die geleenthede vir rasversoening en genesing. Die aanbieding het gepoog om te demonstreer hoe ons hierdie werk aanpak.

Om voort te bou op hoe hierdie fokus in die verlede aangepak is, en om te verduidelik hoe ons poog om nuwe energie daarvoor te skep, het die aanbieding klem gelê op wat ons taakspan besig is om te leer oor:

– Taal: Ons het dalk nuwe taal nodig om uit te druk hoe ras funksioneer, en juis ons geloofstaal aan te wend rondom die realiteite van ras en rassisme.

– Verbeelding: Watter nuwe verbeelding het ons nodig om nie bloot diversiteit te erken as waardevol nie, maar dit deel te maak van wie ons word?

– Publieke spiritualiteit: Hoe kan ons geloofsgewoontes daarop gemik wees om nie selfgerig te wees nie, maar onsself in diens te stel van die openbare lewe en die missio Dei?

Die verslag het verder verduidelik hoe die werksaamhede van die Taakspan en groter Versoen Leergemeenskap, wat sinodale verteenwoordigers insluit, funksioneer, waar ons fokusareas tans lê, en hoe ander daarby kan aansluit. www.versoen.com

  • Dr Louis van der Riet dien op die Taakspan Versoening en Identiteit.
Word 'n vriend van Kerkbode

4 thoughts on “ASM: Kerkleiers gesels openlik oor teologiese opleiding en oor verskille binne NG Kerk asook ‘witwerk’ as geloofsgewoonte

  1. Dr Pieter R van der Merwe says:

    Dankie vir hierdie uitstekende en deurdagte verslaggewing. Wat my opval is dat die taal anders word, en dat gelaaide konsepte en woorde uitgepak word – want dan word ons aan-name-s verhelder en kan ons daarom in gesprek tree.

    Die kerk en gemeenskap is nou meer in flux as ooit. Reformasie en transformasie is nie meer ‘n opsie nie, dit is hoe ons daarop reageer en as lerende ampte dit te kan fasiliteer. Ek was nie by die gesprekke nie en is ook nie seker of dit dalk reeds iewers verdiskonteer word nie.
    Ek vermoed dat studente/predikante sistematies and met wetenskaplike integriteit toegerus word om verandering te kan bestuur in die witwater (die stroomverstelling wat gebeur wanneer daar heelwat onder die water gebeur en mens met ‘n kano daardeur moet kom, te balanseer sonder om af te val).
    Daar is heelwat nuwe metodes en vaardighede beskikbaar wat baie waardevol in die leraar se mondering kan wees. Beide vir interne geestesgesondheid van die individu en as leraar in ‘n veranderende gemeente (s) en samelewing. Ek wil glo dat dit reeds iewers kurrikulêr hanteer word, en sal nuttig wees as dit deel is van die gemeentejaar se skopus. Wees geseënd.

  2. Henrietta Klaasing says:

    Dankie vir ‘n klein-klein kykie op die ASM-gebeure wat oor drie dae gestrek het sover ek weet. Op 22 Desember 2021 was daar ‘n berig op Netwerk24: “NGK bekyk formulier vir verbintenisse van dieselfde geslag”. Ek haal aan uit die berig:

    “’n Taakspan van die NG Kerk werk tans aan ’n nuwe formulier vir selfdegeslagverbintenisse ….(Gustav Claassen) sê die nuwe formulier word tans deur die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake ondersoek en dat die uitslae van die ondersoek in November by die AS se moderamen bekend gemaak sal word.”

    En verder ook: “(Gustav) Claassen sê die moontlikheid van ’n hergroepering na ’n nuwe sinode word tans ondersoek en dat die uitslae van die ondersoek ook op die vergadering in November voorgelê sal word”.

    Nie een van hierdie twee sake kom voor in hierdie bostaande berig nie. As lidmaat van die NG kerk sou ek graag meer wou weet van hierdie dringende sake wat aandag sou geniet, volgens wat Gustav Claassen belowe het, nie bloot net onderhoude met sinodegangers nie. Hoe lank gaan lidmate in die duister gehou word?

  3. Chris Botha says:

    Die Bybel is die bron van my godsdiens, en my verwagting in die opleiding van toekomstige predikante is dat hulle hedendaagse godsdiens vanuit ‘n Bybelse perspektief sal praktiseer. Om dit te kan doen, is ‘n deeglike kennis van die kulture, tale en gebruike van ongeveer 2000 tot 3000 jaar gelede noodsaaklik ten einde insigte vir die hedendaagse samelewing te probeer formuleer. Hierdie is voorwaar nie ‘n maklike taak nie, en gaan noodwendig moeilike, langdurige en voortdurende studie vereis. Sterkte!

  4. Henrietta Klaasing says:

    Regstelling: Die datum van die berig op Netwerk24 was 22 September 2021. Met dank.

Comments are closed.