In een van die Spar op my dorp se oop koelkaste merk ek dit die oggend op: plastiekbakkies met kerrievis in. Gepiekelde vis, soos dit ook genoem word.
Elke jaar vergeet ek so half en half daarvan, en elke jaar in Paastyd word ek weer daaraan herinner: In die bruin gemeenskap in die Kaap is dit ’n tradisie om gepiekelde vis in die Paastyd te eet. In heelparty winkels en sommige kafees sien jy dit hierdie tyd van die jaar.
Op pad huis toe besef ek weer hoe min ek weet van sommige van die mense saam met wie ek al ’n leeftyd lank in die land woon. Waar sou die tradisie vandaan kom om kerrievis in Paastyd te eet?
Lees ook | DINKSTOF: Waar die hemel aan die aarde raak
Die simboliek van vis, gesien uit ’n Christelike hoek, is taamlik voor die hand liggend: Die vroegste Christene het die vis as ’n simbool gebruik om mekaar uit te ken. Jesus gee opdrag aan sy dissipels om “vissers van mense” te word. Op vele plekke in die Bybel word na vis en vissermanne verwys.
Ek vra rond en hoor van Edwinah Pick-Fredericks op Darling, een van ons buurdorpe. Edwinah en haar mense maak hulle eie kerrievis in Paastyd. Ek bel vir Edwinah. Sy werk in die week by die Darling-romery, maar kan ek Sondag kom?
Sondagoggend toe ek voor hulle huis stilhou, heet allerhande geure my by die hekkie welkom. Kerrie. Gebraaide uie. Iets soos koljander of naeltjies.
Edwinah kom by die blinkrooi stoep se trappies af. Haar ma, tannie Wilna, kom groet en ons gaan sit in die sitkamer. Tannie Wilna is die een wat al vir vyftig plus jaar elke Paastyd die kerrievis maak volgens haar Van Reenen-ma se resep. En daardie resep kom weer van háár ma af. So ’n resep is ’n erfstuk, wat van geslag na geslag oorgedra word.
Lees ook: ‘Johnny du Plessis must fall’
Ons gaan sit in die sitkamer. Tyson, Edwinah se seuntjie, loer om die hoek.
“Ek dink ek raak nou te oud vir kosmaak en vis piekel.” Tannie Wilna vryf oor haar bene. Sy het onlangs 77 geword.
“Mammie moenie só praat nie.” Edwinah kyk na haar met sagte oë.
Die tradisie van kerrievis in Paastyd kom moontlik uit die slawetyd in die Kaap, vertel Edwinah. Kerrie en kruie is ’n belangrike bestanddeel in die Maleise en Oosterse geregte. Die slawe wat in die 17de en 18de eeu uit die Ooste na die Kaap gebring is, het die ou resepte in hulle geheue met hulle saamgebring. Moontlik het hulle vis ingelê om te keer dat dit sleg word.
Maar dit is deur die kerk, hulle geloof, wat Edwinah se voormense kerrievis in die Paastyd begin eet het. Hulle is Metodiste. Die Metodistekerkie is hier oorkant die straat.
“Ons bly in die kerk se bek.” Edwinah lag. Nie dat dit altyd só was nie.
Lees ook: Inkeer en verandering is kos vir span wat met haweloses werk
Tannie Wilna en haar oorlede man Samuel, het eers in die bodorp gewoon. “Ons het tussen die blankes gewoon,” noem tannie Wilna dit by die naam, “maar hier in die 1960’s moes ons skuif oor die Groepsgebiedewet en daai dinge.”
Edwinah bly ’n rukkie stil. “Die NG Kerk was tóé net vir die wittes.” Die Metodistekerk was darem daar vir hulle, hoewel die Metodiste nie ’n kerkgebou in die bodorp gehad het nie. Hulle het in Edwinah-hulle se huis dienste gehou.
Haar mense was ook welkom in die Katolieke en die Anglikaanse Kerk in daardie aparte jare. In die Katolieke Kerk was dit van die vroegste tye af die gebruik dat lidmate op ’n Vrydag vis en nie rooivleis eet nie. Dit was ’n vorm van vas om vis te eet op ’n Vrydag, die dag, só word dit aanvaar, waarop Jesus gesterf het.
Hier op Darling en baie ander plekke is dit asof die verskillende kerke mekaar se gebruike beïnvloed het. Die Moslems maak ook piekelvis.
Die kerrievis kom saam met die gebruik om in die Lydenstyd vir 40 dae iets op te gee, in navolging van Jesus wat sy lewe vir ons afgelê het, sê Edwinah. Party mense besluit, sê maar, om vir 40 dae nie TV te kyk nie. Ander eet vis pleks van rooivleis.
Lees ook: As die kerk nie help met heling van dienspligtrauma nie, wie sal?
“Dit sit diep,” sê Edwinah. “Dis in jou in. Dis hoe jy grootgeword het.”
Dit laat jou besef wie jy is en waar jy vandaan kom. Op Goeie Vrydag, die Saterdag en Opstandingsondag eet hulle slegs kerrievis – kerrievis en hot cross buns.
Op Goeie Vrydag hou hulle lank kerk. Die prediker maak melding van Jesus se sewe kruiswoorde. Tyd vir tannie Wilna om nog kos te maak, is daar nie. Dikwels eet hulle die piekelvis en paasrolletjie met die hand. In die Paasnaweek sien jy oral mense rondstap met geel vingers.
Edwinah se man Tyrrell, Tyson en hulle dogtertjie Tyler-Joan sit ook nou by ons.
Edwinah haal ’n velletjie papier te voorskyn waarop sy die familie se kerrievisresep neergeskryf het. Snoek of geelstert maak die lekkerste piekelvis, maar as die sente die jaar omgedraai moet word, gebruik die mense stokvis.
“Jy vat een kilogram vis, dan gooi jy twee eetlepels sout daarby, ’n koppie koekmeel, twee teelepels chilli-poeier …” begin Edwinah die resep lees, byna asof dit ’n Psalm is. “Dan vat jy vier uie en sny dit in groot ringe, en daarby kom ’n eetlepel fyn koljanderkorrels …”
Dit is lekker hier by Edwinah-hulle in die huis. My ouers en oupa’s en ouma’s is al oorlede, maar in hulle sitkamers het dit net so gelyk: die bank en die stoele, die koffietafeltjie in die middel van die tapyt, die toonkas waarin teelepeltjies, porseleinornamente en allerhande spesiale dingetjies tentoongestel word.
Later groet ek en gaan klim terug in die bakkie. Almal staan op die stoep vir my en waai toe ek ry. Langs my op die sitplek is ’n bakkie vars piekelvis. Goeie Vrydag gaan hierdie jaar anders wees.
So bly ons almal saam in die mooie Suid-Afrika en hier is oorgenoeg plek vir almal. Dankie vir die mooi vertelling. Ek het n heerlike resep waar jy ingelegde blikkies kerrievis gebruik. Groetnis uit Potties.