Waar die hemel aan die aarde raak

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Tamboti-tentkamp in die Krugerwildtuin is seker ons gunstelingplek op aarde. Die afgelope skoolvakansie was ons, na ’n lang Covid-afwesigheid, weer daar. Die kamp is op die wal van die Timbavati-rivier en die natuurlike veld is nie uitgehaal nie – die tente staan in die bos. In die kamp is nie ’n winkel, restaurant of lugversorgers nie. Daar is wel twee astrante ratels, ’n klompie grootkolmuskeljate, bosbokke en ’n trop bobbejane.

As ons daar is, gaan ek graag in die nag buitentoe. Jy hoor geen mensgemaakte geluide nie en rondom jou is hierdie misterieuse werklikheid: die bos, die diere en die sterre. Dit het ’n eie bestaan wat buite die mens om, oor eeue heen, eenvoudig voortgaan. Ek het altyd die ervaring dat ek hier op die raakvlak met ’n ander werklikheid staan, groter en anders as die mensgemaakte wêreld.

Met elektroniese tegnologie soos rekenaars en slimfone, is die gebruikersraakvlak (user interface) baie belangrik. Die interface maak dat gewone mense uiters komplekse tegnologie kan gebruik al verstaan ons nie hoe dit inmekaar sit en werk nie.

Tamboti is vir my so ’n raakvlak tussen die menslike en natuurlike werklikhede.

Om in pas met die lewende God te leef, het ons sulke raakvlakke met God nodig. Ons kan God nie sien, beheer of ten volle begryp nie. Ons kan God egter beleef deur raakvlakke tussen ons beperkte menslike werklikheid en die transendente, groter werklikheid van God.

Een van ons uitgangspunte vir ’n lewe in pas met God, is dat God oral en altyd teenwoordig is. God is nie net te sien in die buitengewone nie, God is in die alledaagse. Een van die grootste probleme in die Westerse Christendom is dat mense God al minder in die alledaagse beleef. Soos Bette Middler se liedjie dit sê: God is watching us, from a distance. Ons, daarenteen, glo dat God nie van ver af na die wêreld kyk nie. God is teenwoordig en ons kan dit in die gewone gang van die lewe raaksien. Ons oë moet net oop wees.

Dit gesê, het ons tog ook plekke en tye nodig om meer intens te ervaar dat die transendente naby aan ons gewone wêreld kom, waar ons God se teenwoordigheid byna direk beleef. In die Keltiese spiritualiteit praat hulle van “dun” plekke waar die hemel aan die aarde raak. Baie mense beleef dit in die natuur en die Tamboti-tentkamp in die nag herinner my dat daar ’n werklikheid is wat God gemaak het en wat sonder ons mense, eenvoudig voortbestaan.

Ons godsdiensoefeninge is ook so ’n raakvlak. Toe ons kleingroep verlede week na ’n tyd van afwesigheid weer bymekaargekom het, was God ervaarbaar in ons blydskap om mekaar weer te sien. Wanneer jy die Bybel met ’n ontvanklike gees lees, hoor jy God se lewende en persoonlike woorde aan jou. As ’n baba gedoop word, sien ons as ’t ware hoe God ’n klein mensie merk as sy eiendom. En wanneer jy in die aand stil word en terugkyk op jou dag, herinner die Gees jou aan die plekke en geleenthede waar God vandag weer teenwoordig was.

Vir ’n lewe in pas met die lewende God, is dit regtig belangrik om God se teenwoordigheid al meer te ervaar. Daar is baie raakvlakke tussen die hemel en die aarde, in alledaagse én in spesiale ervarings. Ons moet dit net ontvang.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Word 'n vriend van Kerkbode