Lourens Bosman

Die aweregse kultuur van die koninkryk

Gestuurde gemeentes en gestuur­de mense het ’n anderster kultuur as die normale kultuur om ons. En met goeie rede: Die waardes van die koninkryk wat Jesus vir ons leer, is nogal verkeerd-om. Kyk sommer na sy lys van wie die geseëndes is:

  • Dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, eerder as dié wat vol selfvertroue, bekwaam en in beheer is.
  • Dié wat treur, eerder as die cool-groep, die “party-people” wat die le­we geniet.
  • Dié wat honger en dors na geregtigheid eerder as dié wat hulle nie steur aan onreg in die samelewing nie.
  • Die sagmoediges, eerder as dié wat hulleself laat geld en hulle wil afdwing.
  • Dié wat suiwer van hart is eerder as dié wat weet hoe om mense te mani­puleer en die sisteem vir hulle te laat werk.
  • Dié wat ter wille van Jesus vervolg word eerder as die populêres, diegene wat goed is met kompromieë maak

Die kultuur van die koninkryk is in baie opsigte kontra-kultureel en kontra-intuïtief (counterintuitive). Dit staan teen­oor ons instinktiewe aanvoeling oor die beste ding om te doen. Ons instinkte word maar gedryf deur ons menslike en sondige aard. Soms is dit duidelik kwaad­willig, meestal net pleinweg selfgesentreerd, gerig op korttermyn bevrediging en eie voordeel. Ons wil maar hê die wêreld moet om ons draai.

Die effek daarvan is dikwels sistemies: Jy maak jou lewe so vol met jou eie dinge dat jy maklik vir jouself kan sê: “Ek het nie nog tyd om by ander mense betrokke te raak nie.” Die kul­tuur van gemeentes kan ook hierdie pad loop: Ons is so besig met onsself dat ons nie nog tyd of geld of energie vir ander het nie.

Soos wat ons wêreld al meer sekulariseer, word hierdie waardes wat draai om “ek en my lewe” al hoe sterker. Dit word al meer vanselfsprekend dat ek met my eie dinge besig is en nie by ander mense of die kwessies van die wêreld betrokke raak nie.

Die kultuur van die koninkryk staan dwars teen hierdie selfgesentreerde waardes. Jesus leer ons om minder oor onsself en meer oor ander te dink, om toe te gee eerder as om op jou regte te staan, om te dien en lief te hê eerder as om self in die middelpunt te staan. Hier­die is die aweregse kultuur wat ons in onsself en in gemeentes moet kweek soos wat ons Jesus na die wêreld volg.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Onthou om te onthou

Elke liewe Pinkster onthou ons dat ons vergeet het van die Heilige Gees.

Ons kerk het ’n baie sterk Woord-gesentreerde teologie en spiritualiteit en daar is niks verkeerd daarmee nie. Lie­wers só as die vreemde uitsprake wat mense soms in die naam van die Heilige Gees maak. Aan die ander kant kan ons nie praat van die heropneem van ons roeping as gestuurde kerk sonder om die Heilige Gees baie ernstig op te neem nie.

Wanneer Jesus die dissipels uitstuur, onderstreep Hy dat die Heilige Gees hulle bekwaam sal maak om hulle roeping te realiseer: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees …”

Ek wonder soms of ons nie die Heilige Gees vergeet juis omdat ons nie ons roeping as gestuurdes ernstig opneem nie. Solank jy gemaklik in jou eie kokon leef, het jy nie juis die krag en toerusting van die Heilige Gees nodig nie. Dit stel nie eintlik uitdagings nie en jy voel jy kom heel goed reg, dankie.

Wanneer ons egter intensioneel deel word van God se sending, raak jy baie gou bewus dat hierdie ding te groot is vir ’n mens om op jou eie te doen. Die Nuwe Testament herinner ons op verskillende maniere daaraan dat gestuur­de mense die Heilige Gees nodig het. Die Gees rus ons op verskillende manie­re toe vir ons roeping:
Geloofsonderskeiding is ’n fundamentele konsep vir ’n gestuurde lewenstyl. Dit beteken dat jy in geloof kan onderskei waar God aan die werk is en hoe jy daarby kan aansluit. Dit vra dat die Heilige Gees jou oë en verstand sal oopmaak om op ’n nuwe manier te dink en te kyk.

Daar is nie ’n enkele resep of handboek wat vir ons sê hoe ’n gemeente in sy eie omgewing betrokke moet raak nie. Missionale betrokkenheid is altyd kontekstueel en vra vir buitengewone wysheid. Hierdie wysheid is ’n gawe wat die Gees gee.

Om oor grense te gaan en nuwe dinge te doen, vra waagmoed en dapperheid. Die Heilige Gees het van die begin af mense dapper gemaak om te doen en te sê wat nodig is.

Jesus waarsku sy dissipels dat hulle teenstand moet verwag, dat hulle in moeilike situasies en selfs in vervolging sal kom. In hierdie soort situasie het ’n mens nie rympies of reseppies nodig nie, maar die vermoë om God se liefde en waarheid in die situasie in te dra. Jesus belowe dat die Heilige Gees in sulke situasies die regte woorde sal gee.

Gestuurde mense kan nie anders nie as om te onthou om die Heilige Gees te onthou.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Sagte harte is nodig

Met die afgelope verkiesing het die kwessies in ons lande weer baie sterk na vore gekom. Dit voel of dit jou eintlik oorweldig: die werkloosheid, armoede, gaping tussen ryk en arm, stand van die onderwys, die nood van kinders. Al hierdie dinge kan gelowiges lamlê.

’n Mens kan beleef dat die probleme so groot is dat jy of julle gemeente te klein is om enige verskil te maak. Dit maak jou magteloos. Die omvang van die nood kan jou ook hard maak, jy wil nie meer daarvan hoor nie. Die gemors wat die owerheid die afgelope dekade aan­gerig het, maak ook dat baie kerkmense voel: “Julle het dit veroorsaak, los dit nou op. Moenie jou moeilikheid myne maak nie.”

Aan die ander kant los Jesus ons ook nie uit nie. Op die laaste vergadering van die taakspan vir Missionale Diakonaat (wat met die nood van mense werk) het ons oor Lukas 6 nagedink. Jesus sê onder andere: 33En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.

Jesus gee nuwe opdragte: Gee sonder om terug te verwag, hê julle vyande lief, doen goed aan alle mense. Jesus het dit ook self gedoen om vir ons te wys Hy bedoel dit regtig.

Hoe behou ons sagte harte in ’n harde wêreld?

In Lukas 6 herdefinieer Jesus heiligheid. Die Jode wat na Hom geluister het, het baie goed verstaan dat hulle heilig moet leef, want God is heilig. Dit is ’n refrein wat Levitikus en die Joodse leiers gebruik het om swaar wettiese laste op die mense te laai. “Julle moet aan allerhande voorskrifte oor reinheid en kos en die Sabbat gehoorsaam wees, want so is julle aanneemlik vir die heilige God.”

In hierdie gedeelte verander Jesus die woorde ’n bietjie. Nie: “Wees heilig want God is heilig” nie, maar: “Wees barm­hartig soos julle Vader barmhartig is.” God se heiligheid lyk dalk anders. God se heiligheid beteken dat Hy die “Gans Andere” is. Jesus kom leer ons dat sy andersheid in sy liefde en barmhartigheid en genade lê.

Hierdie soort heiligheid inspireer ons om sagte harte te behou, want God het ’n sagte hart. Om vir mense te gee en te sorg en om te gee, want God gee om en sorg en deel uit. En op ’n vreemde manier wat ons nie kan verstaan nie, groei daar uit hierdie heiligheid ’n nuwe soort wêreld. Een wat wys hoe dit lyk waar God se wil geskied.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die spiritualiteit van gestuurde mense

Is daar iets soos “missionale spiri­tualiteit”?

Daar behoort nie te wees nie, maar daar is.

Die ideaal is dat ’n dieper toewyding aan God vanselfsprekend sal beteken dat God se roeping al meer van jou lewe besit neem. Die ideaal is dat hoe beter jy die Here ken, hoe liewer jy ook vir sy wêreld sal wees. Die ideaal is dat ’n passie vir die Here vanself sal veroorsaak dat gelowiges passievol sal wees dat ander mense Hom sal leer ken.

Tussen die ideaal en die werklikheid is daar egter ’n gaping.

In die regte lewe gaan die begeerte na ’n dieper ervaring van God baie keer hoofsaaklik oor wat ekself daaruit kry, oor innerlike vrede en geluk. Populêre spiritualiteit is gewoonlik meer op self­verwesenliking ingestel as op die verwesenliking van God se koninkryk.

Ons praat daarvan as die privatise­ring van geloof en dit is ’n beduidende tendens in die kerk. Ons sien uit navorsing dat die tendens ook groei: Lidmate se geloof raak al hoe meer na binne gekeer. Ons lidmate is oor die algemeen getroue Bybellesers en bidders. Maar hulle persoonlike godsdiens lei nie vanself tot betrokkenheid in die wêreld nie.

Dit kan help om breedweg te dink oor die kontras van ’n missionale teen­oor ’n populêre spiritualiteit:
Populêre spiritualiteit is meestal individualisties, iets wat ek op my eie doen. Missionale spiritualiteit is ’n funksie van die liggaam van Christus en bring gemeenskap tot stand.

Populêre spiritualiteit is gerig of die self en self-aktualisering terwyl missionale spiritualiteit Jesus volg in self-opoffering.

’n Mens kry ’n sekulêre spirituali­teit wat soek na ’n ervaring van die transendente in baie abstrakte terme. Missionale spiritualiteit ontwikkel ’n verhouding met ’n persoonlike God deur die persoon van Jesus Christus.

Gestuurde mense soek nie na die god binne jouself nie, dit soek na ontmoetings met die lewende God in die Woord, in medegelowiges én in die wêreld.

Missionale spiritualiteit lei nooit tot onttrekking van die wêreld nie, dit vat ons altyd terug na die wêreld soos Jesus tussen mense kom woon het.

Waarop missionale spiritualiteit uitloop, is nie kalmte, innerlike vrede of mindfulness nie. Dit lei na ’n lewe van gehoorsaamheid in die voetspore van Jesus wat na die wêreld gekom het om te soek en te red.

Spiritualiteit is ’n gewilde onderwerp. Mense binne en buite die kerk het ’n behoefte aan diep ervarings wat hulle help om sin te maak van die lewe. Alle spiri­tualiteit is egter nie gelyk nie. Ons het geestelike dissiplines nodig wat ons sal vorm as gestuurde mense, ’n missionale spiritualiteit wat Bybels is en anders lyk as die spiritualiteit wat sterk deur die kultuur van ons tyd en die behoeftes van mense gevorm word.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Harte, huise en kerke

Dr Andrew Murray was regtig ’n merkwaardige mens.

Hy het meer as vyftig boeke geskryf en word steeds gereken as een van die belangrikste skrywers oor spiritualiteit in die gereformeerde tradisie. Hy was ’n begaafde kerkleier wat ses keer as moderator van die Kaapse sinode gedien het. Hy het ’n groot invloed gehad in onderwys en verskeie skole, veral meisieskole, gestig. En vanuit die Sendinginstituut en Hugenote Seminarium in Wellington is honderde sendelinge en maatskaplike werkers uitgestuur. Sy nala­tenskap lê dwarsoor die wêreld.

As ons vandag praat oor die kerk se gestuurde roeping, is Murray vir ons ’n rolmodel. In hom sien ons iemand wat leiding geneem het, wat kon organiseer, iemand met ’n passie om die evangelie te deel en iemand met ’n diep spiritualiteit.

In ons prentjie van ’n gestuurde kerk gaan dit oor harte, huise en kerke.

Ons is oortuig dat die missionale beweging nie blywende verandering sal bring as dit nie gedra word deur innerlike vernuwing nie. In die middel van die prent is die simbool van die Drie-eenheid. Die kern van ons roeping lê in ons toewyding aan die Vader, Seun en Gees. Dit gaan oor ons hart.

Dan is huishoudings ook onmisbaar in hierdie kultuurskuif. Huise is die belangrikste plek waar die volgende geslag dissipels gevorm word. Ons moet wegkom van die idee dat volgelinge van Jesus gevorm kan word in die 30-40 uur wat die kerk per jaar met ’n kind het. Geloofsvorming vind plaas deur gelowige ouers wat hulle kinders leer wat dit beteken om Jesus te volg. Murray het dit geweet, een van sy bekende boeke het gegaan oor hoe om kinders vir die Here groot te maak.

Die heropneem van ons gestuurde roeping gebeur natuurlik ook in gemeentes en kerke. Dit sou dwaas wees om van gestuurdheid net ’n persoonlike ding te maak. Die manier hoe gemeentes en sinodes ons besigheid doen, die programme wat ons organiseer, die mense wat ons mobiliseer en uitstuur, maak ’n verskil en vra ons beste pogings. Die lewe van Murray wys dit: Sy leierskap en organisasievermoëns het ’n blywende nalatenskap gelewer.

Harte, huise en kerke – hierdie drie vorm die bou­stene van ’n gestuurde kerk. Dit inspireer my om te sien hoe hierdie lyne in Andrew Murray se lewe bymekaarkom.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Moenie oorskat óf onderskat nie

Dit was blykbaar Bill Gates wat eerste gesê het: “Most people overestimate what they can do in one year, but they underestimate what they can do in ten years.”

Twee van my goeie vriende is besig om doelgerig vir hulle eerste maraton te oefen. Hulle is albei 60-plussers en bou al vir ’n klompie jare geleidelik hier­natoe op. Hulle toewyding is indrukwekkend. Weeksoggende is hulle douvoordag uit vir agt tot vyf­tien kilometer Saterdae is hulle vir ure op die pad om myle in die bene te kry. Hierdie eerste maraton is vir hulle belangrik genoeg dat hulle baie noukeurig by hulle oefenprogram hou. Nie een is lus om op die groot dag op te daag en dan nie klaar te maak nie.

’n Mens word nie in ’n week of twee fiks genoeg vir ’n maraton nie. Dit vat tyd, dit vat ure op die pad. Net so min word ’n gemeente in ’n 40 dae-veldtog, met ’n preekreeks of selfs met ’n jaartema, ’n kerk waar ge­stuurd­heid deel is van die kultuur. Dit vat tyd, dit vat jare se toewyding.

Die eerste vraag is natuurlik of dit vir ’n gemeente se leierskap belangrik genoeg is, of die dominee en kerkraad bereid is om die ure in te sit, om te volhard op die pad?

Die antwoord hierop is eintlik voor die hand liggend. Ons gestuurde roeping móét vir ’n gemeente en sy leiers belangrik wees want dit is vir God be­langrik. Dit is waarvoor God ons bymekaarmaak. Die Bybel is nie onduidelik daaroor nie: Wanneer Jesus sy aardse werk klaarmaak, stuur Hy sy volgelinge uit na die wêreld. Die boodskap van God se koninkryk wat aanbreek, is vir die wêreld bedoel. Ons moet ons hieraan toewy want dit is vir God belangrik.

Die tweede vraag is oor “hoe?” – hoe doen mens dit? Pasop om vir ervare hardlopers uit te vra oor hulle oefenprogram, hulle kan jou vir ure besighou. Maar een van die belangrikste dinge wat hulle sal sê, is om net te begin. Begin klein, met twee of drie kilometer. En hou aan.

Om ’n effektiewe gestuurde gemeente te lei, vra vir vaardighede. Dit is dinge wat mens kan aanleer. Daar is baie ervare leiers wat met graagte hulle kennis en ervaring sal deel. Maar die belangrikste raad wat hulle sal gee, is om op te hou teoretiseer en te begin. Gee die eerste klein treetjies, vat die koers agter God aan na die wêreld toe.

En hou aan. Moenie oorskat wat julle in een jaar kan doen nie, maar moet veral nie onderskat hoe ver julle in tien jaar kan vorder nie.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

In pas met die Senior Vennoot

Soms vervaag die betekenis van waardevolle dinge in jou lewe. Mense wat op ’n mooi plek woon, sien later nie meer die landskap raak nie, getroudes raak gewoond aan die vriendskap van hulle maat. Dit gebeur so maklik dat negatiewe dinge jou gedagtes oorneem. Dit word die “negativity bias” genoem: die neiging om op negatiewe dinge te fokus.

Kerkmense is dikwels so besig met die uitdagings van die gemeente dat hulle die belangrikste en waardevolste skatte van die gemeente vergeet. Deesdae is dit veral die afnames wat gesprekke oorheers: afname in finansies, erediensbywoning, lidmaatgetalle en die geloofwaardigheid van die kerk.

Voeg nou daarby dat die meeste gereformeerdes baie verantwoordelike mense is en jy weet sommer wat hulle gedagtes oorheers: wat die probleme is en hoe moeilik dit gaan wees om dit op te los. Dit maak jou sommer by voorbaat moedeloos.

Een van die belangrikste dinge wat die teologie ons leer oor ons roeping as gestuurde kerk, is dat alles toe nou nie van ons afhang nie. Ons het nie onsself geroep en na die wêreld gestuur nie, dit is God wat ons roep om deel te neem aan sy sending na die wêreld. In hierdie “besigheid” wat ons kerk noem, is daar ’n Senior Vennoot aan wie die besigheid behoort. Dit is Hy wat ons roep, versamel, fokus en stuur.

Die wêreld waarheen ons gestuur word, behoort ook aan God, Hy het hierdie wêreld lief en is aan die werk in die wêreld. Ons “negativity bias” maak dat ons dit dikwels nie raaksien nie. Ons sien eerder die moeilikheid as die moontlikhede. Ons sien nie raak waar en hoe God teenwoordig is en werk nie.

Die moeilike tyd waarin die NG Kerk homself tans bevind, is ’n toets vir ons geloof: Gaan ons fokus op al die probleme of op ons Senior Vennoot en wat Hy besig is om te doen? In die besigheid van gestuur wees, is dit ons Senior Vennoot wat die finale verantwoordelikheid neem. Ons werk is om in pas te bly met die bedoelings en werk van God.

Geloof of gebrek daaraan gaan in 2019 deurslag­gewend wees. Hoe gaan ons met die werklikheid omgaan? As jy dink alles hang van mense af gaan dit waar­skynlik met swarigheid, angs en negatiwiteit wees. Maar as ons die drie-enige God na die wêreld volg, is dit met verwagting, met geloof, hoop en liefde.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

’n Baie gestuurde Kersfees

Adventstyd is hier. Ek lees in koerante dat dit maar ’n treurige Kersseisoen gaan wees want mense het minder geld om te spandeer. Dit is nogal ’n skrikwekkende gedagte: Die sukses van Kersfees hang af van of jy genoeg geld het om te spandeer. Ek hoop nie dit is waar nie, al is dit te verstane. Vir baie mense is die Kersvakansie ’n blaaskans in die drukte van werk en eise. En daarvoor help ’n bietjie ekstra geld. So, kom ons maak ’n duidelike onderskeid tussen die somervakansie en Kersfees.

In ons nadenke oor die kerk se gestuurde roeping, is Kersfees ’n baie belangrike merker. Kersfees gaan oor God wat tussen ons kom woon. God red ons nie van ver af nie, Jesus kom woon en loop tussen mense. Waar Hy kom, word mense gered, die wêreld heel.

Die teoloog Joachim Jeremias maak ’n groot saak daarvan dat God die stilte breek wanneer Jesus na die aarde kom. In die vier eeue tussen die Ou en Nuwe Testament het die stem van God al hoe stiller geword. Daar was nie profete nie, die wettiese lees van die Ou Testament word al sterker en mense beleef dat God ver is en dat dit moeilik is om God te ken en te dien.

En dan, skielik, boem! Jesus word gebore. Hy is Immanuel, God by ons.

Dr Willem Nicol vertel dat daar in Koptiese kerke in Noord-Afrika, permanent ’n krip en ’n kruis voor in die kerkgeboue staan. In Katolieke kerke en in kuns­galerye is daar amper net soveel skilderye wat gaan oor Jesus se menswording as van sy lyding. Die wonder van God se genade word net soveel uitgedruk deur die krip as deur die kruis.

Vir gestuurde gemeentes en gestuurde mense is dit wesenlik. Die feit dat God ons nie vergeet of aan ons lot oorlaat nie, dat die groot plan met die wêreld insluit dat Jesus mens word, sê iets fundamenteel vir ons lewe. Ons volg Jesus na die wêreld. Soos Jesus, is ons gestuur om ín die wêreld, tussen mense te leef en te werk.

God red nie op ’n afstand nie. Hy kom naby. So is ons ook bedoel om tussen mense te leef, in die wêreld ons lig te laat skyn. Daar is altyd ’n gevaar dat gestuur­de gemeentes op ’n afstand met mense werk, dat ons ander stuur en betaal om namens ons in die wêreld te wees. Kersfees herinner ons aan ’n God wat nie net stuur nie, maar self kom.

’n Baie geseënde en gestuurde Kersfees vir almal!

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vra vir die Here wie is jou een

Partykeer kry mens die prentjie uit gesprekke oor die gestuurde kerk dat dit hoofsaaklik gaan oor groot programme waarby duisende mense betrokke is en wat duisende mense gelyk bereik – ’n groot beweging wat oor die land vee en alles verander. Miskien kom hierdie prentjie uit die groot evangelisasieveldtogte in die verlede waar duisende mense kom luister, aangeraak word en terugkeer na die Here.

Jesus vertel drie stories in Lukas 15 wat ’n ander prentjie gee. Dit is die stories oor die skaap, die geldstuk en die seun wat weggeraak het. Hier gaan dit nie oor die skare nie, dit gaan oor die een.

Die eerste twee stories vertel hoe twee mense intense soektogte op tou sit om die een skaap en die een geldstuk te vind. In die derde storie kom die een seun tot inkeer, keer terug en ontdek dat sy pa hom met oop arms ontvang.

Hierdie stories herinner ons dat God mense een vir een soek. Dit is ook wat Jesus doen: Soms praat Hy met die skares, maar Hy gaan staan ook stil by individue. Jesus wil hê ons moet verstaan hoe belangrik is die een.

Hoe kan jy deel word van God se soektog? Gewone mense voel dikwels onbekwaam en onseker: “Ek weet nie wat om te sê nie. Sê nou hy of sy vra moeilike vrae?”

Die beste plek om te begin, is waarskynlik met gebed en die eerste saak om voor te bid, is oop oë. Jy kan nie deel wees van God se soekgeselskap as jy nie met God se oë kyk nie!

Bid dat die Here vir jou sal wys wie is jóú een. Waarskynlik is dit iemand wat jy reeds ken, iemand wat naby jou woon of saam met jou werk. Moontlik iemand oor wie jy bekommerd is. Bid dat die Here jou sal laat kyk soos wat Hy na mense kyk – met liefde en besorgdheid.

Bid dan gereeld vir hierdie een. Bid vir die persoon se behoeftes soos jy dit verstaan. Bid dat die Here julle paaie sal laat kruis. Bid vir geleenthede om kontak te maak en te gesels. En wees gereed vir die geleenthede wat jy gaan begin raaksien: ’n kans om oor te stap, om te hoor hoe dit gaan, om iets goed vir hierdie een te doen.

Jy kan met verwagting bid want eintlik is dit God wat soek. Ons is lede van sý soekgeselskap en Jesus herinner ons: God soek en Hy vind.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die dinge wat ons verbaas, of nie …

Een van my goeie vriende sê: “As iets jou nie meer verbaas nie, moet jy weet dit is nou deel van die kultuur.” Dit verbaas niemand as ’n gemeente ’n basaar hou nie, maar as ’n gemeente hulle basaar so organiseer dat hulle ook goedkoop kos aan die armes in die gemeenskap verskaf, let mense dit op. Dit verbaas niemand as ’n gemeente ’n Sondagskool het nie, maar as daardie Sondagskool vol kinders van buite die gemeente is, is dit merkwaardig.

Die kultuur van ’n gemeente word nie bepaal deur die dinge wat ons nou en dan doen of in die groot gebaar nie. Die kultuur word bepaal deur die dinge wat ons oor en oor doen, dit lê in ons gewoontes.

Een van die redes waarom ons die woord “missio­naal” in plaas van “missionêr” gebruik, is om te sê dat ons oor iets nuuts praat. Tevore het ons van ’n missionêre gemeente gepraat as een met uitreikprojekte. “Missionaliteit” gaan oor gemeentes wat op ’n nuwe manier leef. Dit beteken dat nie net ’n groepie entoe­siaste besig is met uitreik nie maar dat die kultuur van die gemeente verander. Almal is op een of ander ma­nier deel daarvan dat die gemeente nie ter wille van homself leef nie, maar om sout en lig vir die wêreld te wees.

’n Baie goeie manier om so ’n kultuurverandering te laat gebeur, is om dinge wat die gemeente reeds doen, anders te doen. Dit is meestal ook nie baie moei­lik nie.

Alle gemeentes hou eredienste. Die idee is nie nood­wendig om ’n nuwe uitreik-erediens te begin nie, maar om te kyk hoe ons bestaande erediens vriendeliker en oper kan wees. Dalk moet ons tyd gee dat almal mekaar groet en nuwelinge verwelkom. Miskien moet die dominee sy taal aanpas dat dit meer klink soos die gewone taal wat mense praat. Ander sal die liturgie meer toeganklik maak vir besoekers. Die gewoonte waaroor dit gaan, is gasvryheid.

Ons het die goeie gewoonte om vergaderings te open deur uit die Bybel te lees en saam te bid. Vir ’n missionale kultuurverandering sal vergaderings meer tyd begin spandeer om God se roeping uit die Woord te onderskei. Die gewoonte wat ons wil kweek, is geloofsonderskeiding.

In die begin is nuwe gewoontes ’n bietjie vreemd, maar geleidelik word dit normaal. Dan verbaas dit niemand as nuwe mense deel word van die gemeente of as lidmate hulle roeping in die wêreld uitleef nie. En dan het die kultuur verander.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die krag van saamstaan

Iets wat opval van gemeentes wat ’n impak maak in die samelewing, is dat hulle dit nie alleen probeer doen nie. Hulle het baie vennootskappe in die gemeenskap: met ander kerke, met die skole, maat­skaplike dienste, die gemeenskapspolisie en ander organisasies.

Waarom sou ’n mens moeite doen hiermee? Dit lyk net na ekstra werk.

Gemeentes wat begin om hande te vat, vind meest­al dat die opbrengs uit die vennootskappe baie groter is as die belegging. Baie organisasies werk reeds in die gemeenskap, hulle ken die behoeftes en verstaan die plaaslike politiek.

Een gemeente het vertel hoedat hulle op geen ma­nier ’n afspraak met die burgemeester kon kry nie, hy was net nooit beskikbaar nie. Toe hulle egter deur die dorp se “pastors forum” werk, gaan die deure skielik oop en is die dorpsraad bereid om met hulle te praat.

Die kerk se maatskaplike dienste behoort altyd ons eerste vennoot in die gemeenskap te wees. Die hoë geloofwaardigheid van maatskaplike werkers is iets baie kosbaar en ons moet nooit hulle kundigheid on­derskat nie. Boonop is die meeste maatskaplike wer­kers honger om nouer met die kerk saam te werk. Praat met hulle, vat hande, gee vir hulle die geleentheid om met die kerkraad en gemeente te praat. Hulle stories gryp die verbeelding aan.

Die volgende logiese plek om verhoudings te bou, is met ander kerke. Word deel van die plaaslike leraars­kring of stig een. NG dominees is gewoonlik goed met organiseer en om sinvolle vergaderings te hou. Kennisgewings uitstuur, agenda opstel, besluite notuleer en opvolg is amper tweede natuur vir die deur­snee dominee. Moenie hierdie vaardighede ge­ringskat nie. Dit is dinge wat maak dat ’n “pastors forum” op ’n dorp aan die gang kom, werk en volhoubaar is.

’n Vennootskap met skole is eintlik onontbeerlik as ons die gemeenskap wil dien. #imagine is baanbrekers om hierdie verhoudings te bou. Hulle is reeds op meer as 300 dorpe aktief en hulle doen dit saam met 40 verskillende denominasies. Hulle kry dit reg om, ten spyte van die Skolewet, by skole betrokke te raak en te bly. Die taakspan vir Geloofsvorming: Jeug hou ook werkswinkels oor hoe gemeentes by skole betrokke kan raak.

Ons leef in ’n land waar verreweg die meerderheid mense Christene is. Wanneer ’n mens begin soek na vennote in die gemeenskap, sal jy vind daar is talle instansies wat gretig is om hande te vat. Die kerk kan ’n baie groot impak maak deur mense saam te bind vir ’n beter samelewing. Daar is groot krag in saamstaan.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Wees teenwoordig soos Jesus tussen mense

Van die heel belangrikste woorde wat vorm gee aan ons roeping as gestuurdes hoor ons wanneer Jesus sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Die implikasie hiervan is dat ons baie mooi moet kyk wat Jesus doen, want dit bepaal ons agenda.

Die voorbeeld van Christus gaan oor die dinge wat mense Hom sien doen het, maar ook oor die gesindheid waarmee Hy dit gedoen het. Een van die mooiste gedeeltes wat oor Jesus se voorbeeld praat (Fil 2), gaan juis oor sy gesindheid van nederigheid, om ander hoër as jouself te ag en om jouself ter wille van ander op te offer.

Dit verg ’n diep skuif in die manier waarop ons betrokke raak in die wêreld. Vir baie lank het die Wes­terse Christendom na die res van die wêreld uitgereik met geld, goed en kennis. Hierdie dinge het aan kerke mag gegee. En alhoewel ’n mens nooit die diens en selfopoffering mag miskyk of vergeet nie, was dit ­meestal tog ’n baie ongelyke verhouding tussen die ge­wers en die ontvangers.

Deesdae vind baie gemeentes skielik dat hulle klei­ner en armer word. Hulle het net eenvoudig nie meer so baie om uit te deel nie. Ons hoor soms dat gemeen­tes dink hulle het geen bydrae om te maak as hulle nie goed of geld kan uitdeel nie.

Miskien bring so ’n situasie ons eerder nader aan die voorbeeld van Christus. Filippense 2 sê dat Jesus mens word tussen ander mense. Hy klou nie vas aan sy Goddelike gestalte en regte nie, maar kom woon tussen ons as ’n nederige slaaf. Ons noem dit inkarnasie of vleeswording. En dan gaan Hy selfs verder: Hy ver­neder Homself deur sy kruisdood.

Hierdie vleeswording van Jesus wys vir ons hoe dit lyk as God se liefde hande en voete kry. Dit nooi ons om sy inkarnasie-leefstyl na te streef.

Dit beteken dat ons nooit van die wêreld kan ont­trek nie maar teenwoordig moet wees. Dit herinner ons dat liefhê en omgee kosbare geskenke is. Dit roep ons om nie net te dink aan wat ons kan gee of uitdeel nie, maar oor hoe om by ander mense te wees as gely­kes.

Die evangelie word nie net gepreek nie, maar ook beliggaam deur gelowiges wat tussen ander mense leef.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

’n Goeie bril om die Bybel mee te lees

Daar word nogal baie gesê oor die bril wat men­se op het as hulle die Bybel lees en hoe dit bepaal wat jy raaksien. Niemand kom neutraal na die Bybel nie, almal kom met ’n verwag­ting van wat jy sal kry en dit is dan die dinge wat jy eerste raaksien.

Nie alle brille is ewe goed nie. Ons het almal al ge­sien hoe iemand die Bybel op ’n manier lees wat glad nie by die teks pas nie.

’n Goeie leesbril vir die Bybel sal altyd beteken dat ek bereid is dat my voorverstaan getoets en verander word aan dit wat in die teks staan. Dit vra dat mens baie goed in ag neem onder watter omstandighede die teks geskryf is, vir wie en met watter bedoeling. Wat was die leesbril waarmee die eerste lesers die gedeelte gelees het?

Die meeste mense lees die Bybel vandag met die bril van persoonlike geestelike groei: “Wat wil die Here vir my sê wat my sal help om geestelik te groei en die lewe te hanteer?” Dit is nie ’n ongeldige vraag nie, maar dit neem nie die bedoeling van groot gedeeltes van die Bybel genoegsaam in ag nie. En dit privatiseer geloof tot die vraag oor wat ek uit my verhouding met die Here kan kry.

Dit maak ’n baie groot verskil as ons die Bybel, en veral die Nuwe Testament, lees met die bril van ge­stuur­des. Dit was hoe die eerste Christene die Nuwe Testament gelees het en ook ’n belangrike doel waarvoor dit geskryf is: Dit moes die vroeë kerk toerus vir hulle roeping as gestuurdes.

Die oomblik as jy die Bybel só begin lees, gaan daar ’n wêreld vir jou oop. Dan let jy op hoe Jesus se woorde, dade en houdings vorm gee aan jou eie roeping. Jy lees skielik minder met ’n ontvangsmentaliteit en meer met ’n gee-mentaliteit. Jy voel hoe Jesus se liefde vir mense jou hart begin vorm. Jy leer om anders te kyk, anders te oordeel en anders met mense te praat. Jy sien klein merkers in die teks wat jy tevore nie eens opgemerk het nie: die mense wat Jesus raaksien, met wie Hy praat, aan wie Hy raak en die plekke waarheen Hy gaan. Hierdie dinge kry skielik betekenis.

As dit gebeur, begin jy die Bybel lees met die leesbril van ’n gestuurde.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Jesus se invloed vloei diep én breed

Kom ons dink bietjie oor invloedryke mense.

Wie was verlede jaar die Nobelpryswenner vir fisika? Of vir chemie? Wie het in die vorige Olimpiese Spele die goue medalje vir die 5 000 m ge­wen? Wie is die Amerikaanse minister van buitelandse sake?

Aan die ander kant: Wie was jou graad 1-onderwy­seres? En die skoolhoof toe jy in matriek was? Wie was jou sportafrigter op hoërskool? Noem ’n paar van jou Sondagskool-onderwysers.

Die meeste mense kan bitter min van die eerste groep vrae antwoord maar vaar uitstekend met die twee­de groep. Die rede is eenvoudig: Dit gaan oor men­se met breë invloed teenoor mense met diep in­vloed. Sommige mense hoor jy oor die nuus en sien jy op TV, maar hulle het min diep, vormende invloed.

Diep invloed vloei uit lang en diep verhoudings. Die meeste vorming vind plaas waar mense mekaar in die oë kyk en ’n lang pad saamloop. Diep invloed kom daarom primêr van ouers, onderwysers, sportafrig­ters, kategete en direkte hoofde by die werk. Politici en mense uit die vermaaklikheidswêreld het min persoon­like invloed.

As ons Jesus se verhaal in die Evangelies volg, sien ons hoedat Hy die meeste tyd spandeer met die mense naaste aan Homself, die twaalf en die groter kring dissipels. Hierdie was die mense wat ná sy hemelvaart die boodskap van die koninkryk die wêreld ingedra het.

Aan die ander kant sien ons hoedat Jesus ook breë invloed uitoefen. Dit is belangrik hoe Jesus heen en weer beweeg tussen sy naaste volgelinge en diegene wat die groter magte in die samelewing verteenwoordig: godsdienstig en polities. Jesus daag die kultuur, die magstrukture en leiers van die destydse samele­wing uit. Daar is ’n patroon van diep, persoonlike sowel as breë, strukturele invloed. Die tweede sou Hom uiteindelik sy lewe kos.

As Jesus vir ons sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook,” dan het diep en breë invloed albei ’n plek. Ons almal het mense op wie ons direkte en diep invloed kan uitoefen. Miskien is die belangrikste mense wat die Here in gelowiges se invloedsfeer plaas, hulle kinders. Ons roeping as gestuurdes begin by die mense in ons huishoudings, ons vriende, werkkring, die mense met wie ons die meeste tyd deurbring.

Jesus se voorbeeld wys egter vir ons dat breër in­vloed ook belangrik is. Wanneer ons die geleentheid kry, moet ons ook die groter kragte in die samelewing beïnvloed, al is dit moeiliker.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

‘Volg my voorbeeld’

“Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”

Hierdie is nie woorde wat mens ligtelik sê nie. Dit voel amper arrogant. Tog is hierdie beginsel onverhandelbaar vir enige geestelike leierskap en nog meer so as ons praat oor leierskap wat ’n gemeente terugneem na sy gestuurde roeping.

Die voorbeeld van die dominee en die ander leiers trek die gemeente vorentoe. Sonder leiers wat die
koers aandui en die pas aangee, sak die meeste mense terug in ’n gemaksone waar dit primêr gaan oor hulle eie geestelike belewenis, hulle eie geestelike groei en hulle eie behoeftes. Nie dat hierdie dinge onbelangrik is nie, maar ons verstaan tog al duideliker dat dit nie ’n doel insigself is nie. Dit vorm die basis vanwaar gemeentelede na die wêreld beweeg.

Daarom is ’n gemeente se leierskap ook nie bedoel om ’n demokrasie te wees nie. In ’n demokrasie gaan dit oor die stem van die volk, en die volk soek gewoonlik hulle eie voordeel. Gestuurde leiers, daarenteen, neem mense saam op die pad wat Jesus vir ons aandui. En dit is nie ’n pad waar eie gerief en voordeel eerste kom nie.

Wanneer Paulus die gemeente in Korinte oproep om sy voorbeeld te volg soos hy die voorbeeld van Christus volg, gaan dit nie vir hom oor abstrakte moraliteit nie, maar oor ’n leefstyl wat daarop gerig is dat ander mense gered kan word. Hy sê: “Maak soos ek: Ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”

Ons weet dat die voorbeeld van die leiers, en veral die predikant, deurslaggewend is om ’n gemeente te begelei van ’n selfgerigte na ’n gestuurde gemeente. Men­se kan eenvoudig baie beter sien as wat hulle kan hoor. Lidmate weet dat die gestuurde roeping werklik hulle gemeente se erns is as hulle sien die leiers leef dit uit.

Om Jesus se voorbeeld te volg, gaan oor ’n hele klomp dinge. Die goue draad wat egter deur alles loop, is sy besorgdheid oor mense en om mense te red. Daarvoor gee Hy sy goddelike voorregte prys, Hy word ’n mens, Hy neem die gestalte van ’n slaaf aan en gee uiteindelik sy lewe.

Sulke selfprysgawe is nie iets wat natuurlik vir mense kom nie. Voor ’n gemeente dit sal begin doen, moet hulle dit sien gebeur in die lewe van diegene wat voorloop.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Jesus steek die grense oor

As ’n mens die evangelies lees, word daar kort-kort ’n plek se naam genoem. Jesus reis na allerhande plekke. Gaan kyk net ’n bietjie na ’n kaart: Ons vind Jesus in klein dorpies soos Nasaret, in groot dorpe soos Kapernaum en die hoofstad Jerusalem. Ons vind Hom ook in dorpe buite die grense van Joodse gebied – in dorpe soos Sesarea-Filippi, Tirus en Sidon, Betsaida en Gadara.

Net in hierdie lys name is daar reeds ’n sterk teologiese boodskap: God het nie net die Jode in die oog nie, maar die wêreld. Toe Jesus uiteindelik die apostels uitstuur met die opdrag om sy getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld, het hulle geweet om Hom ernstig te neem. Hulle het Hom dit immers self sien doen.

Hulle het verder gesien dat om Jesus te volg, vat jou ook oor ander soort grense: die onsigbare grense soos dié van klas, taal, volk, ras en geslag. Daarom was dit van meet af aan deel van die lewe van Christene om ook oor hierdie soort grense te gaan. Dikwels is hierdie onsigbare grense tussen mense en groepe sterker as landsgrense.

Gemeentes wat hulle roeping as gestuurdes ernstig opneem, neem Jesus se manier van doen ernstig op. Leiers wat Jesus volg, weet dat Hy ons oor grense lei na plekke en mense waar ons nie vanself sou kom nie. Een van die uitstaande gewoontes van gestuurde gemeentes is om oor grense te gaan.

In Suider-Afrika is ons bevoorreg dat die grense meestal sommer naby ons lê. Jy hoef nie ver te reis om by mense te kom wat anders is as jy nie. ’n Mens moet jou dit ook afvra: Watter geloofwaardigheid is daarin om halfpad om die wêreld te reis as jy nie eens oor die grense in jou eie omgewing gaan nie?

Dit is ook belangrik om hieraan te dink as ’n “gewoonte”. Gestuurde mense en gestuurde gemeentes het die gewoonte om oor grense te gaan. Hulle doen dit gereeld georganiseerd maar ook as ’n dag-tot-dag gewoonte waar hulle met mense te doen kry wat anders is as hulleself. Die krag van die vroeë kerk se getuienis het daarin gelê dat die gewone mense, in hulle eie dorpe, as ’n gewoonte, oor grense gegaan het met God se liefde. Dit is ook vandag die krag van gemeentes wat erns maak met hulle identiteit as gestuur­des.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.