Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Een van die klagtes wat ons gereeld in die kantoor van die Algemene Sinode hoor, kom nadat daar een of ander ramp was: “Waar is die kerk? Ons sien vir Gift of the Givers op die TV, maar waar is die kerk?”
In die afgelope maand het ek ’n konferensie bygewoon oor rampverligting. Dit is in Pretoria aangebied deur RESPOND, ’n netwerk wat in die Wes-Kaap ontstaan het en intussen na ander gebiede in Suid-Afrika uitbrei.
Dit was een van daardie gebeure wat ’n mens hoop gee en ook laat dink oor die NG Kerk se plek in die land.
Wat my dadelik opgeval het, was die manier hoe wit en swart naatloos met mekaar saamwerk, mekaar erken en saam soek na oplossings. Hier is nie plek vir ego’s of rassisme nie. Hier maak dit nie saak of iemand swart of wit, man of vrou, ryk of arm is nie. Hier is Christus alles en in almal (om Paulus ’n bietjie aan te pas vir ons dag en tyd).
LEES OOK: Is die Algemene Sinode se rakleeftyd verby?
Nog iets wat my opgeval het, is hoe nie-regeringsorganisasies hulleself sien – ons is die kerk in die gemeenskap. Die taal wat hulle oor hulleself gebruik, is Bybelse taal: “Ons is die liggaam van Christus. Die liefde van Christus dring ons. Ons bedien die versoening van God. Dit gaan oor die koms van God se koninkryk. As daar ’n krisis kom, spring ons nie blindweg in nie, ons onderskei God se wil oor wat die beste optrede sal wees.”
En van die taal gepraat: Dit is nie opgeleide dominees en pastore wat so praat nie, dit is lidmate, die sogenaamde “lay ministry”. Dit het my nogal jaloers gemaak om te hoor hoe tuis hulle is met ’n soliede, Bybelse teologie van barmhartigheid en met ’n Bybelse verstaan van hulle eie lewe en werk. Hulle sien hulle werk as ’n spesifieke manier om mee te werk aan die koms van God se koninkryk. Uiteraard was die mense by die konferensie uitgesoekte geestelike leiers. Maar nietemin – hulle is nie opgeleide teoloë nie maar hulle manier van dink en praat is teologies solied en inspirerend.
Die vroue het my beïndruk. Vroue wat nie sit en wag om ’n verskil te maak nie, en wat nie rondsit en praat nie, maar wat doen. Baie van die nie-winsgewende organisasies word deur vroue gelei en hulle doen dit met liefde en toewyding. Sommige van hierdie organisasies ontvang nie befondsing nie, hulle doen die werk uit hulle eie sakke. Ander is weer baie goed vertroud met hoe om befondsing te kry en ook van wie. Ons kan baie by hulle leer.
LEES OOK: Nie een van ons kan sonder God se seën nie
Dit het my ook opgeval hoe graag hulle wil hê die NG Kerk moet aan boord kom en saamwerk. Hierdie gaan maar net oor een, redelik eenvoudige betrokkenheid in die gemeenskap: hoe ons as Christene vinnig en effektief kan optree wanneer ’n ramp geografies naby aan ons toeslaan. Maar dit is deel van ’n groter prentjie: Ons kan nie en moenie probeer om op ons eie Suid-Afrika ’n beter plek te maak nie. Ons het die netwerke van medegelowiges nodig om effektief te kan wees. Hierdie medegelowiges is daar, ons moet begin om in ons eie dorp of stad, vennote te soek en hande te vat.
Die kerk is reeds aan die werk, en op ’n ander manier as Gift of the Givers. Ons kompeteer ook nie met hulle nie. Maar ons styl is anders. Ons neem Jesus se woorde ernstig: “Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie.” Vir ons gaan dit nooit oor die gewers nie, dit gaan oor God se barmhartigheid vir mense in nood. Maar as ons dit sê, moet ons dit ook doen.
Dr Lourens Bosman is algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Hierdie is nie behulpsaam nie.