Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Is die Algemene Sinode se rakleeftyd verby?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in Oktober 1962, sestig jaar gelede, vir die eerste keer vergader. Dit was presies ’n eeu nadat die kerkverband in 1862 deur die Loedolff-saak versplinter is. Die aanloop na die eerste sitting van die Algemene Sinode en kerkhereniging het reeds in 1907 plaasgevind toe die Raad van Kerke in die lewe geroep is. Hierdie Raad het die sinodes van die NG Kerk wat na 1862 in die verskillende provinsies ontstaan het, in ’n federale verband saamgebind en dit was daar waar die eerste gesprekke oor ’n algemene sinode en kerkhereniging plaasgevind het.

Die Raad van Kerke sou uiteindelik ’n leidende rol speel in die totstandkoming van die Algemene Sinode. Sestig jaar later is die Algemene Sinode onder beleg en word die vraag al meer gevra of die rakleeftyd van die Algemene Sinode nie miskien verby is nie?

LEES OOK | Raak betrokke: 10 Oktober is spertyd vir kommentaar op wetgewing teen Gryslys-status wat SA bedreig

Om die vraag te probeer beantwoord mag die historiese konteks waarin die sinode ontstaan het nie buite rekening gelaat word nie. Alhoewel teologie as ’n belangrike dryfveer na groter eenheid beslis ’n rol gespeel het, is daar ander faktore wat ook ’n belangrike invloed op die kerkvereniging uitgeoefen het. Een van die belangrikste faktore was ’n sterker wordende eenheidsideaal onder Afrikaners. Na ’n era van politieke verdeeldheid het die eenheidsideaal in Afrikanerkringe groot momentum gekry onder leiding van dr Verwoerd. Die vlam van Afrikanernasionalisme wat met die 100 jarige herdenking van die Groot Trek in 1938 aangesteek is, het nuwe hoogtes bereik met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961. Die droom van een verenigde Afrikanervolk het ongetwyfeld ’n groot bydrae gelewer tot die ideaal van een verenigde NG Kerk.

Sedertdien het Afrikanernasionalisme en die droom van een Afrikanervolk deel van die geskiedenis geword en die stryd om selfhandhawing het tot ’n einde gekom. As Afrikanernasionalisme die belangrike gom was wat die kerk in staat gestel het om ten spyte van groot diversiteit in die verskillende sinodes tog in een algemene sinode saam te kom, is dit nie vreemd dat die Algemene Sinode na 60 jaar onder beleg is nie. Miskien het dit daarom tyd geword om te aanvaar dat die Algemene Sinode soos dit tans daar uitsien se rakleeftyd verby is en dat daar dringend na ’n nuwe vorm van eenheid gesoek moet word.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Is die Algemene Sinode se rakleeftyd verby?”

  1. Prof Van der Merwe beweer dat Afrikanernasionalisme die gom was wat die kerk sedert 1962 bymekaar gehou het ten spyte van groot diversiteit in die verskillende sinodes.

    Ek kan nie daarmee saamstem nie. Van watter groot diversiteit praat hy? Dit was teologiese eenheid wat die kerk bymekaar gehou het sedert 1962. Die verdeeldheid wat tans in die NG Kerk beleef word, is weens verskille oor fundamentele teologiese kwessies.

    Verder, hoe kan die struktuur die skuld kry vir hierdie verdeeldheid? Die Algemene Sinode bestaan uit verteenwoordigers regoor die hele land. Die Algemene Sinode kan tog sekerlik nie sieninge op mense afdwing nie. Dit kan nie eenheid afdwing nie.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.