Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Raak betrokke: 10 Oktober is spertyd vir kommentaar op wetgewing teen Gryslys-status wat SA bedreig

Die regte ding word op die verkeerde wyse aangepak, sê dr Gustav Claassen oor beplande wetgewingswysigings wat hy meen nadelig vir die nie-winsgewende sektor en daarom die “kerklike omgewing” en gemeentes mag wees.

“Dit is van kardinale belang dat (die algemene wysigingswetsontwerp wat op 27 September vir openbare kommentaar gepubliseer is) goedgekeur word, maar nie in sy huidige vorm nie,” sê Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Maandag 10 Oktober 2022 om 12:00 is die sperdatum vir kommentaar op die voorstelle wat in die dokument vervat is (Anti-Money Laundering and Combating Terrorism Financing Amendment Bill).

Die beplande aanpassings spruit uit pogings om te verhoed dat Suid-Afrika deur die Internasionale Finansiële Aksietaakspan op die sogenaamde gryslys geplaas word, tesame met ander soos Botswana, Malta, Turkye en Pakistan.

Gryslys-lande word as vrugbare terrein vir sindikate en kriminele wat afsetgebiede soek beskou en so ’n status kan die vloei van buitelandse befondsing na Suid-Afrika blokkeer en/of vertraag.

Hoewel die oogmerke van die wetsontwerp prysenswaardig is en Suid-Afrika onder druk is om maatreëls te toon en in plek te hê om die sogenaamde gryslys te vermy, is “die impak van die wetsontwerp in sy huidige vorm in sekere opsigte kommerwekkend vir die nie-winsgewende sektor en daarom ook vir die kerklike omgewing,” aldus Claassen.

Claassen meen dat sommige dele van die wetsontwerp maatreëls voorstel wat:

  • onnodig is, aangesien daar reeds in ander wetgewing daarvoor voorsiening gemaak word;
  • vaag is en verwarring skep;
  • onnodig wyd is in verhouding tot die risiko’s wat dit probeer teëwerk; en
  • vryhede ongrondwetlik beperk en administratiewe laste en vertragings dramaties verhoog, met min of geen van die beoogde impak nie.

Hy doen ’n beroep op diegene in die nie-winsgewende sektor om hierdie inligting wyd te deel, om bewustheid te bou van en ’n breë reaksie op hierdie Wetsontwerp te genereer”. Diegene wat belangstel om kommentaar te lewer kan Claassen per e-pos kontak rondom moontlike voorgestelde wysigings by gustavc@ngkerk.org.za.

Hy voeg by dat waar veelvuldige wysigings oor ’n enkele kwessie handel, hulle dit versamel en groepeer om een opmerking oor alle relevante dele gelyktydig moontlik te maak.

Hou die volgende in gedagte wanneer kommentaar gelewer word:

  • Dit moet duidelik wees hoekom jy dink dat ’n bepaalde bepaling nie in sy huidige vorm aangeneem moet word nie;
  • Hou die risikogebaseerde benadering in gedagte en dui aan waarom jy dink die voorgestelde maatreël sal, of sal nie help om die risiko soos bedoel te verminder nie; en
  • Indien bewoording verander moet word, maak spesifieke voorstelle oor hoe dit gewysig moet word.

Indien jy direk jou voorleggings wil aanstuur, gebruik die volgende e-posadresse: awicomb@parliament.gov.za en tsepanya@parliament.gov.za. Daar is ook ’n Zoom-gebaseerde openbare verhoor op Dinsdag 11 Oktober. Diegene wat voorleggings maak en wat hierby ingesluit wil word, moet die versoek by hulle voorlegging insluit.

Agtergrond

Die Wetsontwerp stel die wysiging van vyf wette voor: The Financial Intelligence Centre Act, Trust Property Control Act, Companies Act, Nonprofit Organisations Act, en die Financial Sector Regulation Act. Die hoofdoelstellings is die volgende:

  • die blootlegging van die bevoordeelde eienaars en persone wat uiteindelik in beheer is van alle maatskappye en organisasies;
  • om dit verpligtend te maak vir alle maatskappye en organisasies wat in Suid-Afrika sake doen, om by ’n regulerende owerheid geregistreer te wees. In die geval van organisasies sonder winsbejag maak dit OSW-registrasie verpligtend, insluitend buitelandse OSW’s wat in Suid-Afrika bedrywig is;
  • die byvoeging van ’n reeks bedrogverwante misdrywe by die lys van sake wat dit onmoontlik sal maak om ’n fidusiêre amp in ’n maatskappy of organisasie te beklee, en
  • die vereiste dat die Companies and Intellectual Property Commission (CIPC), die Meester van die Hooggeregshof en die OSW-direktoraat ’n swartlys in stand sal hou van diegene wat onbevoeg is vir sodanige posisies en ook sal beveel dat hulle uit die amp verwyder word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top