Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nie een van ons kan sonder God se seën nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die afgelope week kom ek op ’n ou argeologiese artikel af. Dit handel oor Gabriel Barkai en Judy Hadley wat in 1979 twee klein silwer amulette by Ketef Hinnom net buite die Ou Stad van Jerusalem ontdek het. Die amulette is van dun velle silwer gemaak en is in klein rolletjies opgerol en om die nek gedra. Met behulp van mikroskopiese fotografie kon bepaal word dat die Hebreeuse reëls daarop onder meer ’n seën wat ooreenkomste met die priesterlike seën van Numeri 6:24-26 toon, bevat.

Lees ook: Die gevaar van kleingeloof

Uit die Bybel is die belangrikheid van God se seën vir mense sonder meer duidelik. Niemand kon sonder God se seën oorleef nie. Vir die mense van die Bybel was seën nooit ver en abstrak nie, maar in die hier en nou – konkreet en werklik. In die seën het hulle iets van God ontvang – ’n stukkie moed om vorentoe te beur en krag om die dagtaak aan te pak. God se seën het inderdaad die kwaliteit van hulle lewe verhoog; dit het die lewe meer sinvol en hulle daaglikse bestaan draagliker gemaak. Niemand kon dus sonder God se seën nie.

Numeri 6:24-26 getuig egter nie net van die Here se seën nie, dit sê dat die Here ons “bewaar”. Die basiese idee agter die Hebreeuse woord wat met “bewaar” vertaal word, is “om groot sorg uit te oefen oor iets/iemand”. Die verhouding waarin die Here tot Israel staan getuig van besondere groot sorg. Israel kan met oorgawe vanuit hierdie sekerheid lewe.

Lees ook: Om tot geldige vertolkings van die Skrif in ons tyd te kom

“Gesig” is ook ’n prominente woord in die priesterlike seën. In die Ou Testament dui die woord vir “gesig” onder meer op ’n persoon (en hier dus ook God) se totale teenwoordigheid. Wanneer God na Israel kyk, is sy teenwoordigheid vir hulle ’n werklikheid. As God sy gesig na iemand toe gedraai het bevestig dit sy verbintenis aan mense. Numeri 6:24-26 getuig met die gebruik van die woord “gesig” dat gelowiges te midde van elke dag se take, verantwoordelikhede, konflikte en stryd om oorlewing, met God se teenwoordigheid geseën is.

In vers 25 word die Hebreeuse woord met “genadig wees” vertaal. Die vertaling is nie verkeerd nie, maar die Afrikaans verskraal so die sosio-kulturele betekenis van die woord. Binne die destydse wêreld hou dié woord verband met die sosiale interaksie van weldoener-begunstigde. Die Hebreeuse woord druk ’n intense gevoel van omgee by iemand wat mag (en dus lewensmiddele) het uit, terwyl die gevoel uitdrukking vind in die gee aan iemand wat in nood is, of ’n behoefte het. In ’n onlangse monografie word voorgestel dat die werkwoord verstaan word as God se ingryping om sy mense terwille te wees, met die klem op lojale verbintenis, eerder as op genade en liefde.

Gelowiges is byna sonder uitsondering vertroud met die Hebreeuse woord shalom wat hoofsaaklik met “vrede” vertaal word. Belangrik is om te weet dat in die destydse wêreld dié woord nie soseer met die afwesigheid van konflik, stryd of oorlog, verband gehou het nie. Trouens, so ’n verstaan sou neerkom op ’n uiterste verskraling van die betekenis van die woord. Implisiet in die woord is die idee van onbevange verhoudings met ander wat sonder meer uitloop op die groep en alle groepslede se belange en welwese. Dit dui ’n staat van heelheid, volledigheid en vervuldheid aan.

Lees ook: “Heilige Gees” in die Ou-Testamentiese getuienis

Die laaste vers sê dat God sy vrede (shalom) op Israel “lê” en dat die priesters die Here se naam op die Israeliete moet “lê”. Die woord wat hier met “lê” vertaal word kom meer as 570 maal in die Ou Testament voor. Dit word in verskeie kontekste gebruik waar dit behalwe die voor die hand liggende betekenis van die Afrikaans, ten minste ses verskillende betekenismoontlikhede het. In vers 26 het dit na alle waarskynlik die betekenis van “iets aan iemand toeken”. Die Here ken aan Israel vrede toe. In vers 27 dui dieselfde Hebreeuse woord daarop dat “iemand of iets in ’n spesifieke verhouding geplaas word”. Wanneer God sy naam op gelowiges lê, bevestig dit die Here se verbintenis aan ons. Daarom dra ons as Christene die Here se naam.

Die priesterlike seën van Numeri 6:24-26 roep ons nie op om iets te doen nie. Dit bevestig God se verbintenis aan ons. Hierdie verbintenis beteken dat die Here groot sorg oor ons uitoefen, dat ons kan seker wees van God se totale teenwoordigheid, dat ons die Here se lojale guns ontvang, dat die Here aan ons heelheid toeken en dat die Here Hom met sy naam aan ons verbind.

Sou dit verkeerd wees om te glo dat die priesterlike seën van Numeri 6:24-27 inderdaad geld as God se woord vir alle gelowiges? Kan Numeri 6:24-27 ons moontlik help om as kerk anders met mekaar en oor mekaar te praat?

  • Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG Gemeente Lynnwood.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.