Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In ’n hoofstuk oor die geestelike dimensie van geloof in die Matteusevangelie maak Nijay Gupta verskeie insiggewende opmerkings oor geloof in Jesus.
Hy begin deur op te merk dat Jesus se beklemtoning van die noodsaaklikheid om te glo in Matteus ietwat onverwags is in die lig van die Ou Testament. Die Ou Testament verwys naamlik selde na geloof in die bestaan van God. Dit praat eerder van vertoue in God en trou aan sy verbond.
Lees ook: Om tot geldige vertolkings van die Skrif in ons tyd te kom
In die Griekse vertaling van die Ou Testament word dieselfde naamwoord wat Matteus vir geloof gebruik (pistis) dan ook verskeie keer met die betekenis van vertroue gebruik. In die tyd van Jesus is om te glo dus nie soseer om te aanvaar iets is waar of bestaan nie. Dit is eerder om op iets of iemand te vertrou.
Jesus verstaan geloof dus in lyn met die Ou Testament as vertroue. Wanneer Hy mense oproep tot geloof vra Hy nie net dat hulle sy onderrig as waar sal aanvaar nie. Hy vra of hulle ook hulle vertroue daarin sal stel.
So wys Gupta daarop dat Jesus telkens verskeie persone wat Hom om hulp nader, al is hulle nie sy volgelinge nie, loof vir hulle geloof (Matt 8:5-13; 9:2-8, 18-26, 27-31; 15:21-28). Hulle geloof bestaan nie uit kennis van al Jesus se uitsprake nie, maar eerder uit hulle onwrikbare vertroue in Hom. In dié sin is hulle geloof gering, maar gefokus.
Lees ook: Nuwe tydvak wink vir die herwaardering van Johannes se verstaan van Jesus
Volgens Matteus kan diegene met geloof so gering soos ’n mosterdsaad merkwaardige dinge verrig. ’n Mostertsaad-geloof is egter anders as kleingeloof (Matt 17:14-20).
In Matteus word die dissipels dikwels deur Jesus betugtig as kleingelowiges. Hulle weet baie van Jesus maar vertrou nie in Hom nie. Hulle fokus is telkens op die uitdagings van die lewe en nie Jesus nie. Mosterdsaad-gelowiges weet weer minder van Jesus, maar hulle vertrou volledig op Hom.
Terwyl Matteus wel ’n swaar aksent lê op die verstaan van die leer van Jesus kan dit volgens hom nie die vertrouedimensie van geloof in Hom vervang nie. Daarom moet gelowiges waak teen kleingeloof wat arm is aan vertroue.
Om te glo in Jesus is nie net om kennis oor Hom te versamel nie. Dit is om vir alles op Hom alleen te vertrou. Dit is die geloof wat Jesus loof.
- Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.