Marius Nel

Ons daaglikse brood

Dit is vir ons dikwels moeilik om onsself in die skoene van Jesus se eerste volgelinge te plaas. Ons aanvaar meestal dat hulle lewe nes ons s’n was. So verstaan baie mo­der­ne lesers van die Bybel Jesus se uitnodiging dat ons moet bid vir ons daaglikse brood (Luk 11:3) as ’n figuurlike ver­wysing na die oorvloed wat ons elke dag eet. Dat Jesus ons dus vrypas gee om vir oorvloed te bid.

In haar studie oor verlossing in Lukas gee Mija Wi egter ’n insiggewende blik op hoe mense in die tyd van Jesus oor kos gedink het. Sy wys daarop dat brood die meeste mense se stapelvoedsel was saam met olywe en druiwe. Waar ons vandag byna elke dag ’n porsie vleis eet, was dit geensins deel van antieke mense se alledaagse dieet nie. As ’n vetgemaakte kalf geslag is vir ’n spesiale geleentheid soos ’n fees, sou die hele gemeenskap daarvan geëet het (Luk 15:27, 30). Daar was ook geen manier om vleis te verkoel om dit te bewaar nie, en dit moes dus op een slag opgeëet word. Die hoofmaal van elke dag het egter uit brood bestaan. Nie almal het egter dieselfde brood geëet nie. Witbrood, gemaak van die meel van fyn gesifte graan, was net vir die elite be­sko­re. Die armes het garsbrood geëet met ’n laer voe­dingswaarde. Die brood wat daar­van gemaak is, is dikwels neerhalend as swartbrood beskryf omdat dit van on­ge­sifte meel gemaak is. Volgens Open­baring 6:6 was gars egter drie keer goedkoper as koring en was garsbrood dus bekostigbaar vir armes. Dit is daarom opvallend dat die Johannesevangelie eksplisiet meld dat Jesus met sy voedingswonder garsbrode, die kos van die armes, vermeerder het (Joh 6:9, 13). Daar kan dus aanvaar word dat die meeste van sy volgelinge op die garsbroodlyn geleef het.

Vis was net in Galilea volop. Hoender sou net by ’n spesiale ete geëet word. Selfs eiers was skaars en is as ’n lekkerny beskou. So vra ’n kind in Jesus se illustrasie van God se goedheid sy pa in Lukas 11:11-12 vir ’n eier, maar kry hy ’n skerpioen. Selfs ’n bietjie kennis van die alledaagse dieet in die tyd van Jesus kan ons ’n smaak gee van die wêreld waarin Hy geleef het en ons help om sy woorde beter te verstaan.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Geseënd is die rykes …

Daar is al dikwels daarop gewys dat die Lukasevangelie ’n besondere fokus op die armes het. Nie alleen verklaar Jesus dat Hy die ­goeie nuus van God se genadejaar aan die armes kom verkondig het nie (Luk 4:18-19), maar ook dat die koninkryk van God aan hulle behoort. In Lukas 6:20 verklaar Jesus dat die armes juis om dié rede geseënd is. Diegene wat honger ly, huil, verstoot en verneder word se beloning in die hemel sal groot wees (Luk 6:20-23). Vir die rykes wag daar egter ellende (Luk 6:24-26). Tog is daar wel rykes wat volgens Jesus geseënd is. In Lukas 14 is Jesus byvoorbeeld aan tafel saam met ’n leier van die Fariseërs, ’n ryk man wat kan bekostig om ’n groot maal vir sy vriende en familie te voorsien (14:12). Vir dié welgestelde man belowe Jesus dat hy geseënd sal wees, want hy sal deel in die opstanding van die regverdiges (14:14). Ten einde daarin te deel moet hy egter ook tot seën wees vir die armes, kreupeles, verlamdes en blindes (14:13). Sy lewe moet nie daarop afgestem wees om die guns van die invloedrykes te bekom nie (14:12), maar eerder die armes te versorg. Dit is opvallend dat die seën wat God aan die armes in Lukas 6:20-23 belowe met die koms van God se koninkryk, in die hede deur die ryk gasheer aan hulle betoon moet word. Die gasheer se verwagting van wat God in die toekoms sou doen, sy geloof in Hom, moes sy optrede in die hede bepaal.

In lyn hiermee het Bonhoeffer op die gevaar gewys dat ons geloof vervlak tot die blote instemming dat ’n sekere idee oor Jesus, soos sy kruisdood en opstanding, waar is sonder om Hom daadwerklik na te volg. So kan ons in Jesus se genade glo sonder om genade vir ander te word. Deur dit te doen maak ons genade egter goedkoop. Vir Lukas is God se seën egter verweef met ons seën van ander. Daarom moet ons in ons konteks, as geseëndes vra of ons belas­ting, kundigheid en alle vorme van hulpverlening wat ons kan verleen vir juis die armes tot seën is. Om waarlik die evangelie van Jesus, die goeie nuus van God se herstel van die wêreld te glo, is om dié evangelie te beliggaam. Om so vir ander tot seën te wees is ten diepste om ’n geseënde te wees.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Humor se slaankrag en trefkrag

Daar word toenemend deur Nuwe-Testamentici daarmee re­ke­­ning gehou dat die Evangelies deur die meerderheid van die eerste ge­lowiges eerder gehoor is, as wat hulle dit self sou gelees het. Om die rede is die wyse waarop dié verhale geskryf is beïnvloed deur die wete dat dit voor­gelees sou word. So is een van die belangrike vereistes vir die kommunikasie met ’n gehoor dat hulle aandag deurgaans behou moet word.

Een van die doeltreffendste retoriese tegnieke, wat deur antieke skrywers hiervoor benut is, is humor. Humor, wat daarin slaag om mense te laat lag, veroorsaak dat hulle meer ontvanklik is vir oortuiging deur ’n spreker as wat hulle andersins sou wees. Dit is veral die geval waar mense as ’n groep saam na ’n teks luister. So reken navorsers dat men­se tot so veel as 30 keer meer geneig is om te lag as hulle deel van ’n gehoor is, as wanneer hulle op hulle eie is.

In die bestudering van antieke teks­te is die probleem egter dat ons nie presies weet wat vir antieke mense humoristies was nie. Dit wil egter voorkom asof die elemente van humor universeel is. So is een element dat daar ’n teenstrydigheid tussen twee storielyne moet wees. So kan daar ’n teenstrydigheid ontstaan tussen wat die karakters in ’n storie glo en weet, teen­oor wat hulle gehoor weet. Hiervan is die gesprek tussen Nikodemus en Jesus in Johannes 3 ’n treffende voorbeeld volgens Michael Whitenton. Volgens hom word Nikodemus in die hoofstuk voorgestel as ’n gerekende lid van die Joodse raad en as ’n geleerde Skrifge­leerde (Joh 3:1, 10). Volgens Jesus is Nikodemus niks minder as dié leermeester van die hele Israel nie, en tog besef die gehoor dat juis hy telkens Jesus doodgewoon misverstaan. Die misverstande word veroorsaak deurdat Jesus telkens dubbelsinnige begrippe soos “gees”, “water”, “gebore” en “op­nuut” gebruik. Elkeen van die begrippe word deur Nikodemus misverstaan! Daar is dus ’n skerp kontras tussen hoe hy be­kendgestel word deur Jesus en hoe hy deur Johannes uitgebeeld word. Die een misverstand na die ander sou waarskynlik die gehoor, wat geluister het na die voorlesing van Johannes in die byeenkomste van die eerste Christene, laat skaterlag het. Hulle gelag sou hulle daaraan verbind om die alternatiewe verstaan van die onderskeie begrippe as Nikodemus s’n as waar te aanvaar. So sou hulle lag-lag die Evangelie van Johannes aanneem.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Die nuwe weg wat Jesus inlei

In die vorige rubriek is verwys na hoe verskillende groeperinge in Pa­le­stina gereageer het op die Ro­mein­se besetting in die tyd van Jesus. So het die Herodiane met die Romeine mee­gewerk, die Fariseërs hulle eenkant gehou, die Esseners hulle van die samele­wing onttrek en die Selote hulle beveg. Die vraag ontstaan daarom watter stra­tegie Jesus gevolg het.

Dit is eerstens duidelik dat Jesus nie die Romeinse be­lange beveg of bevorder het nie. Hy het die verlangde Romeinse belasting be­taal, gevra dat soldate se voorraad ’n ekstra myl gedra moes word indien daarvoor opgekommandeer en geleer dat mense hulle vyande moes liefhê. Tog is Hy deur die Romeinse goewerneur ter dood veroordeel ondanks sy wete dat Jesus onskuldig is.

Dit is tweedens dui­delik dat Jesus deurlopend in konflik met die verskillende Joodse groepe was. Van die groeperinge wat gewoonlik vyan­dig teenoor mekaar was, soos die Fariseërs en die Sadduseërs, het selfs saamgespan teen Jesus. Jesus het verder wel met tye Homself in die woestyn of op heuwels afgesonder, maar het Hom nooit daar gevestig nie. Jesus het ook nie ’n weermag versamel nie. Die dissipels en ander wat Hom gevolg het, het volgens Lukas 22:38 oor slegs twee swaarde beskik.

Dit kan daarom gevra word wat Jesus se oogmerk was. Wat wou Hy bereik en hoe het Hy gedink gaan Hy dit bereik? Uit die Evangelies blyk dit dat Jesus ’n apokaliptiese profeet was. Apokaliptiek is die oortuiging dat die geskiedenis self ’n einde sal hê. Anders as die meeste Joodse groepe in sy tyd wat geglo het dat God verande­ring in die geskiedenis sou bewerk, het Jesus geglo dat God die geskiedenis self tot ’n einde sou bring deur ’n nuwe era van vrede en geregtigheid in te lei. Die normale verloop van die geskiedenis waar­in een koning die ander opvolg, sou dus tot ’n einde kom en God self sou as koning oor alles en almal regeer. In kort het Jesus geglo dat die koninkryk van God sou aanbreek. Dié koninkryk berus volgens die Nuwe Testament nie op die vermoë van die nuwe koning om diegene wat nie sy wil doen dood te maak nie. Dit berus eerder op die ko­ning se bereidwilligheid om in swakheid vir almal, selfs diegene wat hom tereggestel het, te sterf. Dit is die nuwe weg wat Jesus ingelei het.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Jesus se nuwe manier van teen onreg ‘baklei’

Twee geslagte voor die geboorte van Jesus, is Jerusalem deur die Romeinse generaal Pompejus verower. Volgens Josefus het twaalfduisend mense met die inname gesterf en lui dit ’n eeue lange tydperk van Romeinse oorheersing van Palestina in. Vanuit die Evangelies is dit duidelik dat die Jode op verskillende maniere op die Romeinse oorheersing ge­reageer het.

Die eerste manier was om grootliks met die Ro­meine saam te werk. So het die Sadduseërs, priesters, Herodiane en die ryk elite van Jerusalem besluit om met die Romeinse maghebbers mee te werk ten einde te voorkom dat hulle die tempel sou vernietig. Deur hulle meedoen aan die Romeinse beleg het hulle ongekende invloed en welvaart bekom.

Die tweede reaksie was om jouself eenkant of apart te hou in die samelewing. So het die Fariseërs geglo dat as hulle hulleself apart kon hou van diegene wat onrein is, en die reinheidsvoorskrifte van die Ou Testament nougeset sou nakom, hulle God se guns sou wen en dat Hy Israel dan sou bevry van haar onderdrukkers.

Die derde opsie was om totaal te onttrek uit die samelewing soos wat die Esseners gedoen het. Ons lees niks van die Esseners in die Nuwe Testament nie, maar daar is ’n sterk moontlikheid dat Johannes die Doper een kon gewees het aangesien hy hom afgesonder het in die woestyn. Anders as die Fariseërs het hulle nie gedink dit is moontlik om in die samelewing aan die verbond getrou te bly nie. Daarom het hulle hulleself onttrek van die samelewing en gaan vestig in afgeleë gemeenskappe waarvan Kumran die bekendste is. In hierdie gemeenskappe het hulle probeer om volgens uiters streng ordereëls te leef.

Die vierde opsie was om te veg vir vryheid. Só het die Makkabeërs en die Selote, groepe uit verskillende eras van die Joodse geskiedenis, gewelddadig gereageer op onderdrukking. Die Makkabeërs het teen die Seleukiede geveg en die Selote later teen die Romeine. Terwyl die eerste groep se vryheidstryd suksesvol was, is die Selote uitgeroei na hulle mislukte oorlog teen die Romeine.

Wat opvallend is in die Evangelies, is dat Jesus nie tot een van die groepe behoort het nie. Trouens, die groepe wat gewoonlik in konflik met mekaar was, was verenig in hulle weerstand teen Jesus. Jesus het naamlik ’n nuwe werkswyse voorgestaan om met onreg om te gaan. Ons sal volgende keer by dié nuwe weg stilstaan.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Christus die oorwinnaar

Die Nuwe Testament gebruik meer as een beeld om te verduidelik wat Jesus deur sy dood bereik het. Die bekendste beeld is dat Jesus Homself as ’n offer vir sondaars gegee het. So verwys 1 Petrus 1:18-22 daarna dat hulle deur die kosbare bloed van Jesus as die vlekkelose Lam vrygekoop is.

1 Petrus 3:18-22 gebruik egter ook ’n ander beeld wat die verlossing van gelowiges nie aan Jesus se dood koppel nie, maar aan sy opstanding. Dit praat ook nie in kultiese terme oor Jesus se verlossingswerk nie, maar in militêre terme. Dit verruim ook die gevolge daarvan deurdat dit beklemtoon dat Jesus alle kragte en magte oorwin het.

Die verskillende beelde vir Jesus se versoenings­werk verruim ook ons teologiese denke. So bied dit aan ons ’n alternatiewe wyse om die frase “ter helle neergedaal het” in die Apostoliese Geloofsbelydenis te verstaan. Beoordeel vanuit die kultiese verstaan van versoening, wat fokus op die offer van Jesus, is die neerdaal na die hel deel van Jesus se vernedering en lyding. Volgens die Christus-oorwinnaar-beeld is die neerdaal van Jesus na die hel egter deel van sy oorwinning en triomf oor die geeste in die gevangenis deurdat Hy sy oorwinning aan hulle gaan aankondig het (1 Pet 3:19). Die agtergrond vir die siening is die Joodse uitleg van Genesis 6:1-6. In 1 Henog 6-16 word vertel hoe die engele die aardse vroue begeer het en by hulle kinders verwek het. Hul nageslag was volgens 1 Henog die reuse waarna Genesis 6 verwys. Omdat hulle teen die hemel en die aarde gesondig het, is hulle as straf deur God uit die hemel geban en in die aarde opgesluit. Petrus se verwysing daarna dat Jesus sy oorwinning aan die geeste gaan aankondig het verseker dus vir sy lesers dat die opponente van God vir ewig verslaan is. Volgens Petrus het Jesus dus nie net gesterf vir sy lesers se sondes nie, maar dat Hy in die hede regeer deurdat Hy in die hemel ingegaan het. Die verskeidenheid van beelde wat Petrus gebruik vir die verlossingswerk van Jesus sou sy lesers daarvan oortuig dat daar geen krag of mag is wat hulle moet vrees nie. Vir ons herinner dit daaraan om die rykdom van die Nuwe Testament te ontgin en nie net in die bekende beelde nie.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Bekering tot die waardes van die koninkryk van God

Jesus, Johannes die Doper en die dissipels was dit eens dat die koms van God se koninkryk gevra het dat diegene wat die boodskap hoor hulleself moes bekeer. Bekeer deurdat hulle, en ons, volgens die waardes van die koninkryk van God leef.

Die kernwaarde daarvan is dat ons opnuut moet leer om te deel in God se liefde vir onsself, ander en sy ganse skepping (Luk 10:27). God se koninkryk is nie beperk tot ’n enkele nasionale groep of geografiese gebied nie. Dit omsluit almal en alles.

Die liefde wat God se allesomvattende liefde by ons moet ontlok, is meer as ’n emosie. Dit is om op ’n etiese wyse met ander saam te leef.

So is liefde volgens Johannes 14:15 om in gehoorsaamheid aan God te leef. Dit vra wat God van ons verlang en nie wat ons eie hart begeer nie. In navol­ging van die Ou Testament, wat ons oproep om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys, en om God in alles in ag te neem (Miga 6:8), verklaar Jesus dat God diegene wat honger en dors na sy koninkryk se gereg­tigheid seën (Matt 5:16).

Die geregtigheid is nie iets wat van ons vereis om op te hou om mens te wees nie. Dit vra trouens van ons om as die mens te leef wat God ons bedoel het om te wees en om vir ander dieselfde te gun.

Om dié rede moet ons die menswaardigheid van alle mense respekteer as die beeld van God deur aan hulle die ruimte te bied om hulle unieke gawes uit te leef.

Die ruimte moet verder strek as dat ons mekaar toelaat om dit as individue in isolasie van mekaar te doen. Die koninkryk van God herstel juis ons gemeenskap met mekaar sodat ons mekaar kan dien en opbou met ons gawes.

Ons is immers die beeld van God in gemeenskap met mekaar volgens die eerste skeppingsverhaal (Gen 1:26-27). Daarom moet ons nie net leer om die beeld van God in almal te herken nie. Ons moet meewerk daaraan dat dit ook bevestig word van diegene wat dikwels deur die samelewing uitgerangeer word.
Die koninkryk van God is daarom volgens Lukas 4 juis goeie nuus vir die armes en ander gemarginaliseerdes. Dit herstel almal tot hul regmatige plek in God se goeie skepping.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Verhouding tussen kerk en koninkryk

Een van die belangrikste vrae oor die koninkryk van God is die vraag na die verhouding tussen die koninkryk en die kerk. Terwyl skrifgeleerdes meestal aanvoer dat die kerk en koninkryk nie identies met mekaar is nie, is daar uiteenlopende menings oor hoe die verhouding tussen hulle verstaan moet word.

Dikwels word aangevoer dat die kerk maar ’n flou weergawe van die koninkryk is. Só word Alfred Loisy deur baie met instemming aangehaal wat gesê het dat Jesus die koninkryk van God verkondig het, maar dat dit die kerk was wat gekom het!

Gepaardgaande met die vraag na die verhouding tussen die kerk en die koninkryk is die kwessie of die koms van die koninkryk gaan oor die innerlike, geestelike transformasie van mense of oor die uiterlike, sosio-politiese transformasie van die samelewing.

So argumenteer sommige dat die fokus van die koninkryk van God op die konkrete verbetering van mense se lewe is en dat dit daarom in die wêreld inbreek waar enigiemand, of hulle in Christus glo of nie, in lyn met sy aardse lewe die lot van gemarginaliseerdes verander. In dié geval is die kerk eintlik oorbodig want God se koninkryk kom dikwels duideliker deur die werk van die welsynstaat.

Ander lê egter die klem daarop dat die koninkryk slegs kom waar die koningskap van Jesus, soos net in die kerk, eksplisiet bely word. Volgens dié siening is nie alles wat mense doen om die lewe van mense te verbeter dus outomaties koninkrykswerk nie. Om dié rede is die kerk van kernbelang vir die koms van God se koninkryk al verbeter die optrede van volgelinge van Jesus nie altyd die lot van ander nie.

In die lig hiervan is dit waarskynlik wys om die koms van die koninkryk te verbind aan die erkentenis van Jesus se koningskap, maar dan ook om die omvang van die transformasie wat dit bring, wyer te verstaan as net die innerlike transformasie van mense.

So word Petrus in Matteus 16:16-20, op grond van sy belydenis van Jesus as die Christus, sowel die rots waarop God sy kerk bou as die sleuteldraer van die koninkryk.

Kerk en koninkryk mag dus nie van mekaar geskei word nie. Daarom moet die kerk eerder streef om te groei in haar gehoorsaamheid aan Christus deur die innerlike en uiterlike transformasie wat God se ko­nink­ryk meebring te beliggaam.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

In die koninkryk van God is almal familie

Die waardes van die koninkryk van God wat Jesus verkondig het, was lynreg teenoor dié van sy tyd.

In die eerste-eeuse Mediterreense wêreld was alle sosiale interaksie volgens antropoloë op die beginsel van wederkerigheid gebaseer. Wederkerigheid was ’n implisiete sosiale kontrak wat tussen mense bestaan het wat bepaal het hoe hulle mekaar hanteer en by­staan.

Tussen familielede is goedere en hulp vrylik gegee sonder om iets terug te verwag. Ouers sou byvoorbeeld hulp aan hulle kinders gee sonder om te verwag dat hulle iets sou terugontvang (Matt 7:11).

Binne die groter stam waaraan mense behoort het, is daar weer ’n streng balans tussen gee en ontvang gehandhaaf wat as gebalanseerde wederkerigheid be­skryf kan word. Hiervolgens moes almal in die stam ontvang waarop hulle geregtig is (Matt 10:10).

Teenoor enige persoon wat egter nie aan jou stam behoort het nie, is negatiewe wederkerigheid beoefen deurdat hulle selfs gekul kon word in handelstransaksies (Luk 10:30).

In die wêreld van Jesus is dus altyd gevra wie is iemand in terme van hulle sosiale herkoms. Is hulle vreemdelinge en daarom buitestanders, of stamgenote en selfs familielede?

Waar daar in die geval van positiewe wederkerigheid soos teenoor eie kinders gefokus is op die behoef­tes van die ander persoon, staan eie behoeftes voorop by negatiewe wederkerigheid. In die geval van geba­lan­seerde wederkerigheid is weer ewe veel gewig aan beide partye se belange verleen.

Dit is daarom insiggewend dat wanneer Jesus praat oor God se koninkryk en die deelgenote daarvan Hy hulle beskryf as mekaar se nuwe familie (Mark 3:31-35). Die verwysing na gelowiges as “broers” en “susters” is dan ook die algemeenste aanspreekvorm van medegelowiges in die Nuwe Testament (Matt 18:15; 28:10).

Hulle status as familielede impliseer dat hulle mekaar met ’n positiewe wederkerigheid moet hanteer. Die behoefte van die ander broer of suster moet eerste kom in sosiale interaksies.

Die kerk in Jerusalem leef dan ook soos een groot familie deur alles te deel volgens die behoeftes van elk­een (Hand 4:32). In Romeine 12:9-21 spel Paulus verder uit net hoe radikaal die koninkryk van God sosiale grense en daarmee saam ons omgaan met mekaar geskuif het.

Nie net moet medebroers en -susters met liefde on­dersteun word nie (vers 13) maar selfs vyande (vers 14). Gelowiges moet ten alle tye goedgesind wees aan alle mense (vers 17).

In die koninkryk van God word mense nie georden en dan verskillend hanteer nie. In die koninkryk van God is almal familie.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Die koninkryk van God lyk anders as die wêreld

Ondanks Jesus se verkondiging en voorbeeld, bly dit steeds baie maklik om die onderliggende waardes van die koninkryk van God met dié van die wêreld gelyk te stel. Ons is immers vertroud met die wêreld waarin ons leef en hoe mag daarin funksioneer en daarom verwag ons dat dit op ’n soortgelyke wyse in God se koninkryk sal funksioneer.

Dit is nie net ons wat hiermee sukkel nie. Die eerste volgelinge van Jesus het ook daarmee gesukkel. So vertel Matteus hoe die ma van die seuns van Sebedeus Jesus genader het met die versoek dat Hy aan haar twee seuns ereplekke in sy koninkryk sou gee deurdat hulle aan sy regter- en linkerkant sou sit (Matt 20:20-21).

In ’n wêreld waarin vroue hul invloed deur hul ­seuns of mans bekom het, wou sy waarskynlik haar eie toekoms verseker. Haar verwagting was waarskynlik dat Jesus soos baie aardse heersers sou optree deur diegene wat Hom ondersteun, met invloedryke posisies te beloon. Hulle was immers volgens Lukas 1:36 ook familie van mekaar.

Gevolglik reageer haar seuns met ’n eenparige “ja” wanneer Jesus vir hulle vra of hulle dieselfde beker as Hy sou kon drink. In hul, en die ander dissipels se oordeel, is die beker waarna Jesus verwys een van oor­vloed en vreugde.

Jesus maak dit egter duidelik dat sy koninryk nie soos dié van die wêreld is waarin die heersers gedien word nie (Matt 20:25). Hy het gekom om ander te dien en vir hulle te sterf. Dié dat sy beker een van lyding en dood is.

Anders as konings wat so belangrik was dat hulle losgekoop is wanneer hulle deur hul vyande gevange geneem is, is Jesus ’n koning wat sy lewe gegee het om ander los te koop.

Dit is daarom belangrik om oor die waardes onderliggend aan die koninkryk van God na te dink vanuit die lydensverhaal van die Matteusevangelie en nie vanuit die verstekstellings van ons wêreld nie. Jesus is ’n koning met ’n donkie eerder as ’n strydwa, ’n kroon van dorings eerder as van goud en ’n kruis eerder as ’n troon.

Hy fokus op die armes en ellendiges en nie die elite en selfversekerdes nie. Enige instelling, handeling of uitspraak wat in stryd is met die optrede van Jesus as die lydende kneg is dus nie deel van die koninkryk van God nie.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

So, waar of wat ís die koninkryk?

In Lukas 4:43 verklaar Jesus, nadat die inwoners van Kapernaum Hom wou verhinder om hulle dorp te verlaat, dat Hy ook na ander dorpe moes gaan om die koninkryk van God daar te verkondig. Die insident laat die vraag ontstaan wat die koms van die koninkryk van God in ’n dorp in die praktyk sou beteken?

Die Griekse woord basileia kan verstaan word dat dit of op ’n gebied dui waaroor ’n koning heers, of die aksie van om te heers. Die vraag is dus of Jesus ’n kon­krete dorp, stad, streek of selfs die hele wêreld, wou kom verower sodat God direk daaroor heers. Dat daar met ander woorde ’n verskil is in hoe God in dié gebied sou heers as oor die res van die wêreld in die hede.

Indien dit die geval is, ontstaan die vraag wat gebeur met diegene in die gebied wat nie sy koningsheerskappy aanvaar nie? Indien basileia slegs op die heerskappy van God dui, en dus waar God deur mense as Koning erken word, is die vraag weer hoe ons dit sal herken? Waar kan ons sien en aanvaar dat God regeer, en wie bepaal dit?

Die vrae is nie nuwe vrae nie. Reeds in Lukas 17:20 vra die Fariseërs aan Jesus wanneer kom die koninkryk van God?

Jesus antwoord hulle deur daarop te wys dat dit vir hulle moeilik sal wees om die koninkryk van God uit te wys, want in Hom is dit reeds teenwoordig, en hulle het dit nie herken nie.

Ander uitsprake van Jesus dui op die geheimsinnige aard van die teenwoordigheid van die koninkryk van God (Luk 8:10). So beklemtoon Jesus in die gelykenisse van die mosterdsaadjie (Luk 13:18-19) en suurdeeg (Luk 13:20-21) dat die teenwoordigheid van die koninkryk in die wêreld enersyds maklik is om mis te kyk en andersyds dat die effek daarvan reeds enorm is.

Die paradoksale wyse waarop die koninkryk van God in die hede teenwoordig is, moet ons waarsku daar­teen om te gou alles wat ons doen as “koninkryks­werk” te tipeer. Of om sekere terreine van die samelewing, selfs die kerk, tot die koninkryk van God te verklaar. Dit gebeur immers net te maklik dat ons ons eie wêreldbeeld gelykstel met die koninkryk van God, eerder as met dié van Jesus.

Om na die koninkryk van God te verwys mag dus nie ’n manier wees om ander te manipuleer om met ons sienswyse saam te stem nie. Dit moet ons eerder bedag maak om raak te sien waar God op ’n vreemde, dikwels paradoksale wyse, in die wêreld werksaam is.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Christene keer die wêreld om

Die inbreek van God se koninkryk in die wêreld deur die lewe, dood en opstanding van Jesus het verreikende gevolge gehad vir sy volgelinge.

Só was veral Psalm 110:1 (“Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp”) deurslaggewend vir die vroeë Christene se verstaan van wie Jesus was.

Geen ander Psalm word meermale in die Nuwe Testament aangehaal nie (Matt 22:44, 26:64; Mark 12:36; 14:62; Luk 20:42-20:43; Hand 2:34-35, 7:55-56; Rom 8:34; 1 Kor 15:25; Kol 3:1; Ef 1:20; Heb 1:13; 8:1 en 1 Pet 3:18-22).

Al die geskrifte waarin dit voorkom, is dit eens dat dit die gebeure rondom Jesus verklaar as dat God aan Hom ’n ongekende verhewe ereposisie gegee het. In die Romeinse wêreld waarin aanvaar is dat Caesar die Here is, het Psalm 110 vir hulle bevestig dat Christus regeer.

Die aanklagte teen die Christene in Handelinge 17:6-7 dat hulle die wêreld in opstand bring en handel teen die bevele van die keiser deur te sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus, is dus inderdaad waar.

Die bedreiging wat die koninkryk van God vir die Romeinse Ryk ingehou het, was egter nie dat dit die Romeinse Ryk militêr wou verower om so die mag daarvan te bekom nie. Dit wou die hele begronding daarvan – om met mag en geweld te regeer – omverwerp.

Die wyse waarop dit sou gebeur het egter belangrike implikasies vir hoe Christene hulle geloof moet uitleef in die politieke sfeer.

Eerstens moet onthou word dat Christus en Caesar nie teen mekaar op dieselfde slagveld veg soos gewone opponente nie. Jesus is immers die hemelse, verhewe Here, terwyl Caesar en moderne maghebbers maar tydelike, aardse regeerders is. Hulle veg dus nie in dieselfde liga nie! Daarom kan Christene nie vir Christus veg deur aardse opponente dood te maak of te verneder nie.

Tweedens kom Jesus se koninkryk nie met geweldpleging nie, maar juis deur ’n bereidwilligheid om te dien en te sterf. Dit is die radikale aspek daarvan. Om geweld met geweld te beveg vermeerder net die geweld.

Christene keer egter die wêreld, en die natuurlike werkswyse daarvan, om. Hulle soek geleenthede om te dien eerder as om te domineer.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Die koninkryk kom in twee stappe

In die Nuwe Testament word die koms van die koninkryk van God die eerste keer deur Johannes die Doper bekend gemaak (Matt 3:1-2). Terwyl Johannes die weg vir die koms van die koninkryk voorberei het, is Jesus die een deur wie se woorde en dade die koninkryk van God aanbreek.

Die koms daarvan geskied egter op ’n vreemde, paradoksale wyse. Die verwagting onder die Jode in die tyd van Jesus was dat die koninkryk van God op ’n apokaliptiese wyse sou aanbreek. Apokalipties dui op ’n wêreldbeskouing dat God nie net in die geskiedenis sal ingryp om onreg aan te spreek nie, maar dat Hy eerder sal ingryp om die loop van die geskiedenis self tot ’n einde te bring. So sal ’n nuwe era aanbreek wat ’n radikale breuk verteenwoordig met die huidige, sondige, era. In die nuwe era sal God die ganse skepping herstel.

Volgens die Nuwe Testament is dit egter nie wat met die koms van Jesus gebeur het nie. Die ou era het nie volledig tot ’n einde gekom nie. Trouens, die wêreldgeskiedenis, en die onreg wat dit kenmerk, het oënskynlik ongestoord voortgegaan.

Tog het iets van die nuwe era wel ingebreek in die oue. In die sin is die koninkryk van God sowel ’n teenwoordige as ’n toekomstige werklikheid. So is daar uitsprake van Jesus wat daarop dui dat die koninkryk, naby gekom het (Matt 3:2), terwyl ander weer vir die dissipels oproep om vir die koms daarvan te bid (Matt 6:10).

Anders as die Joodse verwagting dat die Messias in een stap die koninkryk van God sou vestig, getuig die Nuwe Testament dus daarvan dat dit in twee stappe sal geskied. Die eerste stap, wat dit inlei, is die eerste koms van Jesus. Die tweede, wat dit finaal vestig, is die wederkoms van Jesus.

Die implikasie van die twee-stap-vervulling van God se belofte om sy koninkryk te vestig is dat Christene sedert die eerste koms van Jesus in ’n tussentyd leef wat gekenmerk word deur die spanningsveld wat ontstaan het tussen die gedeeltelike vervulling van God se beloftes en die volle realisering daarvan.

In die tussentyd kan Christene enersyds die fout maak om òf te dink niks het met die koms van Christus verander nie òf andersyds te glo dat hulle, of die kerk, reeds die volle realisering daarvan is.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Die koninkryk gaan oor mense en die aarde

Daar bestaan by Nuwe-Testamentici min twyfel daaroor dat die verkondiging van die koninkryk van God ’n wesenlike element van sowel Jesus as die vroeë kerk se verkondiging was.

Daar bestaan egter nie ’n soortgelyke konsensus oor wat presies met dié frase bedoel word nie. Dui dit op ’n fisiese koninkryk soos dié van Dawid wat in ’n spesifieke land of tydvak gelokaliseer kan word? Of is dit eerder ’n innerlike ingesteldheid wat die opperge­sag van God erken sonder dat dit konkreet vorm aanneem in ’n bepaalde plek of instelling?

Dit is moeilik om die vrae klinkklaar te beantwoord. Jesus self praat naamlik op ’n kriptiese en beeld­ryke manier oor die koninkryk van God sonder om die detail daarvan uiteen te sit.

Die presiese uitdrukking “die koninkryk van God” kom ook nie in die Ou Testament voor nie. Die naaste formulering daarin is in 1 Kronieke 28:5 wat van “die koningskap van die Here” praat.

Ondanks die afwesigheid van die presiese term “koninkryk van God” in die Ou Testament verwoord dit volgens Karl Kuhn egter spesifiek Israel se wêreldbeeld en is dit daarom nodig om laasgenoemde te verstaan ten einde Jesus se verwysing na die koninkryk van God te kan begryp.

Volgens Israel se wêreldbeeld is God die koning van Israel asook die heerser oor die ganse heelal. Die belydenis van God se heerskappy oor alles word helder verwoord in Psalms 93, 95 – 99.

Ten tye van die Nuwe Testament was nóg die toestand van die skepping nóg die posisie van Israel egter in lyn met God se wil. So beskryf Genesis 1–11 die ver­val van die skepping terwyl die herhalende patroon van die ongehoorsaamheid van Israel in die narratie­we gedeeltes vertel word. Nie eens die ballingskappe van Israel en Juda kon die patroon deurbreek nie.

Ondanks die toedrag van sake het daar ’n groeiende hoop in Israel se profetiese tradisie (vgl Jer 31:1-14) posgevat dat God self sou ingryp om sowel die skepping as Israel met sy wil te belyn. Volgens Esegiël 36:33-38 sou Israel in ’n Eden omskep word en die volk self in mense met ’n nuwe hart en gees (Eseg 36:25-30). As dit sou gebeur sou die koninkryk van God aanbreek.

Dit is dan ook die hoop wat Jesus in sy woorde en dade aanspreek. Om in die boodskap van Jesus te glo vereis daarom van die kerk om op sowel die vernuwing van mense as die aarde te fokus.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

‘Die koninkryk van God het naby gekom’

In die Evangelie volgens Matteus is die eerste verkondiging van Johannes die Doper (3:2), Jesus (4:17) en die dissipels (10:6) telkens dieselfde: Men­se moet hulleself bekeer want “die koninkryk van God het naby gekom”.

Soos in die ander Evangelies is die uitdrukkings “koninkryk van God” (3 keer), en die wisselvorm “ko­ninkryk van die hemele” wat Matteus meer dikwels ge­bruik (34 keer), van sleutelbelang vir Matteus.

Só gebruik hy verwysings na Jesus se verkondiging van die goeie nuus oor die koninkryk in 4:23 en 9:35 om sy versamelings van Jesus se woorde (Matteus 5 – 7) en dade (Matteus 8 – 9) aan mekaar te verbind. Al­les wat Jesus gesê en gedoen het staan dus vir Matteus in verband met die koninkryk van God.

Presies wat Jesus met die uitdrukking “koninkryk van God/die hemele” bedoel het, is egter onseker. Alhoewel die gedagte van God se heerskappy wel in die Ou Testament voorkom, kom die vaste uitdrukking “koninkryk van God” nie daarin voor nie. Dit wil ook voorkom asof Jesus se hoorders dit meestal nie korrek verstaan het nie.

Talle van Jesus se gelykenisse het byvoorbeeld ten doel om te verhelder wat Hy daarmee bedoel het (bv 18:23-35). Die korrekte reaksie op die koms van die koninkryk van God was belangrik, want nie almal wat Jesus aangeroep het as Here sou outomaties toegang daartoe verkry nie (7:21). Verder het die verkondiging daarvan ’n heftige teenreaksie van die Satan en sy koninkryk ontlok (12:26).

Om as Christen te lewe vra daarom dat gelowiges duidelikheid verkry oor die aard en die spelreëls van Jesus se koninkryk.

Belangrike vrae wat beantwoord moet word, is of God se koninkryk teenwoordig of toekomstig is, of dit net na God se heerskappy verwys en of dit ook ’n gebied in die hede veronderstel waaroor God regeer en wat die verhouding tussen die kerk en die koninkryk van God is.

Wat duidelik is, is dat Jesus se koninkryk ’n vreemde stel waardes veronderstel het wat dié van die wêreld op hulle kop gekeer het. So was die belangrikste mense in God se koninkryk diegene wat bereid was om hulleself soos kinders te verneder (8:1-4) en is die vernames of eerstes, laaste daarin (20:1-16).

Dit is dan ook dié vreemde waardes van die koninkryk van God wat ons in die volgende paar rubrieke gaan verken.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.