Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Openbaring se Kersverhaal

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Anders as die bekende vertellings van Jesus se geboorte in Matteus en Lukas is die Kersverhaal in Openbaring grootliks vergete.

Dit gee egter ’n belangrike perspektief op die betekenis van Kersfees. Terwyl Maria se seun in Matteus deur Herodes bedreig word, en in Lukas deur die Romeinse sensus beïnvloed is, is die bedreiging in Openbaring kosmies van aard. Openbaring 12 vertel van ’n swanger vrou beklee met die son wat deur ’n groot vuurrooi draak bedreig word.

Die draak wou haar seun, wat bestem was om met ’n ystersepter te regeer, verslind met sy geboorte. Die beelde wat Openbaring vir die vrou gebruik dui daarop dat sy nie net met Maria geassosieer moet word nie. Sy verteenwoordig die ganse geloofsgemeenskap waaruit Jesus gebore is. So dui haar vlug na die woestyn vir die simboliese tyd van twaalfhonderd-en-sestig dae op die vervolging van die gelowiges vir wie Johannes skryf.

Waar Lukas vertel van die vreugde en lofprysing wat Jesus se geboorte in die hemel ontlok het, vertel Openbaring van die oorlog wat dit ontketen het. Die draak het dit herken as ’n beslissende oomblik in die heilsgeskiedenis en het daarom gepoog om die kind dood te maak en Migael en die getroue engele te verslaan. Die draak, die slang van weleer wat Duiwel en Satan genoem word, is uiteindelik verslaan en op die aarde uitgegooi. Hier het hy die stryd teen die vrou en haar kind voortgesit. Hulle is egter wonderbaarlik deur God bewaar.

Waar Matteus se Kersverhaal die betekenis van Jesus se geboorte in die Joodse geskiedenis veranker deur sy genealogie (Matt 1:1-17) en Lukas dit saam met die geboorte van Johannes midde-in die politieke magstryd van die wêreld plaas (Luk 3:1-2), gee Openbaring die kosmiese betekenis van Jesus se geboorte. Dit het volgens Johannes die aarde en hemel geskud. Met simboliese taal beklemtoon hy dat die geboorte van Jesus, en die daaropvolgende hemelse oorlog, ’n beslissende wending in die heilsgeskiedenis was. Die draak se toegang tot die hemel is daardeur opgehef. Sy woede sou egter voortaan op die volgelinge van die seun uitgestort word.

Die troos wat Openbaring bied, is dat God hulle sou bewaar tot die voleinding. Kersfees nooi gelowiges dus om saam met die harde stem in die hemel uit te roep: “Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek” (Op 12:10a).

 


Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is ook predikant by die NG Gemeente Oostersee.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.