Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nuwe Testament: Jesus se vriendinne

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die Johannesevangelie bevat twee unieke verhale (11:1-44; 12:1-8) oor Lasarus en sy susters, Maria en Marta.

Daar was ongetwyfeld ’n besondere band tussen Jesus en die sibbe wat digby Jerusalem in Betanië gewoon het. Dit is interessant dat die fokus in die Nuwe Testament op die susters is. Lasarus is byvoorbeeld altyd doodstil. Al is dit deels omdat hy tot aan die einde van die eerste vertelling in Johannes weliswaar dood was, is die fokus op die susters opvallend in ’n patriargale konteks. Lukas 10:38-42 vermeld nie eens dat hulle ’n broer het nie.

LEES OOK | Elders gesien: Bid en help só vir Sirië na reuse-aardbewing

Al word hulle nie dissipels genoem nie, beeld Johannes beide susters as getroue dissipels uit. So bely Marta vir Jesus as die Christus (11:27) met ’n belydenis soortgelyk aan dié van Johannes die Doper (1:34), Andreas (1:41), Natanael (1:49) en Petrus (6:69). Sy is ook aanvanklik die suster wat inisiatief neem deur Jesus tegemoet te gaan met hulle broer se dood terwyl Maria in die huis bly (11:20).

Dit is egter opvallend dat Marta nie altyd die suster is wat gender-stereotipes deurbreek nie. In Lukas 10:38-42 is dit Marta wat Jesus in haar huis bedien, terwyl Maria soos ’n manlike dissipel aan Jesus se voete onderrig ontvang. Hoewel Maria in Johannes 11:32 voor Jesus se voete neerval as sy Hom ontmoet sê sy ook reguit aan Hom dat as Hy vroeër gekom het haar broer nie sou gesterf het nie. Anders as Marta, huil Maria sodanig oor haar broer dat haar trane Jesus ontroer en Hy saam met haar huil (11:33-35). In die tweede verhaal in Johannes is dit Maria wat inisiatief neem.

LEES OOK: Die nie-vaspenbare Teenwoordige

Tydens ete neem sy haar duur parfuum en salf Jesus se voete. Sy vee dit ook met haar hare af. So berei sy Jesus, waarskynlik onwetend, voor vir sy begrafnis. Maria en Marta, Jesus se vriendinne, se verhouding met Jesus het ’n veelkantigheid wat getuig van ’n diepgaande verhouding met Hom.

Volgens Lukas het hulle optrede soms spanning tussen die susters onderling geskep en volgens Johannes met Judas. In elke geval het Jesus in die bres getree vir Maria om vir haar ’n ruimte te skep om haar dissipelskap uit te leef (Luk 10:41-42; Joh 12:7). Dit is immers wat Jesus doen. Hy skep vir almal ruimte.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Nuwe Testament: Jesus se vriendinne”

  1. Die artikel is meer op ideologie as teologie geskoei. Verwysings na patriargale konteks, gender-stereotipes en ruimte skep word in die teks en konteks ingelees en verwring wat die Bybelskrywers ons eintlik wil leer.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.