Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
So aan die begin van ’n nuwe jaar, in die gees van die viering van Epifanie en met die NG Kerk waar ons as kollegas sommer uit die staanspoor weer (steeds) kragtens “klagtes” met en oor mekaar praat, gaan my gedagtes onwillekeurig na die boek Jesaja toe. Wat my oog tydens die lees weer vang, is die vele kere wat die gedagte van “die nuwe/iets nuuts” wat God doen, en hoe God Homself openbaar, daarin voorkom (veral vanaf Jesaja 40 en verder.) Uiteindelik steek my gedagtes by Jesaja 45:15 vas: “Waarlik, U is God wat U verberg, die God van Israel, die Verlosser!”
Die Hebreeuse woord wat hier met “wat U verberg” vertaal word, bied nogal ’n uitdaging aan taalkenners en Ou-Testamentici. In die Hebreeuse teks is daar wel sinonieme vir die betrokke woord. Onderliggend aan die spesifieke woord wat hier vir “verberg” gebruik word, lê daar die gedagte van “sorgsaamheid”. In Jesaja 45:15 het die profeet dus meer as “wegsteek”, “wegkruip” of “weerhou” as sodanig in die oog. Die teks getuig dat die Here se sorg vir mense selfs uit sy selfverberging blyk.
LEES OOK: Die ‘goeie ou dae’ en die heerlikheid van God (Haggai 2:1-9)
Jesaja 45:15 toon die tipiese parallelle sinne van Hebreeuse poësie: “Waarlik, U is God wat U self verberg; / die God van Israel, die Verlosser!”. In die een vers vind ons tegelykertyd ’n belydenis van ’n geborgenheid in God én ’n belydenis van die verborgenheid van God. Voeg hierby dat die uitdrukking “God van Israel” ’n verhouding (God se verbintenis aan ons) uitdruk en ons kan sê dat dié vers getuig dat ons vanuit God se verbintenis met ons, tegelykertyd met nié ten volle ken nié, én geborgenheid leef.
Tog, vir sommige van ons, is God “wat U verberg” oënskynlik net een te veel. Daarom moet diegene wat nie alleen in God se verlossing nie, maar ook in sy selfverborgenheid geborgenheid vind, liefs verban word.
Een van die treffendste titels van ’n boek oor die teologie van die Ou Testament wat ek nog teëgekom het, is dié van Samuel Terrien met die titel The Elusive Presence (1978). ’n Afrikaanse taalkundige uit ’n vorige gemeente het my gehelp om dit in Afrikaans te vertaal met “Die Nie-Vaspenbare Teenwoordige”. In die voorwoord van die boek staan daar in die eerste paragraaf “The Deity of the Hebrew-Christian Scriptures escapes man’s grasp and manipulation, but man is aware of that Deity in such a powerful way that he finds through it a purpose in the universe”.
LEES OOK: Nelis Janse van Rensburg: Seën vir die nuwe jaar
Kan ons nie probeer om vanjaar met meer aandag en minder vooroordele na mekaar te luister nie? Kom ons laat sak ons verdedigingsmeganismes en hoor mekaar in ons wedersydse weerloosheid. My gebed is dat al hoe meer van ons die Here se verlossing, sorgsame verborgenheid én troos in Jesaja 45:15 se getuienis sal raaksien, sodat ons al hoe minder aan die hand van klagtes op mekaar se vrae, nadenke en navorsing sal reageer.
Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG Gemeente Lynnwood.
Iemand het ‘n keer gesê: Skimpe en insinuasies doen dikwels meer kwaad as goed; wees dus reguit maar liefdevol. Fanie Cronje wil met eie vooroordeel en gebrekkige luister ‘n hou inkry teen diegene wat, na sy eie vooropgestelde en veroordelende mening “uit die staanspoor weer (steeds) kragtens ‘klagtes’ met en oor mekaar praat.” Dan praat hy oor God se selfverberging, maar sê niks oor God se selfopenbaring, wat nie deur vrae, nadenke en navorsing in eie geskrifte vasgelê word nie, maar in die Bybel as die Woord van God aan ons gesagvol oorgelewer is. God het Hom nie in Jesus vir ons weggesteek nie, maar Hom juis aan ons kom wys. Miskien moet Cronje nou reguit vir ons sê of die Bybel inderdaad God as ‘n Drie-enige God aan ons bekend maak, of bly Jesus, gegewe sy eie vrae, nadenke en navorsing net vir hom ‘n mens?