Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die ‘goeie ou dae’ en die heerlikheid van God (Haggai 2:1-9)

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die boek Haggai dra die naam van die profeet wie se boodskap daarin opgeteken is. Moontlik beteken die naam “Op ’n feesdag gebore”, maar ons is nie seker nie. Haggai is die tweede kortste boek in die Ou Testament en is die tiende boek in die Dodekapropheton of “Boek van die Twaalf”. Die boek Haggai is vol datums wat dit moontlik maak om die profeet se optrede redelik maklik in die jaar 520 vC te dateer, dws die Persiese tyd.

Dit is alom bekend dat die Perse ’n verdraagsame beleid ten opsigte van oorwonne volke gehandhaaf het. So weet ons uit beide Persiese bronne en Bybelboeke (bv Esra en 2 Kronieke) dat koning Kores reeds met sy oorwinning oor Babel in 539 vC ’n beleid gevolg het waarvolgens onderhorige volke wat in ballingskap was, na hulle onderskeie lande van herkoms kon terugkeer. Hulle is aangemoedig om daar hulle gemeenskap te herbou en hulle godsdienstige sentrums en sosio-kulturele gebruike te herstel. Dit is ingevolge hierdie beleid dat sommige Judeërs uit ballingskap in Babel na Jerusalem en omtrekke teruggekeer het. Alhoewel die beleid nie ruimte gelaat het vir politieke regte en onafhanklikheid nie, was hulle wel ten opsigte van hulle dag-tot-dag lewe vry.

LEES OOK: NUWE TESTAMENT: Om deur ons naaste versorg te word

Serubbabel (die “goewerneur” deur die Perse aangestel) uit die geslag van Dawid en Josua (hoëpriester) uit die geslag van Aäron is saam met die profeet Haggai, sleutelfigure in die boek. In Haggai 2:1-9 gaan dit veral om die herbou van die tweede tempel, wat in die plek van die tempel van Salomo wat in 586 vC deur die Babiloniërs vernietig is, opgerig is.

Die tweede tempel is amper klaar gebou. Die versiering aan die binnekant van die tempel ontbreek nog. ’n Groot deel van die Judeërs is vir die Huttefees in Jerusalem by die terrein van die tempel byeen en die mense sê vir mekaar dat dit nie is soos hulle die goeie ou dae onthou nie (2:3). Dinge by die tempel is nie meer dieselfde nie. Voor die trauma van die ballingskap was dinge darem baie anders, ja, beter as nou hier by die tempel.

Daarby lyk hierdie tweede tempel maar na ’n afskeep geboutjie in vergelyking met die prag en praal van Salomo se tempel. Waar is die imposante argitektuur, goue versiering en duursame tempelgereedskap? wil hulle weet. Dit is nie hoe hulle gehoor of onthou het dinge by die tempel was nie. En omrede dinge nie vir hulle nou meer so weelderig, heilig en vol van God se heerlikheid lyk soos in vroeër tye nie, raak hulle moedeloos, skeep hulle hulle verantwoordelikheid by die tempel af en fokus maar eerder elkeen op hulle eie huis en belange (Hag 1:4).

Hulle onthou 1 Konings 5 – 7 se beskrywing van al die versierings, goudbeslag en blink tempelgereedskap van Salomo se tempel. Hulle kan verstaan dat daardie tempel vol van die Here se heerlikheid was, maar beslis nie hierdie onbeduidende tweede tempel sonder goud, silwer en allerlei duursame versierings nie. Omrede dinge nie meer by die tempeldiens is soos dit in die verlede was nie, meen hulle die Here se heerlikheid en teenwoordigheid is ook nie meer in die tempel nie. Ja, hulle is baie seker – na die ballingskap is daar nie meer hoop vir die tempel nie.

Onder hierdie omstandighede kom Haggai se woorde egter helder en duidelik: “Skep moed”. Ons kan ook vertaal “Staan sterk!” of “Wees dapper!” (2:4). Die grond vir die oproep is die Here van “alle magte” se teenwoordigheid in hulle midde. Die prag en praal by die tempel ontbreek, maar nie God nie! Die God van Israel is steeds die teenwoordige Here. Daarin lê die na-ballingskapse gemeente se troos en bemoediging.

Dit is egter nie leë, goedkoop woorde of “positiewe sielkunde” uit die profeet se mond nie. Nee, die profeet begrond die oproep om moed te hou in Israel se tradisie, in die Here se handelende teenwoordigheid in die verlede. Hiermee word heel spesifieke dinge in herinnering geroep, te wete die uittog uit Egipte, die belofte van die Here se teenwoordigheid tydens die wildernistog en ook God se skeppingswerk in die begin (2:5-6).

Maar dan die verrassende – die Here sorg self vir die heerlikheid van die tweede tempel. Met die bou van die eerste tempel was dit Salomo wat met sy invloed, wysheid en rykdom alliansies met vreemde volke aangegaan het, sodat bydraes vanuit daardie oorde sy tempel met heerlikheid kon vul. Nou, met die tweede tempel, is dit die Here wat die nasies goud en silwer na sy tempel toe laat bring, terwyl die Here self sorg vir die heerlikheid van die tempel (2:7).

Die heerlikheid van die tempel hang nie van ’n koning uit die geslag van Dawid, rykdom, mag en invloed af nie, maar van die Here van “alle magte” se teenwoordigheid. Alles wat kosbaar is op aarde én ook alle mense behoort aan die Here, daarom is alles tot God se beskikking en alle mense instrumente in sy hande (2:7-8). Wanneer gelowiges dit besef, hou hulle op verlang na die “goeie ou dae” en beleef in ons gebrokenheid shalom – dit is volkomenheid, of heelheid (2:9).

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG Gemeente Lynnwood.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.