Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

NUWE TESTAMENT: Om deur ons naaste versorg te word

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In sy studie van die Nuwe Testament se siening van vriendskap, Virtuous friendship, gee Douglas Hume ’n interessante uitleg van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37). Hume lees die gelykenis teen die hedendaagse afname in betekenisvolle vriendskappe om te ontdek wat dit ons oor die aard van vriendskap kan leer.

Sy fokus op die gelykenis is te danke aan die noue band tussen vriendskap en naasteliefde. Hume wys eerstens daarop dat in die bekende gelykenis wat Jesus vertel in antwoord op die vraag van ’n wetskenner (vers 29) oor wie sy naaste is, dit nie soseer die Samaritaan is wat die navolgenswaardige voorbeeld van die gelykenis is nie. Dit is eerder die slagoffer van die rooftog. Om die punt te maak beklemtoon Hume dat die gelykenis gelees moet word in lyn met hoe die wetskenner deur Lukas uitgebeeld word.

Lukas meld naamlik dat hy Jesus wou toets met sy vraag oor hoe om die ewige lewe te kan bekom (vers 25) en dat hy die vraag oor wie sy naaste is gevra het omdat hy homself wou regverdig. Volgens Lukas was die wetsgeleerde ’n arrogante, eiesinnige persoon wat homself wou handhaaf teenoor Jesus. Dit is dié gesindheid wat Jesus met die gelykenis aanspreek. Daarom is dit belangrik om daarop te let dat in die gelykenis dit die Samaritaan is na wie Jesus as die naaste verwys en nie die man wat hy gehelp het nie (vers 37).

Die naaste is die een wat help en nie die een wat gehelp word nie. As die wetskenner dus wil weet wie sy naaste is, beveel Jesus hom om soos die slagoffer wat hulp van ’n Samaritaan aanvaar het te gaan maak. Om te ontdek wie sy naaste is, moet die wetskenner bereid wees om soos die slagoffer te word. Terwyl dit nie verkeerd is om ander te help nie, is die spitspunt van die gelykenis dat ons dikwels soos die wetskenner is.

Ons wil onsself handhaaf deur ander te toets, of selfs te help, maar is onwillig om die hulp van ander te aanvaar. Dit is egter net weerloses, soos die slagoffer in die gelykenis, wat ontdek wie hulle naaste is en sonder die ontdekking is vriendskap onmoontlik. Vriendskap is immers om in ’n wedersydse verhouding van weerloosheid en sorg met ander te staan. Diegene wat glo dat hulle sonder ’n naaste kan leef verbeur egter die kans op vriendskap.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top