Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Dit is welbekend dat die Bybel nie klinkklaar uit die hemel geval het nie. Die verskillende boeke en briewe waaruit dit saamgestel is, is eerder oor eeue deur gelowiges soos Paulus geskryf en deur medewerkers soos Phoebe versprei voordat dit saamgebundel is in ‘n versameling wat ons ken as “Die Bybel”. Dié ontstaansgeskiedenis van die Bybel maak dit des te meer merkwaardig deurdat dit die transformerende krag van die evangelie om mense en hulle omstandighede te vernuwe konkreet illustreer.
LEES OOK: Nuwe Testament | Jesus se lydensweg na ons diepste hoop
So is die Romeinebrief deur ’n voormalige Fariseër en vervolger van die vroeë kerk geskryf. In die brief getuig Paulus van God se genade, bepleit die insluiting van nie-Jode in God se heilsplan en soek ondersteuning om die evangelie so ver weswaarts as Spanje te gaan verkondig (Romeine 15:24). Dit is egter nie net Paulus as onwaarskynlike skrywer wat die transformerende krag van die evangelie beliggaam nie.
Dit word ook beliggaam deur die merkwaardige vrou wat die brief na Rome geneem het. In Romeine 16:1 stel Paulus vir Phoebe voor as ’n dienares (letterlik ’n diaken) van die gemeente in Kenchreë. Hoewel die formele diakenamp, soos wat dit later in die kerk gefunksioneer het, moontlik nog nie volledig gevestig was nie, doen dit geensins afbreek aan Paulus se waardering vir haar as ’n gewaardeerde medewerkster nie. Só erken hy haar as sy “ware weldoener”, wat daarop dui dat sy Paulus se bedieninge finansieel ondersteun het. Die manier waarop hy haar aanbeveel dat die gelowiges in Rome haar “in enige saak moet bystaan” dui verder volgens die briefkonvensies van sy tyd daarop dat Paulus die Romeinebrief aan haar toevertrou het vir aflewering.
LEES OOK: Marius Nel: Só het die kerk die wêreld op sy kop gekeer
Dit is in die sin uiters betekenisvol dat Paulus, ondanks die heersende patriargale samelewing, waarin vroue se bewegings en invloed ingeperk was, juis aan Phoebe sy mees belangrike teologiese brief toevertrou het. In die antieke wêreld het briefbestellers naamlik nie bloot briewe afgelewer nie. Hulle het dit voorgelees as verteenwoordiger van die skrywer. In dié hoedanigheid het hulle vrae beantwoord en onduidelikhede in die brief uitgeklaar. Phoebe is egter nie alleen Paulus se verteenwoordiger en getuie nie. Sy is ten diepste as ’n nie-Joodse vrou die konkrete getuienis van die evangelie se krag om beperkende samelewingskonvensies te vernuwe.
Die ontstaan van die Romeinebrief getuig dus van die transformerende krag van die evangelie om vervolgers en vroue getroue getuies van God se genade te maak.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
