Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Jesus se lydensverhaal in Markus 15 bevat verskeie toespelings na Psalm 22. ’n Toespeling is ’n literêre tegniek waarin ’n skrywer na ’n ander teks verwys sonder om dit uitvoerig aan te haal. Markus se toespelings na Psalm 22 is veral duidelik as dit met die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, vergelyk word. In die Septuaginta is Psalm 22 as Psalm 21 genommer.
Wat opvallend is, is dat die toespelings na Psalm 22 in ’n omgekeerde volgorde deur Markus gerangskik is. Psalm 22, wat aan Dawid toegeskryf word, begin met ’n uitroep van verlatenheid (Ps 22:2). Hierna beskryf die psalmis sy lyding deurdat hy as ’n “bespotting” beskou word (Ps 22:7), en dat diegene wat hom bespot hulle kop skud omdat God magteloos is om hom te red (Ps 22:8-9), terwyl ander die lot werp om sy klere onder mekaar te verdeel (Ps 22:19). Psalm 22 eindig egter op ’n hoogtepunt met die psalmis wat sy vertroue in God uitspreek omdat Hy hom verlos het (Ps 22:19-31).
Lees ook: Nadia Marais | ’n Bonhoeffer-oomblik?
Wanneer Markus egter Jesus se lydensweg weergee begin hy met die uitspreek van sy vertroue in sy Vader se wil (Mark 14:36) voordat hy na Jesus se verhoor vertel van die lot wat gewerp word om sy klere te verdeel (Mark 15:24), sy bespotting deur diegene wat “hulle hoofde skud” (Mark 15:29) en uiteindelik Jesus se uitroep van godsverlatenheid voordat hy sterf (Mark 15:34). Die vaardigheid om tekste in ’n omgekeerde volgorde te kon weergee was deel van die retoriese onderrig van leerlinge in die Grieks-Romeinse wêreld. Die omkering van ’n bekende teks het die funksie gehad om lesers se aandag op ’n belangrike nuwe insig te fokus.
Deur sy omgekeerde toespelings na Psalm 22 help Markus dan ook sy lesers om raak te sien hoedat Jesus, anders as die psalmis wat weg van gevaar na sy eie verlossing beweeg het, eerder vrywillig van vryheid en vertroue na verlatenheid beweeg het om verlossing vir ander te bewerkstellig. Dit verander die hoopvolle strekking van Psalm 22 om die hopeloosheid van Jesus weer te gee. En tog verwoord dit ons diepste hoop. Anders as die geval met Dawid, wat soos water uitgestort is (Ps 22:15), wie se lyding hom net as enkeling geraak het, is Jesus se bloed vir baie uitgegiet as ’n losprys (Mark 10:45) en dit het ons lot omgekeer. Dit is dan ook dié omkering waaraan Markus en die Lydenstyd ons wil herinner.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
Dankie Marius, vir die dieper kyk.