Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer (1906-1945), bekend vir sy verset teen die Nazi-regime van sy tyd, sou byna presies 80 jaar gelede – op 9 April 1945 – in Flössenburg gehang word vir sy rol in ’n komplot teen Adolf Hitler se lewe in 1944. Bonhoeffer se lewe, dood en teologie sou natuurlik ’n belangrike rol speel in Suid-Afrika, sowel voor as na 1994: binne die kerklike stryd teen apartheid voor 1994 en ook in gesprekke oor versoening na 1994.
Lees ook: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek : Die Vrydag vóór Palmsondag
Maar hóé behoort ons ons vandag op Bonhoeffer te beroep? Hoe gedenk ons sy dood – en lewe? Watter aansprake op Bonhoeffer sou legitiem wees – en watter bloot opportunisties, met geen ware belangstelling in sy teologiese en etiese bydraes nie? Aan wie behoort Bonhoeffer?
Bonhoeffer se lewe en dood sou die publieke verbeelding bly aangryp, ook in Amerika. Binne die Amerikaanse politieke landskap sou daar veral oor die afgelope 10 jaar – sedert Donald Trump se verkiesing tot president in 2016 – aansprake gemaak word op die aanbreek van “’n Bonhoeffer-oomblik”.
Joshua Mauldin verduidelik dat aansprake op ’n Bonhoeffer-oomblik geassosieer word met Bonhoeffer se politieke weerstand, maar dat dit op uiteenlopende maniere gebruik word binne die Amerikaanse politieke retoriek. Tipies word ’n nuwe Hitler-figuur geïdentifiseer – wat in die verlede Donald Trump en Hillary Clinton sou insluit – wat teëgestaan moet word, met kwessies wat strek vanaf terrorisme tot aborsie tot selfdegeslagverhoudings wat as ’n soort ‘nuwe holocaust’ voorgehou word.
In die teologiese regverdiging van politieke weerstand in Bonhoeffer se naam word daar dikwels verwys na sy 1933-opstel “The church and the Jewish question”, waarin hy drie moontlikhede uiteensit vir kerklike optrede teen ’n regering: Eerstens om die regering te herinner aan haar verantwoordelikhede, tweedens om die slagoffers van sulke regeringsoptrede te versorg, en derdens om nie net die slagoffers wat onder die wiel van die staat verguis word te versorg nie – maar om die wiel self te gryp.
Laasgenoemde opsie is egter ’n laaste uitweg – en verg dat die kerk oorgaan in direkte politieke optrede teen die staat. Dit is asof Bonhoeffer self aanvoel dat die oproep tot politieke weerstand misbruik sou kon word en huiwer om dit summier voor te stel. Hierdie staan egter in strakke kontras met die gemak waarmee dit deur talle gewilde stemme vandag voorgehou word as ’n opsie om ’n sekere (party-spesifieke) politieke wil af te dwing.
Sowel die Internasionale Bonhoeffervereniging as meer as 80 lede van Bonhoeffer se familie sou hulle afgryse (die eerste twee woorde van hulle ope brief: “Mit Entsetzen”) uitspreek teen die misbruik en verdraaiing van Dietrich Bonhoeffer se erfenis deur regse ekstremiste, vreemdelinghaters, en religieuse opruiers – veral soos vergestalt in Amerikaanse Christelike nasionalisme en stemme soos dié van die verregse radiopersoonlikheid Eric Metaxas.
Die verskriklike moontlikheid bestaan dus nie net dat ons teoloë soos Bonhoeffer – wat hulle beywer het vir vrede, versoening, geregtigheid en die lot van die verdruktes – se naam en erfenis sou kon misbruik om politieke geweld aan te hits en te regverdig nie, maar ook dat ons ’n teoloog soos Bonhoeffer opsetlik sou wou mislees en misverstaan sodat ’n onmoontlike moontlikheid – die oorweging om moord te pleeg – ingespan kan word vir politieke gewin.
Enige ernstige lees van Bonhoeffer sou egter onmoontlik rondom sy Christosentriese interpretasie van die gebeure van sy dag kon kom. So skryf hy byvoorbeeld in die opstel “God’s love and the disintegration of the world”, gedateer na Mei 1942 en waarskynlik bedoel om as inleidende hoofstuk te dien vir sy herwerkte etiek, dat hoewel die etiek besig mag wees met kennis van goed en kwaad, die Christelike etiek besig is en moet wees met kennis van Jesus Christus.
Ons taak is nie om mense en hulle optrede te kategoriseer in goed en kwaad nie – dit is wat die Fariseërs doen, skryf Bonhoeffer, alles met goeie bedoelings en diepgaande teologiese kennis – maar eerder om God en ons medemense lief te hê. God se liefde is die énigste mag wat die disintegrerende kragte aan die werk in die wêreld – magte wat verdeel en verwond en verwoes – kan teenwerk. Deur Jesus Christus te ken leer ons ware liefde ken: ’n liefde wat genees en transformeer, wat versoen, wat geregtigheid laat seëvier, wat dit beywer vir die stemloses en die naamloses en die magteloses en die ongewensdes.
Reeds in 1996, by die Bonhoefferkongres in Kaapstad, waarsku Russel Botman – in sy refleksie oor Bonhoeffer se nalatenskap in Suid-Afrika – dat ons moet leer om die regte stemme te hoor en te volg, want die mees aantreklike stemme, die mees gewilde stemme, behoort dalk juis nie nagevolg te word nie. Hierdie populêre stemme is dalk juis die gevaarlike stemme, die verleidelike stemme, die stemme wat dalk juis nie besig is met Christus of die evangelie nie, en daarom mag ons dalk in hierdie Lydenstyd opnuut moet vra: Luister ons na die regte stemme?
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as leraar gekoppel aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.