Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In sy boek World upside down: Reading Acts in the Graeco-Roman age (2009) wys C Kavin Rowe van Duke Divinity School in die VSA daarop dat ’n uitleg van Handelinge, dat die Christelike geloof geen uitdaging aan die Romeinse Ryk gebied het nie, misplaas is.
LEES OOK | Johan van der Merwe: Afrikaans 100: Die kerk het ook ’n rol te speel
Die aanklag teen die Christene in Handelinge dat hulle die wêreld aan die omkeer was (Handelinge 17:6), was inderdaad korrek. Korrek nie omdat hulle ’n politieke stryd teen Rome wou voer nie, maar omdat hulle geloof in Jesus uiteindelik alle sfere van die Romeinse wêreld sou transformeer.
Dié transformasie is een van die mees ingrypende in die geskiedenis. Die Romeinse staat het immers op beginsels gefunksioneer wat wesenlik verskil van moderne demokrasieë s’n. Die Romeinse belastingstelsel was byvoorbeeld grotendeels afhanklik wat inkomste betref van oorlogsbuit en heffings van verowerde gebiede. Die invordering van belastings is verder uitgekontrakteer aan privaat invorderaars (publicani in Rome en tollenaars in Israel).
LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 2): die Sabbat
Hulle kon merendeels self die belastingkoers wat hulle gehef het vasstel. In teenstelling hiermee maak hedendaagse state gebruik van professionele staatsamptenare om gesofistikeerde belastingstelsels te administreer. Die Romeine het verder ’n rigiede sosiale hiërargie in stand gehou wat die mag van ’n klein groep burgers beskerm het. Slawerny is as ’n gegewe aanvaar en vroueregte drasties beperk.
Danksy die suurdeeg van die Christelike oortuiging oor eeue dat alle mense na die beeld van God geskape is, handhaaf moderne demokrasieë die beginsel van universele menswaardigheid. Anders as die geval met die Romeinse Ryk word diegene wat weerloos is, versorg. Die uitbreiding van openbare dienste oor tyd wat deur die staat bestuur word, is ewe opvallend. Hoewel Rome infrastruktuur soos paaie en akwadukte verskaf het en beperkte graanrantsoene in die hoofstad aan armes versprei het, het dit nie soos moderne state dienste soos universele onderwys, gesondheidsorg en maatskaplike sekerheid gelewer nie. Die kerk het hier die weg gebaan deur die eerste georganiseerde onderwysinstellings en gesondheidsorgfasiliteite te vestig wat later deur die staat oorgeneem is. Die kerk het dus inderdaad die wêreld op sy kop gekeer.
LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 1): die mens
Dié rol van die kerk was egter nie altyd vernuwend of positief nie. So het die kerk dikwels met monargieë saamgespan om die gesag van konings te beskerm teen demokratiese bewegings. Dit is vanweë die risiko om haar roeping te versaak dat die kerk altyd geanker moet bly in die waardes wat deur Jesus verkondig is om te verhoed dat sy meegesleur word deur allerlei politieke stromings.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is die assessor van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk.