Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
ʼn Mens hoor dikwels van frustrasie onder gewone gelowiges oor die kerk wat soms sukkel om uit een stem te praat. Die beste voorbeeld uit die NG Kerk se geskiedenis is ons verandering van standpunt oor apartheid, skryf Sias Meyer.
Vir dekades het ons apartheid ondersteun en toe swaai ons genadiglik om. ʼn Goeie voorbeeld uit die algemene kerkgeskiedenis is die kerk se ondersteuning van slawerny, iets wat eers ongeveer 200 jaar gelede verander het. Dan dink baie Christene, maar hoe kan die kerk dan met verskillende stemme praat, as die Bybel so duidelik is? Maar praat die Bybel altyd met een stem? Is die Bybel altyd so duidelik? Kom ons begin by die begin. Die eerste skeppingsverhaal beskryf die skepping van die mens as volg (2020 vertaling):
En God het gesê: “Laat ons die mens maak na ons beeld, om soos ons te lyk en hulle kan oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en alles wat kruip op die aarde regeer.” God het die mens geskep, in sy beeld, as beeld van God het hy hom geskep. Manlik en vroulik het hy hulle geskep (Gen 1:26-27).
LEES OOK | Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 2): die Sabbat
Ons almal ken hierdie verhaal baie goed en dit wat hier beskryf word, gebeur op die sesde dag. God dink uiteindelik dat dit baie goed is, maar dan word ons in Genesis 2 en 3 aan die tuinverhaal voorgestel. Ons almal ken hierdie verhaal ook goed, met ʼn baie slim slang wat dinge kom deurmekaarkrap. Aan die einde van Genesis 3 sê God die volgende oor die mense (2020 vertaling):
Die Here God het gesê: “Kyk die mens het soos een van ons geword deur goed en sleg te ken. En nou? Sê nou maar net hy steek sy hand uit en neem van die boom van die lewe, en eet, en leef vir ewig?” (Gen 3:22).
LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 3): slawe
Hoor julle die spanning? In Genesis 1 was dit die plan om mense soos God te maak, maar hier aan die einde van Genesis 3 klink dit of dit per ongeluk gebeur het toe die mense ongehoorsaam was. Hoe moet ons dit verstaan? Is dit nou ʼn goeie of ʼn slegte ding dat die mens soos God is? Is dit beplan of was dit per ongeluk? Hoekom begin ons Bybel met twee sulke uiteenlopende standpunte? Dalk probeer die teks sê dat albei waar kan wees. Ja die feit dat ons soos God is, gee aan alle mense waarde. Maar soms is dit deel van die mensdom se probleem, dat ons te veel soos God (wil) word en dan ʼn gevaar vir onsself inhou. As die kerk sukkel om uit een stem te praat is sy ten minste in goeie geselskap – dié van die Bybelskrywers.
Prof Sias Meyer is ’n professor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte aan die Universiteit van Pretoria en ’n lidmaat van NG Gemeente Suidoos-Pretoria (Stellastraat).