Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

DINKSTOF | Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 3): slawe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die kerk het deur die jare al baie foute gemaak en in die kerkgeskiedenis is daar baie donker episodes. ʼn Mens dink dalk heel eerste aan die kruistogte, maar ʼn ander donker deel van die kerk se storie is slawerny, skryf Sias Meyer. 

 

Ons almal het al van William Wilberforce gehoor en dit is altyd die moeite werd om sy storie weer te gaan oplees. In die Kaap is slawerny finaal op 1 Desember 1838 beëindig en in Suid-Afrika het dit ʼn rol gespeel in die Groot Trek. In die VSA het die kwessie tot ʼn burgeroorlog gelei. Daar was duidelik baie weerstand teen die afskaffing van slawerny. Maar hoe is dit moontlik dat die kerk 1 800 jaar nodig gehad het om te verstaan dat slawerny verkeerd is?

LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 2): die Sabbat

Deel van die probleem is dat die Bybel slawerny legitimeer. Behalwe vir die Sabbatgebod in die Tien Gebooie, is daar ander tekste in die Pentateug wat spesifiek aandag gee aan slawe. Twee sulke tekste is Eksodus 21:2-6 en Deuteronomium 15:12-18. Robert Carroll, Ierse Ou-Testamentikus, het al daarop gewys dat Eksodus se slawewet ten hemele skreeu. In die eerste helfte van Eksodus het ons die ongelooflike verhaal meegemaak van bevryding uit Egipte, die huis van slawerny. Dan begin Eksodus 21:2 met “Wanneer jy ʼn Hebreeuse slaaf koop …” Wat? Hulle is dan nou net uit slawerny bevry en nou koop en verkoop hulle mekaar! Die res van die perikoop help ook nie, want daar lees ons dat so ʼn Hebreeuse slaaf net vir ses jaar by jou mag werk en dan moet jy hom laat gaan in die sewende jaar. Maar as sy eienaar vir hom ʼn vrou gegee het en hy kry kinders by haar, dan moet hy kies tussen sy familie en vryheid. Dit klink wreed en van die lot van volwasse vroulike slawe hoor ons niks.

LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 1): die mens

Deuteronomium 15:12-18 lees anders. Die teks is duidelik dat dieselfde reëls vir mans en vrouens geld. In die sewende jaar moet die slaaf ook vrygelaat word, maar nou mag hy nie met leë hande weggaan nie. Die eienaar moet vir hom ruim voorsien uit sy kleinvee, dorsvloer en wynpers. As die eienaar dalk dink om die slaaf hierdie ruim geskenk te ontsê, herinner vers 15 hom daaraan dat ook hy ʼn slaaf in Egipte was. As hy die slaaf sy vryheid ontsê, herinner vers 18 hom daaraan dat die slaaf vir ses jaar vir hom gewerk het en dat die Here hom sal seën. Deuteronomium probeer duidelik om empatie by die eienaar op te wek vir sy slaaf, maar verander nie die stelsel van slawerny nie.

Tog is dit duidelik dat Deuteronomium met sy soeke na empatie ʼn tree verder is van Eksodus 21 en ʼn tree nader is aan ons wêreld waar slawerny verag word. Maar die geskiedenis het geleer dat daar nog ʼn lang pad was van Deuteronomium tot by Wilberforce.

  • Prof Sias Meyer is ’n professor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte aan die Universiteit van Pretoria en ’n lidmaat van NG Gemeente Suidoos-Pretoria (Stellastraat).
No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.