Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In die Ou Testament is daar twee weergawes van die Tien Gebooie. Die eerste een kry ons in Eksodus 20, kort nadat Israel by die berg Sinai aangekom het. Die tweede een vind ons in Deuteronomium 5 en dit is deel van Moses se lang toespraak oorkant die Jordaan waar baie van die verhale en die wette van die voorafgaande boeke herhaal word. Sias Meyer vertel meer.
Beide tekste het basies dieselfde tien wette waarvan agt gaan oor dinge wat ʼn mens nie moet doen nie en twee oor dit wat ons wel moet doen. Een van hierdie positiewe gebooie is die Sabbatgebod. Hierdie gebod is een van twee waar daar belangrike verskille tussen Eksodus en Deuteronomium is. Daar is kleiner verskille in die gebooie self. In Eksodus is daar ʼn klem op gedenk en onthou. Vir Deuteronomium gaan dit meer oor onderhou, maar dit is klein verskille in bewoording. Die groot verskil lê in die motivering vir die Sabbatgebod. Hoekom moet ʼn mens die Sabbat eerbiedig?
LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 1): die mens
Vir Eksodus 20:11 is die antwoord op die vraag eenvoudig: God het op die sewende dag gerus, daarom moet die mens rus! Eksodus verwys dus na die eerste skeppingsverhaal en vir Eksodus rus ons omdat die beginsel in die skepping ingebak is. Deur te rus maak ons ons Skepper na. Onthou ons is in sy beeld en gelykenis gemaak. As Hy moes rus, dan moet ons ook rus.
Deuteronomium 5:14 herhaal tot ʼn groot mate Eksodus 20:10 en lys almal wat op die dag moet rus soos jou kinders, jou slaaf en slavin, jou bees, jou donkie, enige ander dier en die vreemdeling by jou. Hierdie twee lyste is basies dieselfde met ʼn klein verskilletjie hier en daar. Wat Deuteronomium egter anders maak is dat dit nie soos Eksodus ʼn motivering bysit nie, maar eerder die doel van die Sabbat uitstippel. Wat is die doel? “Sodat jou slaaf en jou slavin kan rus soos jy.” Deuteronomium praat dus twee maal van slawe en slavinne en hierin hoor ʼn mens ʼn ander verstaan van die Sabbat. Die doel van die Sabbat is vir alle mense om gelyk te wees. Op daardie dag rus almal en mag geen mens ʼn ander uitbuit nie. Of ander gestel: mag geen mens oor ʼn ander baasspeel nie.
LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament (Deel 3): slawe
Die skrywers van Deuteronomium het duidelik gedink dat eienaars van slawe dalk nie so entoesiasties sou wees daaroor om hulle slawe te laat rus nie. Daarom word hulle in vers 15 herinner dat ook hulle eenmaal slawe was in Egipte en dat God hulle gered het. Die skrywer van Deuteronomium hoop dat hierdie herinnering dalk tot empatie sal lei by die slawe-eienaars. As gereformeerdes sal ons dit dalk ietwat anders verwoord: “God was ons genadig, waarom kan ons nie ander genadig wees nie?” Dit beteken dat beide tekste ons aanmoedig om God na te volg. In Eksodus moet ons rus soos Hy gerus het. In Deuteronomium moet ons medelye hê met ander soos Hy met ons gehad het.
Prof Sias Meyer is ’n professor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte aan die Universiteit van Pretoria en ’n lidmaat van NG Gemeente Suidoos-Pretoria (Stellastraat).