Op 8 Mei 1925 is Artikel 137 van die Konstitusie van die Unie van Suid-Afrika deur ’n gesamentlike sitting van die Senaat en die Volksraad gewysig. Afrikaans het daarmee naas Engels ’n amptelike landstaal geword. Hierdie gebeure word ’n eeu later in Mei 2025 onder die vaandel van Afrikaans 100 feestelik herdenk. Die groot vraag is of die die NG Kerk hiervan moet deel wees.
Twee belangrike bakens op die pad van die NG Kerk help om hierdie vraag te beantwoord.
- Die eerste baken was die aanvaarding van Afrikaans as kanseltaal. Hierin het die Vrystaatse sinode leiding geneem toe daar in 1916 besluit is om Afrikaans naas Nederlands as “officiële taalvorm op die kansel en elders” te erken. Kort op die Vrystaat se hakke het die Transvaalse sinode ook in 1916 met 52 stemme teenoor 31 besluit: “Dat de tijd gekommen is om Afrikaans als officiële taal van onze Kerk te erkennen.” Nadat die Natalse sinode die gebruik van Afrikaans in 1919 goedgekeur het, was die saak ook in 1919 voor die Kaapse sinode. Aan die einde van ’n debat van drie dae is daar met 199 teen 74 stemme ten gunste van Afrikaans in die kerk besluit. Die vergadering het egter ook besluit om die gebruik van Afrikaans as kanseltaal “aan de oordeel van elken Kerkenraad oor te laten.” Hierdie besluit sou tot die dramatiese kerkskeuring op Graaff-Reinet lei.
- ’n Tweede baken wat die geskiedenis van Afrikaans bepalend beïnvloed het, was die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Nadat die eerste Bybelvertalingskommissie in 1916 deur die Vrystaatse sinode benoem is, het ’n lang en uitgerekte proses met baie teenstand gevolg. Die eerste proefuitgawe van die Vier Evangelies en die Psalms het in 1922 verskyn en belangstelling was so oorweldigend dat 70 000 eksemplare verkoop is. In 1931 is die vertaling van die hele Bybel voltooi en vir drukwerk aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap oorhandig. Op 29 Mei 1933 het die eerste besending Afrikaanse Bybels met die Carnarvon Castle in Kaapstad aangekom en op 27 Augustus 1933 is die Afrikaanse Bybel amptelik in gebruik geneem.
Hierdie bakens wys duidelik hoe die geskiedenis van die NG Kerk en die geskiedenis van Afrikaans verweef is. Afrikaans is die taal waarin die NG Kerk vir meer as ’n eeu reeds die evangelie verkondig. Dit is die taal waarin lidmate bid, sing en hulle Bybel lees. Dit is die taal waarin hulle mekaar help en moed inpraat. Miskien is dit genoeg rede waarom die NG Kerk ook ’n rol te speel het in Afrikaans 100.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.