Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In sy Pauline theology as a way of life ondersoek die Amerikaanse teoloog Joshua Jipp Paulus se siening van die goeie lewe.
In dié verband sluit hy aan by hedendaagse studies oor wat ons lewe gelukkig, vervuld en sinvol maak. Oftewel goed maak. Jipp is spesifiek geïnteresseerd in hoe Paulus se beskouing van die goeie lewe van antieke Griekse filosowe en die hedendaagse veld van positiewe sielkunde verskil.
Hy wys daarop dat die verskillende Griekse filosofiese skole elkeen ’n spesifieke norm geïdentifiseer het wat mense se welstand bepaal het. Vir die Stoïsyne was die goeie lewe om altyd rasioneel te wees, vir die Epikureërs die belewing van genot, en volgens Sokrates en Aristoteles die uitleef van bepaalde deugde. Wat opvallend is, is dat elkeen van dié beskouings hulle norm vir ’n goeie lewe in die natuurlike orde van die wêreld vind. Die orde kon kultureel bepaal gewees het of van die natuur afgelei.
LEES OOK: Die fees van die ongenooides: Genesing as teken van die koninkryk, nie voorwaarde vir toegang
In teenstelling hiermee is die norm vir die goeie lewe volgens Paulus gelowiges se deelname aan die lewe van God deur Christus en die gawe van die Gees. Vir Paulus lê die geheim van ’n goeie lewe daarom in die persoon van Jesus Christus en nie bloot in voorspoed, deugde, goeie verhoudings of self geestelike dissipline nie. Volgens Paulus openbaar Jesus sowel ware goddelikheid as menslikheid en daarom is die hoogste goed deelname aan Christus se lewe en dood. Hy stel gelowiges uiteindelik ook in staat stel om in God se lewe te deel.
Die norm vir ’n goeie lewe is dus nie in die natuurlike orde te vind nie maar in die wese van God. Gelowiges se deelname aan God is vir Paulus nie net ’n toekomstige moontlikheid nie. Dit begin reeds in die hede deur die transformasie van gelowiges se denke deur die Heilige Gees sodat hulle in staat is om op ’n manier te leef wat God se guns geniet.
In ’n getransformeerde lewe is hulle liefde vir die liggaam van Christus deurslaggewend. Net soos die antieke filosowe en hedendaagse positiewe sielkundiges beskou Paulus verhoudings as deurslaggewend vir menslike welwese.
Ons welwese is vir hom onmiskenbaar ’n gemeenskaplike belewenis wat ons saam met ander beleef danksy ons gedeelde identiteit in Christus. Om dié rede is ’n goeie lewe een wat bestaan uit betrokkenheid by ander, die deel van hulpbronne met mekaar en die gesamentlike aanbidding van God. Geloofsgemeenskappe, soos gemeentes, is daarom in wese God se kweekhuise vir wellewende mense.
- Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk.
