Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die koninkryk van God is anders as dié van die wêreld. Die vreemdheid van die koninkryk word veral duidelik wanneer die gelykenisse van Jesus van nader beskou word.
In haar studie The poor, the crippled, the blind, and the lame het die Australiese teoloog Louise Gosbell die gelykenis van die groot feesmaal (Luk 14:15-24) vanuit ’n nuwe perspektief beskou.
LEES OOK: So verskil Jesus se leefwêreld van ons s’n – Marius Nel
Die tradisionele uitleg van die gelykenis is dat Lukas dit benut om die insluiting van heidense Christene in die kerk te regverdig. Volgens dié uitleg is die maaltyd waarna Jesus verwys ’n beeld vir die messiaanse era wat Hy ingelui het, en is die “armes, kreupeles, verlamdes en blindes” ’n metaforiese verwysing na heidene. Hulle verwelkoming in God se koninkryk geskied volgens dié verstaan na aanleiding van Israel se verwerping van Jesus.
Gosbell wys egter daarop dat dieselfde verwysing na “die armes, kreupeles, verlamdes en blindes” in die voorafgaande gedeelte (14:13) ’n letterlike beskrywing is van diegene wat nie op die gebruiklike gastelys van feesmaaltye was nie. Al het Lukas beslis die sending na die heidene ondersteun, het hy volgens haar egter dieselfde, letterlike verstaan gehad van diegene wat uitgenooi is na die groot feesmaal in die gelykenis wat Jesus vertel.
LEES OOK | Marius Nel: Die eenvoud van geloof
Lukas wou naamlik beklemtoon dat, anders as met Grieks-Romeinse feesmale wat diegene wat gestremd of arm was uitgesluit het, Jesus vir hulle in sy messiaanse feesmaal verwelkom het. Dié letterlike verstaan van Jesus se onverwagte gaste as diegene met fisiese uitdagings eerder as heidene, is volgens Gosbell uiters belangrik vir die kerk om raak te lees.
Die metaforiese lees van kreupeles, verlamdes en blindes kan naamlik die indruk skep vir diegene wat tans fisiese uitdagings het dat hulle waarde vir Jesus bloot is as illustrasie van diegene wat gemarginaliseer is, of as bewyse van sy krag as hulle genees word. Terwyl Jesus wel verlamdes en blindes genees het, word hulle in Lukas 14:15-24 verwelkom soos wat hulle is. Waar hulle in die wêreld van Jesus uitgesluit was van feeste en die gemeenskap was hulle, die ongenooides, welkom aan sy tafel. Nie net indien hulle eers genees was nie maar soos wat hulle was.
Genesing en herstel is naamlik tekens van die koms van God se koninkryk en nie voorwaardes vir toegang daartoe nie.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.