Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Marius Nel: Die eenvoud van geloof

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die Amerikaanse Nuwe-Testamentikus, Frederick Dale Bruner (reeds goed op pad na sy 92ste verjaardag!), maak in sy Romeinekommentaar ’n insiggewende opmerking oor hoe ons as gelowiges God se geregtigheid ontvang.

Hy wys daarop dat Paulus in Romeine 1:17 verklaar dat die goeie nuus oor die herstel van ons verhouding met God eenvoudig deur geloof ontvang kan word.

Bruner gebruik doelbewus die woord “eenvoudig” om die verbasende wyse waarop verlossing na ons kom te belig. Paulus skryf dat hy hom nie skaam oor die evangelie nie want “die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof” (OAV) of soos die 2020-vertaling dit stel omdat “die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus.” Dit is die goeie nuus, of te wel die evangelie. Ons word enkel deur geloof gered omdat ons God se geregtigheid daardeur ontvang. Ons word nie gered deurdat ons alles van God verstaan nie, of ’n reeks onmoontlike take verrig nie. Ons word regverdig deur ons geloof in Jesus.

Om te glo is die eenvoudigste van menslike reaksies. In wese is om te glo naamlik om te vertrou. Daarom kan enige persoon ondanks hulle herkoms of vermoë volgens Paulus glo. Kinders en bejaardes, invloedrykes en geringes het almal die vermoë om te kan vertrou. Dit is trouens in werklikheid makliker vir kinders wat volledig van hulle ouers se sorg afhanklik is om te vertrou. Hulle leef immers daagliks uit hulle vertroue op hulle ouers. Daarom stel hulle as die geringstes die standaard vir hoe om die koninkryk van God te ontvang in Matteus 18:3.

Ons ontvang God se geregtigheid nie bloot omdat ons geen keuse het as om op ander te vertrou nie. Ons ontvang dit deur ons vertroue spesifiek in Jesus te stel. Om te glo is vir Paulus om te vertrou op dit wat God deur Jesus gedoen het. Dit is Jesus wat gely het, drie dae in die graf was en wat opgestaan het uit die dood. Dit is Jesus, en nie ons nie, wat sy lewe as ’n versoeningsoffer gegee het (Rom 3:21-26).

Lydenstyd is die tyd van die kerklike jaar wat ons uitdaag oor waarin ons ons vertroue plaas. Is dit in wat ons self kan verrig of ontbeer? Of is dit in die lydensweg wat Jesus namens ons begaan het. Die herinnering aan die lyding van Jesus in Lydenstyd vra van ons die eenvoudigste menslike handeling. Om daarop te vertrou.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.