Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

So verskil Jesus se leefwêreld van ons s’n – Marius Nel


Die leefwêreld van Jesus en sy volgelinge het in baie opsigte van ons s’n verskil. Een manier om bewus te raak van die verskille is om soos Mona LaFosse van die Universiteit van Toronto in Kanada antieke demografiese bronne noukeurig te ontleed.

LEES OOK: Marius Nel: Die eenvoud van geloof

Mense het korter geleef in Jesus se tyd

So beskik ons oor Romeinse sensusdata vervat in papirusse asook talle begrafnisinskripsies uit die tyd van Jesus. Haar studie wys daarop dat terwyl ons vandag meestal die dood assosieer met veroudering, babas in die tyd van Jesus eerder met die dood geassosieer is. Ongeveer ’n vyfde van hulle het naamlik gesterf voor hulle vyf kon word. Kindersterftes was algemeen. As persone wel hulle kinderjare oorleef het, het hulle nie verwag om jonk te sterf nie. Gemiddeld het 39 uit 100 mense dan ook die ouderdom van 60 bereik. Hierna het hulle lewensverwagting egter weer vinnig afgeneem sodat minder as ’n tiende van die bevolking van die Romeinse Ryk ouer as 60 was.

LEES OOK: Marius Nel: Die gelykenis van die betroubare herbergier

Meer mag skuil agter ‘ongeveer dertig’

Dié demografiese blik help ons om die inligting oor Jesus waaroor ons beskik beter te verstaan. Lukas 3:23 se voorstelling van Jesus as ‘ongeveer dertig’ met die aanvang van sy openbare bediening mag byvoorbeeld meer wees as ’n stelling van Jesus se werklike ouderdom. Dertig was naamlik die ouderdom wat die Romeine as die begin van volwasse mans se selfstandige lewe beskou het. Lukas kon dus met sy verwysing na Jesus se ouderdom vir sy lesers daarop wys dat Hy nie meer verantwoordelikhede teenoor sy ouerhuis gehad het nie. Josef was reeds oorlede met die aanvang van Jesus se openbare optrede. Teen 40 het slegs ongeveer 10% van mans nog ’n pa gehad en omtrent 25% ’n ma.

LEES OOK | Beide is belangrik: Die evangelie van en oor Jesus

Jesus se lewe van ontbering

Jesus het naamlik in ’n tyd geleef waarin lewensverwagting en die duur van verhoudings aansienlik korter was as waaraan ons gewoond is. Op 25-jarige ouderdom was 92% van vroue getroud maar teen 50 sou 40% van hulle reeds weduwees wees. Vir baie was die antieke lewe hard en brutaal. Dit was ook die geval met Jesus wat sonder ’n tuiste van sy eie was. ’n Lewe van ontbering en weerstand het duidelik ’n tol van Jesus geëis. So dink die Jode in Johannes 8:57 dat Hy nader aan die ouderdom van 50 as 30 was.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.