Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die uitleg van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in Lukas 10:25-37 is amper oorbekend. Die Samaritaan wat onverwags barmhartigheid betoon aan ’n Jood staan in skrille kontras met ’n Leviet en die priester wat sy nood systap. Terwyl dié uitleg sekerlik korrek is, is daar volgens Bruce Longenecker, Nuwe-Testamentikus van Baylor, Texas in die VSA, nog ’n aspek in die gelykenis wat ons aandag vra.
Die gelykenis eindig naamlik nie met die noodhulp wat die Samaritaan verleen nie. Dit vertel ook van die gebeure van die daaropvolgende dag toe die Samaritaan die hulp van ’n herbergier ingekoop het. Die herbergier word egter meestal deur predikers onvermeld gelaat. Volgens Longenecker moet ons ook let op sy belangrike ondersteuningsrol.
LEES OOK: Cas Wepener: Kersfees en ’n Ma se Mahala
Nie alleen moes hy die versorging van die man voortsit nie, maar het hy ook veel gehad om te verloor deur dit te doen. Die aanvallers kon terugkeer om hulle slagoffer en sy helpers stil te maak, gaste kon kla oor die gekerm van die verwonde man en die Samaritaan kon versuim het om in te staan vir die verdere kostes soos deur hom onderneem.
Ons moet ook let op hoe negatief Lukas se tydgenote herbergiers bejeën het. So is hulle dikwels beskuldig dat hulle hulle wyn verwater, mensevleis opdis en ander dienste verskaf as net slaapplek. Sowel die uitbeelding van die Samaritaan as barmhartig en die herbergier as betroubaar sou vir Jesus se tydgenote verrassend gewees het.
Lukas beklemtoon egter telkens die positiewe effek van die koninkryk van God se koms op sosiale randfigure. Hy gee dus naas twee voorbeelde van hoe om nie soos ’n naaste op te tree nie (die priester en Leviet) ook twee voorbeelde (die Samaritaan en herbergier) van hoe om dit wel te doen. Vir Lukas is genade en barmhartigheid aansteeklik – vandaar Jesus se oproep aan die wetskenner aan wie Hy die gelykenis vertel om te gaan maak soos die Samaritaan (vers 37). In die gelykenis self is die herbergier die eerste een wat maak soos die Samaritaan. Deur sy optrede word sy herberg ’n hospitaal en die Samaritaan se noodhulp ’n volgehoue proses van versorging. In die gelykenis is dit nie net individue wat verander nie. Instellings soos herberge verander ook.
LEES OOK: Tamaaie Kersbome oortrek met wollappies skyn lig van hoop en vreugde
Die koninkryk van God dring ons nie net om barmhartige Samaritane te wees wat spontaan maar lukraak hulp verleen nie. Dit dring ons om betroubare herbergiers te wees wat deurlopend die instellings van ons land instandhou as instrumente van God se genade. Gemeentes, hospitale, skole, munisipaliteite en vele ander instellings vra om betroubare herbergiers deur wie die lewe wat God beloof aanbreek.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
Dankie Marius. vars nuwe perspektief. só aktueel vir ons konteks